Wanneer sommige 4x4-eienaars die hand in die sak steek vir ’n veringopgradering, trek die ryhoogte aan die linker- en regterkant van hulle voertuig skielik hulle aandag. Maar selfs splinternuwe 4x4’s op die vloer van die vertoonlokaal leun soms ’n bietjie na die een kant toe oor. En dis moeilik om te glo, maar daar is niks verkeerds met daardie voertuie nie.

En sodra jy ’n bestuurder en ’n passasier in die voertuig laai, verander dit in elk geval.

Niks vreemds nie

Die voertuie hel na die een kant toe oor omdat die meeste 4x4’s ’n leerraamonderstel het waarop die bakwerk vasgebout is met rubberwasters tussenin. In die geval van ’n bakkie wrod die kajuit en die laaibak boonop individueel vasgebout. Voeg nou goed soos die brandstoftenk en ratkaste met ’n bykomende 4x4-oordraratkas daarby, en dit kos kopkrap om die voertuig presies gelyk te laat staan.

Dis makliker om voertuie met onafhanklike voor- en agtervering gelyk te kry omdat elke “hoek” van die voertuig apart ingestel kan word. Maar jy sal steeds sien dat sommige voertuie na links of regs oorhel. 

Een so ’n voertuig, met ’n vaste as agter en veelskakel-vering, is my droomboswa – die Land Cruiser 200 VX.

Die VX Cruiser word verkoop met ’n baie slim veldryhulpmiddel, sogenaamde Kinetic Dynamic Suspension System (KDSS) as standaard-toerusting. Maar om die een of ander rede laat hierdie stelsel die voertuig se bak effens na die bestuurder se kant oorhel. Tik op die Google-soekenjin die woorde “200 Series lean” in, en jy sal verstaan waarvan ek praat.

By Ironman 4x4 het ons al ’n oorsaak en ’n oplossing hiervoor probeer kry, maar met wisselende resultate. Wanneer ons die KDSS ontkoppel om ons veringstelsel te installeer, staan die voertuig taamlik gelyk. Maar sodra jy weer die KDSS aktiveer, begin die voertuig weer ná enkele kilometers oorhel. Die hoek is minimaal, maar soos ek sê, sodra jy die vering lig, raak jy meer bewus van die effens oorhelling.

’n Nuwe oplossing

Met die nuutste weergawe van die Land Cruiser 200-reeks, is die oorhelling feitlik weg danksy ’n spoggerige nuwe veringstelsel. Die nuwe 200 GX gebruik ook nie die KDSS-stelsel nie, en – soos jy kan raai – hel die voertuig nie oor nie.

As iemand wat elke dag met vering werk, kan ek sê dat ’n geringe oorhelling onbenullig is, maar dis ’n interessante geit wat jy sal opmerk wanneer jy jou 4x4 se vering opgradeer. En met of sonder die oorhelling, is die 200-reeks bo-aan my wenslys.

Onthou: Enige goeie 4x4-sentrum sal die ryhoogte voor en ná die veringinstallering aanteken ter wille van die waarborg. Daarom behoort jy dus ’n rekord te hê van hoe hoog jou voertuig voor en ná die tyd staan.