Ek het my Jimny in September 2010 nuut gekoop, wat hom vandag presies tien jaar oud maak. Omdat hy eintlik net vir vakansies gebruik word, het hy in die afgelope dekade ’n raps minder as 100 000 km op die klok gekry. My Jimny was onder meer al in Mosambiek, Eswatini en drie keer in Namibië.

Hy’t slegs enkele aanpassings: ’n Front Runner-dakrak en Thule-dakboks, ’n T-Max-wenas, Old Man Emu-vering en lugpype vir die ewenaars sodat ek deur dieper water kan ry – net nie té diep nie, want ’n Jimny is lig genoeg dat ’n rivier hom kan meesleur. My Jimny het my tot op hede nog nie in die steek gelaat nie, maar daar is ’n paar haakplekke.

Binne en buite

Toe ons die Jimny destyds toetsbestuur het, was die sitposisie gaaf en die spons van die bekleedsel gemaklik. Deesdae kan ek egter harde dele binne-in voel, en die sitplekke gaan binnekort herstoffeer moet word.

Al die elektronika – en daar is bittermin daarvan – werk nog. Dis net die CD-speler wat my Tears for Fears-CD ingesluk het en volstrek weier om dit uit te spoeg. Die afgelope drie jaar wend ek my dus maar tot die radio, want ek is keelvol vir die liedjie “Shout”.

Die binneruim het goed verouder en al die letters en simbole op die knoppies is nog duidelik leesbaar. Die instrumentepaneel en middelkonsole piep nie, die ruite en deure skud nie (die agterdeur moet egter nou en dan verstel word), en die sitplekke kletter nie op hulle spoortjies nie.

Die volgarms wat die voor- en agteras in plek hou, kreun wel as ek om ’n skerp draai ry. Dit is ’n algemene probleem onder Jimny’s wat tydelik opgelos kan word met ghries.

Uiteraard het die kar nie baie pakplek nie en jy sal ’n dakrak of sleepstang moet laat aanbring as jy ’n Jimny wil gebruik om te toer. Jy kán met ’n Jimny toer, net nie baie vinnig nie. En jy en jou voorste passasier moet lief wees vir mekaar, want julle elmboë raak heeltyd aan mekaar.

Kraglewering

Met my eerste toetsrit in ’n Suzuki Jimny het die motortjie besonder rats en gewillig gevoel – wel nie blitsvinnig nie – maar nadat ek my eie een aangeskaf en die standaard- 205/70 R15 Goodyears verruil het vir 215/75 BFGoodrich-veelterreinbande, was dit opvallend hoeveel krag weens die effens groter wiele verlore gaan.

Enige enjin verloor boonop met die jare krag. Goed, ’n splinternuwe enjin word binne die eerste jaar “los” gery, maar ná ’n aantal jare is hy beslis swakker as toe hy nuut was – dis maar een van daai dinge waarmee motoriste moet vrede maak. My Jimny het die afgelope dekade krag en wringkrag van onderskeidelik 3 kW en 2 Nm verloor. Dit klink dalk nie baie nie, maar die enjin wek in die eerste plek betreklik min krag en wringkrag op.

Wat brandstofverbruik betref kon my Jimny nooit die 7,2 l/100 km haal wat deur die brosjure en verkoopsmense beloof is nie. Ek kry gemiddeld 370 km met ’n tenk van 40 l, wat neerkom op 10,8 l/100 km (9,2 km/l). Dié verbruik is effens beter as wat ek aan die begin gekry het – en, bygesê, dis met drie mense en ál ons kampgoed, op en af deur Lesotho. Dit is seker nie té vrot nie.

My Jimny kan 120 km/h handhaaf op ’n gelyk snelweg, maar ek moet noodgedwonge afrat om selfs teen ’n vlak heuwel uit te ry. Die Jimny se topspoed is 140 km/h, maar dít sien ek baie selde.

Slytasie

My gunsteling-werktuigkundige, wat ek die afgelope sewe jaar ondersteun nadat die fabriekswaarborg verstryk het, sê my motortjie verg bittermin onderhoud danksy die lae massa wat min druk op onderdele plaas. Met die jongste diens, toe hierdie artikel geskryf is, is die waaier- en alternatorband plus remskoene die eerste keer in tien jaar vervang.

Die BFGoodrich-bande is toevallig in dieselfde week vervang – hulle het jou wraggies óók 10 jaar gehou, maar hulle was voos! Die loopvlak was nog wettig, maar die rubber het begin verbrokkel weens ouderdom. Ek verwag nie dat die General Grabber-bande wat ek laat aanbring het, ook 10 jaar gaan hou nie, maar hulle kos ’n derde van ’n BF se prys.

My Jimny het in die tien jaar twee batterye en een stel ruitveërs gebruik, maar andersins het hy tot nou toe niks meer gevra nie.

’n Tipiese diens het my 6 jaar gelede R800 gekos (die diensplan het ná 4 jaar verstryk), en weens inflasie betaal ek deesdae sowat R1 200 per diens by my onafhanklike werktuigkundige.

Die bakverf hou mooi en het nie juis verdof nie. Ek het anderdag ’n ou ZA-plakker afgetrek en die kleur onder die plakker lyk dieselfde as die verf rondom die merk.

Die enjin se aluminiumblok het ’n wit roesaanpaksel, maar dis te verstane omdat ek in Kaapstad woon. Die rubberpypies en plastiek binne die enjinruim het nog nie begin verbrokkel nie en lyk betreklik nuut.

My dogter gaan oor sewe jaar universiteit toe en ek is vol vertroue dat die Jimny haar getrou sal dien tot sy haar eie eerste karretjie kan bekostig.

My dogter gaan oor sewe jaar universiteit toe en ek is vol vertroue dat die Jimny haar getrou sal dien...
KAPOKGEWIG. Die vorige Jimny is nooit aggressief bemark deur Suzuki nie en die motormedia het hom meestal vlak gekyk. Sy uiteindelike sukses is te danke aan aanhangers wat sy lof wyd en syd besing het.
Die Suzuki Jimny
Die Suzuki Jimny
ENJINSPESIFIKASIES
ENJINSPESIFIKASIES

Kan ek tweedehands koop?

Die deursnee-Jimny verlaat amper nooit sy voorstedelike buurt nie en hy slaap elke aand veilig in ’n motorhuis. Jy sal nie ’n fout maak om só ’n Jimny te koop en hom in te rig vir veldry nie. Meganies gesproke is hulle uiters betroubaar en die afwerkingsmateriale van uitstaande gehalte.

’n Suzuki Jimny behou sy waarde besonder goed. Jy kan vir dieselfde geld as my 2010 Jimny byvoorbeeld ’n 2010 Honda CR-V, Jeep Cherokee of Nissan X-Trail koop wat almal hope meer sit- en pakplek bied. As jy kans sien vir ’n ouer voertuig, kan jy selfs ’n 2008 BMW X5, 2007 Land Rover Disco 3 of ’n 2005 Mitsubishi Pajero koop met R130 000 – en dan het jy boonop genoeg kontant oor om op vakansie te gaan.

Die geneuk met ’n tweedehandse Jimny is dus sy hoë herverkoopwaarde, min pakplek en lae topspoed. Aan die ander kant van die munt kry jy betroubaarheid, bekwaamheid, en – ek glo jy stem saam – hy’s blerrie ougat.

TWEEDE ASEM
TWEEDE ASEM

Nou
Toe
NEEM DEEL!

Hierdie is die eerste van ’n reeks artikels wat fokus op ouer voertuie en spesifiek hoe hulle deesdae vergelyk met toe hulle nuut was.

Cyril se Sukuzi Jimny is ons proefkonyn en ons nooi jou om jou eie ryding oop te stel vir eerlike kritiek. Ons sal vir die kragleweringstoets betaal en die argief naslaan vir die oorspronklike spesifikasies vir jou ryding.

Stuur gerus jou bydrae na cyril.klopper@media24.com