Daar is drie belangrike hoeke wat gemeet en verstel word as dit by wielsporing kom:

1. Spoor (toe): Dis die hoek waarteen die voorpunt van die wiele na mekaar of weg van mekaar wys as dit van bo af bekyk word. Dis belangrik om die spoor reg in te stel. Dit verseker stuurstabiliteit en keer dat die bande oormatig afloop. 

In die algemeen sal voertuie met agterwielaandrywing (dus die meeste voertuie wat nie heeltyds 4x4 is nie) meer reguitlynstabiliteit ervaar as die spoor effe na binne is mits die wielvlug (camber) en naspoor (caster) reg ingestel is. Wanneer ’n mens kwaai rem trap, is die stabiliteit ook beter as die spoor na binne is.

2. Wielvlug: Dis die hoek waarteen die bokant van die bande na binne of na buite oorhel wanneer jy van voor na die voertuig kyk. Wanneer die bokant na binne oorhel, het jy negatiewe wielvlug en wanneer die bokant na buite leun, het jy positiewe wielvlug. 

Negatiewe wielvlug verbeter die greep van die bande in ’n draai en kan oorstuur veroorsaak (dit wil sê die voertuig draai te skerp). Dit kan belangrik wees vir ’n renmotor, maar dis van minder belang vir ’n 4x4, wat verkieslik so neutraal moontlik moet hanteer. 

Onthou: Die wielvlughoek sal veroorsaak dat die wiel die voertuig druk na die kant waarheen die wiel oorhel. Die grootste hoek tussen twee wiele op ’n as sal bepaal in watter rigting die voertuig gedruk word. Onthou ook dat die loopvlak van ’n band met ’n oormatige wielvlughoek vinniger aan die een kant gaan afloop, wat die gebruiksduur van die band sal inkort.

3. Naspoor : Anders as die spoor- en wielvlugverstellings het die naspoor geen invloed op hoe die band afloop wanneer die voertuig in ’n reguit lyn beweeg nie. Naspoor het egter ’n groot invloed op die stabiliteit wanneer jy in ’n bepaalde rigting beweeg. 

As die naspoorhoek te klein is, gaan jou 4x4 geneig wees om effens van die spoor af te wyk sodat jy kort-kort stuurkorreksies moet aanbring, wat jou voertuig heen en weer sal laat swenk. Die verskil tussen die naspoorhoek van die linker- en regterwiel beïnvloed die rigting waarin die voertuig trek. 

As daar geen verskil is nie, behoort jou 4x4 in ’n reguit lyn te beweeg, mits al die ander hoeke neutraal is. As een wiel ’n meer positiewe naspoorhoek het, sal dit teen die ander wiel druk en veroorsaak dat jou 4x4 in die rigting van die wiel met die kleiner naspoorhoek gaan trek.

Onthou, as jy die ryhoogte van jou voertuig verhoog, kan dit ’n ongewenste uitwerking op die wielsporing hê. Met onafhanklike vering gaan ’n groter ryhoogte ’n groter invloed op die spoor hê terwyl die vering werk. 

Die rede hiervoor is dat die kantstuurstange nou skerper afwys. Wanneer die voorste vering op en af beweeg, sal die beweging van die stuurarms veroorsaak dat die spoorverstelling deurentyd verander wanneer die voertuig vinnig beweeg. 

Met sommige vaste voorasse sal ’n groter ryhoogte die naspoorhoek kleiner maak. Omdat dit meestal nie verstel kan word nie, sal jy dalk naspoorkorreksiebusse moet aanbring om dit reg te stel. 

Na gelang van die voertuig kan ’n te groot ryhoogte veroorsaak dat die vereiste verstellingshoeke meer is as wat met jou voertuig moontlik is. Die hantering gaan dan nie optimaal wees nie. Dit kan selfs gevaarlik wees. 

Hou dit altyd in gedagte wanneer jy daardie veringopknapping oorweeg. 

Stel veiligheid eerste met alle modifikasies.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook