Gebou om te hou

2009 Toyota Land Cruiser 70 LX 4.2

Dié demonstrasiemodel Toyota Land Cruiser 70 LX was reeds betreklik goed toegerus toe Hans von Gordon van Port Elizabeth hom aanskaf. Die Land Cruiser was maar ’n jaar oud toe ek hom in 2010 by ’n handelaar in Kaapstad gekoop het. Hulle het hom as ’n demonstrasiemodel gebruik en hy het maar 2 500 km op die klok gehad.

Hy was reeds toegerus met ’n ARB-bosbreker, ingeboude kompressor, laaistelsel en Old Man Emu-vering. Hy het ook ’n Front Runner-sleephaak, Escape Gear-sitplekoortreksels, ’n dubbelbatterystelsel, én ’n langafstanddieseltenk, wat beteken hy sluk altesame 165 l.

As jy my vra, was die R399 000 wat ek vir hom betaal het, baie billik, veral as jy al die toerusting en die lae kilometers in ag neem.

Ek het agterna ook ’n Ironman-4x4-snorkel en 12 000 pond-wenas laat aanbring.

Ek en my vrou, Erina, het al heelwat reise deur Afrika geniet in ons Land Cruiser, wat ons “The Truck” gedoop het. Ons was al in Botswana, die Caprivi, Kaokoland, die Skedelkus, Zambië, Malawi, Mosambiek en Swaziland.

Die een reis wat ons lank sal onthou, was ’n selfrytoer van 36 dae deur die Serengeti saam met Eco 4x4 Safari. Ons was in ’n konvooi van 10 voertuie en ons Cruiser het ’n allemintige 14 800 km afgelê.

Ek beveel die Serengeti ten sterkste aan vir enige avontuurlustiges. In 2019 het ek ons ou Jurgens Xcape met ’n Sprite Swing-padwa vervang, want op ons ouderdom kon ons al daardie avonture op die grondpaaie aan ons lyf begin voel.

Die Cruiser is nie goed vir ’n mens se begroting as dit by brandstof kom nie: Hy gee my 14-16 l/100 km as ek net elke dag heen en weer ry. Dit styg egter vinnig tot by 20 l/100 km wanneer ek 4x4 haak of ’n wa sleep. Ek kan egter met trots sê daar is nie ’n méér betroubare ryding as ’n Cruiser nie.

Hy word regtig vir Afrika gemaak en ’n mens kry maklik onderdele en dienssentrums enige plek op die vasteland. Daarom is ek bereid om die feit oor te sien dat hy 11 l olie moet kry elke keer as hy gediens word.

Buiten The Truck se veldryvermoë is hy heel gewillig met ’n wa op die haak, ongeag watter spoed ek sleep. Ek het ook al geleer wanneer jy stadig sleep op ’n slegte grondpad, is dit beter om stil te hou en die laestrekratte te haak. Ja, dit vreet dalk meer aan jou bande, maar daardie ekstra krag – en die feit dat jy selfs in vierde rat kan sleep pleks van tweede – vergoed dubbel en dwars daarvoor.

Ranger-kwadraat

2014 Ford Ranger en 2019 Ford Ranger

Ná vyf foutlose en kommervrye jare in hulle Ford Ranger het Dirk en Nadia Crafford van Kleinmond besluit om hom met ’n ontrimpelde model te vervang.

Ons het in 2014, nadat ons afgetree het, besluit om te begin kamp. Ons het reeds ’n 2014-model Ford Ranger 2.2 gehad en die eerste jaar sommer by vriende tente geleen om te gaan kamp – tot ons besluit het dis tyd om in ons eie, effens standvastiger, kampgoed te belê.

Ons het ’n Jurgens Oryx op Mosselbaai gesien en op ’n Woensdag soontoe gery om hom te gaan haal. Teen die volgende Vrydag was ons gereed vir ons eerste reis na die Kgalagadi en Namibië.

Die Ford en Jurgens het hulle albei uitstekend van hulle taak gekwyt, en natuurlik is die groot voordeel van ’n dubbelkajuitbakkie al daardie pakplek vir goed wat nie in die wa pas nie.

In 2019 het ons besluit om op te gradeer en die Oryx ingeruil op ’n splinternuwe Jurgens Trooper X2. Ons het ook die Ranger ná ’n probleemvrye 90 000 km ingeruil vir die nuwe 2.2-XL-model.

Met ons nuwe sleepkombinasie het ons weer koers gekies Kgalagadi toe en dié slag ook ’n draai gemaak by Mokala. Ons het ’n omvattende reisplan vir 2020 gehad, maar Covid-19 en die gepaardgaande inperking het ’n stokkie gesteek in ons wiel se speke.

Ons hou daarvan om op een reis ’n paar Sanparke-kampterreine aan te doen, byvoorbeeld om by die Karoo- nasionale park te begin en dan ook by plekke soos die Kamdeboo, Addo, Ebb & Flow en Bontebok uit te span.

Ons ry dié roete elke keer in die ander rigting. Sanparke se geriewe is altyd van goeie gehalte en dit is ’n fees om deur die dag rond te ry op soek na die verskillende diere.

Hoe lyk jóú wiele?
Stuur ’n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook