foto’s Kyle Kock

Die Dooiesee is ’n buitengewoon ekstreme plek. Dit is meer as 400 m ónder seespieël en die water is só sout dat niks daarin wil leef nie – nóg plant nóg dier.

Die versengende hitte van die laatsomer pas perfek by die ongenaakbare landskap van Jordanië. Die kwik draai by 36 ºC terwyl Hyundai se bemarkingsmense die nuwe Santa Fe in die buitelug aan ’n groepie motorskrywers uit die Midde-Ooste en Afrika demonstreer.

Daar is ’n slaak van verligting wanneer die verrigtinge tot ’n einde kom en dit tyd raak om agter die stuurwiel in te skuif. Die vlees is swak en die groepie joernaliste stap sleepvoet deur die Mövenpick Dead Sea-oord se parkeerterrein terwyl emmers sweep hulle aftap. In teenstelling hiermee staan twee rye geparkeerde Santa Fe’s en luier sonder ’n druppel lugreëlingkondensasie op die plaveisel.

Koel kajuit

Dit is ’n verligting om ’n deur agter jou toe te trek nadat jy jou kleresak in die bagasieruim gelaai het en die outomatiese agterklap homself sluit.

Die klimaat is klaar tot kamertemperatuur gestel, maar die beheerknop van die dubbelklimaatsone-lugreëling word haastig na links gedraai om die binneruim nóg koeler te maak.

Die enjin loop seepglad en dit blyk die Koreane sukkel nie met geraas en vibrasies nie.

Jy kan ook jou sitvlak afkoel met versteekte waaiers in die sitplekke. Ná slegs ’n halwe minuut is jou lyding vergete en jy kan nou regop sit, jou oë oopmaak en die binneruim waardeer.

Iets wat dadelik die oog tref, is hoe ruim dit hier binne is. Luc Donckerwolke, hoof van Hyundai se ontwerpsentrum, het verduidelik hoe die langer asafstand, langer daklengte en breër bakwerk bygedra het tot die groter binneruim – veral vir die middelste en agterste passasiers.

Voorlangs word die bestuurder en passasier geskei deur ’n indrukwekkende middelkonsole wat spog met drie rye instrumente.

Hyundai se plan was om die Santa Fe so moeiteloos as moontlik te maak vir sy passasiers, en nêrens is dié pogings opsigteliker as agterlangs in die binneruim nie.

Om by die derde ry sitplekke uit te kom hoef jy net ’n knoppie op die rugleuning van die middelsitplek te druk sodat dié sitplek vorentoe kan skuif. Die heel agterste passasiers het oorgenoeg beenruimte mits hulle nie langer as 1,7 m is nie.

Slegs ’n oliebrander

Verskeie enjinopsies is in ander lande beskikbaar, maar slegs een weergawe en ratkas kom na Suid-Afrika: Hyundai se 2,2 l-turbodiesel en die nuutontwikkelde 8 spoed- outomatiese ratkas. Dis ook goed so, want dis die mees ekonomiese aandrywingstelsel in die Hyundai-stal.

Die enjin loop seepglad en dit blyk die Koreane sukkel nie met geraas en vibrasies nie. Hyundai het besluit om sy eie 8 spoed- outomatiese ratkas te ontwikkel, en die eerste indruk is beslis goed. Hy’s in staat om die laaste rat in die verhouding te kies teen ’n lae 70 km/h mits toestande dit toelaat.

Nie almal hou van ’n ratkas wat vroeg oorskakel nie, maar die voordeel hiervan is dat jy brandstof bespaar. Dit is goed en wel op ’n gelyk oppervlak, maar gooi ’n paar heuwels in die Santa Fe se pad en jy gaan voel hoe daai ratkas papperig raak.

Jy kan natuurlik oorskakel na die sportmodus en self die ratte met die pedale agter die stuurwiel tokkel, maar dan gaan jy betaal by die vulstasie. Maar selfs al ry jy oor lang afstande in die sportmodus gaan die Santa Fe steeds om en by 8 l/100 km lewer, wat glad nie te versmaai is nie.

SKAKELBEAMPTE. Hoewel daar heelwat knoppies en skakelaars is, is hulle maklik om te verstaan. Hulle is in logiese posisies geplaas waar jy hulle verwag (amper soos ’n badkamer wat agter die eerste deur aan die linkerkant van ’n gang is) en die ikone op skakelaars maak dit duidelik wat hulle doel is.

Wat kan jy nog verwag?

Die finale spesifikasielys vir Suid-Afrika is nog nie afgehandel nie. Daar is wel bevestig dat ons drie afwerkingsvlakke gaan kry: Premium, Executive en Elite.

Die basis- en middelvlakmodel gaan voorwielaangedrewe wees (die enjin lê dwars onder die kap), terwyl die vlagskipmodel Hyundai se HTRAC-allewielaandrywing sal gebruik wat kragverspreiding outomaties behartig, tensy jy die verspreiding wil sluit sodat die voor- en agteras ewe veel krag kry – hiervoor sal daar ’n “Lock”-knoppie op die instrumentepaneel wees.

’n Raakskerm van 7 duim vir ’n mediasentrum sal ook standaard wees in al die Suid-Afrikaanse modelle. Die mediasentrum sal Bluetooth, Apple CarPlay- en Android Auto-programmatuur hê sodat jy jou slimfoon kan koppel.

Die middelvlakmodel sal ook LED-hoofligte, sleutellose toegang en ’n outomatiese luikrug hê terwyl die vlagskip sitplekke kry wat warm én koud maak. Die sitplekke sal jou boonop waarsku as ’n insittende sy sitplekgordel in die ry losmaak of ’n deur probeer oopmaak. ’n Alarm sal ook jou aandag trek as daar ’n voertuig in jou blindekol skuil.

SPESIFIKASIES

Model Hyundai Santa Fe 2.2 CRDI Elite

Enjin 2 199 cc-turbodiesel

Krag 147 kW teen 3 800 r.p.m.

Wringkrag 440 Nm teen 1 750 r.p.m.

Topspoed 205 km/h

Versnelling (0-100 km/h) 9,3 s

Ratkas 8 spoed-outomaties

Grondvryhoogte 185 mm

Brandstofverbruik 6,3 l/100 km

Pryse Nog nie bekend nie.