foto’s Leon Botha

Infanta het sy onderneming as ’n boswabouer begin, en vandag bou dié maatskappy boswoonwaens wat onder die bestes in die land gereken word. Hy noem sy boswoonwareeks die Enkulu, met die Enkulu 2 die middelslag-model.

Oor die laaste jaar of drie sedert sy eerste bekendstelling het dié wa veranderinge ondergaan, maar Infanta se ikoniese uitglybed bly standaard. Dieselfde geld vir die ruim buitekombuis.   

Die eienaars het die wa egter ook met ’n binnekombuis toegerus, en dís ietswat ’n mens op net enkele waens sien.

Ons het die Enkulu 2 op Buffeljagsrivier anderkant Swellendam gehaak en bykans 2 000 km tot by Morganbaai en terug gesleep.

Kry vinnig jou staan

Die Enkulu 2 het op elke hoek ’n hoekstut – Infanta gebruik van die afswaaisoort wat maklik uitslaan. Die opwipdak lig nét bo die linkerkant en nie parallel met die vloer soos met ’n konvensionele opwipdak nie. Dit werk elektries en jy druk die skakelaar by die deur (binne) tot die dak nie verder lig nie.

Nou moet jy nog net die bed uitskuif en die woonwa is opgeslaan. Die bed trek uit die regterpaneel soos ’n enorme laai. Twee koeltrok-slotmeganismes hou dit in plek, en met die twee slotte oop trek die bed ’n goeie meter uit die romp.

Onder die bed val ’n stutpaal in plek sodat die bed nie terugrol in die romp as die wa dalk nie 100% waterpas staan nie.

Wysneus

Infanta slaan ’n nuwe rigting in met die neuskasruimte. Die neuskas is steeds ’n vierkantige boks op die A-raam met ’n deur aan elke kant, maar die voorkant van die romp is nou verleng sodat dit skuins af tot oor die neuskas loop en ’n vorm skep wat nie net minder windweerstand tot gevolg het nie, maar ook heelwat meer pakplek beteken.

Die deel bo die kas vorm ruimte vir ’n volgende kas met ’n deur wat boontoe oopmaak (met gasstutte), amper soos ’n enjinkap. Binne is ’n hele paar gereedskapstukke en onderdele wat in ’n sponsvorm pas – dinge soos ’n byl, boomsaag, nooddriehoek, ’n stel wiellaers en ’n spaarligteprop.

Weerskante van die kas is ’n sandplank elk teen die skuinste van die romp vasgesit wat maklik is om by te kom as jy dalk in die sand vasval.

Die neuskas self is een oop ruimte vir jou groter kampgoed. Teen die bokant van die kas pas ’n los kamptafel in. Weerskante van die A-raam – voor die neuskasdeure – is ’n modderflap om die bakwerk van die woonwa teen opskietklippies van die sleepvoertuig te beskerm. 

Aan die ander kant

Aan die regterkant, langs die neuskas, is ’n groot oop kas. Dit is groot genoeg sodat opvoukampstoele regop binne-in kan staan. Die kragboks en geiser is in die kas hiernaas (onder die uitglybed).

Op die punt agter slaan ’n vierkantige deur (90 x 90 cm) oop boontoe en vorm die buitestort se dak. Die hokkie se kante is opgevou aan die binnekant van die deur en jy slaan dit dan aan die onderkant met tentpenne vas. Teen die paneel is ’n spieël en onder dit twee rakkies wat lyk soos die tydskrifrakkies agter teen ’n motor se voorsitplekke. 

Die stortkop is vas aan ’n plastiekwaterpyp wat jy in sy passtuk bo teen die paneel kan los wanneer jy stort óf uithaak as jy die kinders se voete wil afspoel.

Aan die onderkant is nog ’n kas; dis waar jy by die kassettoilet uitkom as jy die chemikalieë moet nagaan. Die noodwiel, gassilinder en jerrykan is by die stert, en heel onder slaan ’n rak plat waarop jy langs die pad ’n stomp of twee kan laai.

Op linkervleuel

Die linkerkant is een groot buitekombuis. Die ys-vrieskas trek heel links uit die romp, en bo dit gly die pottelaai uit. Die deur regs hiervan slaan plat as die werkblad (56 x 158,5 cm).

Agter die blad is ses oop kassies in die romp met pakplek vir onder meer koppies, glase, kosblikhouers en eetgerei. Hier is ook staanplek vir ’n ketel – met ’n dubbelpropkragpunt langs dit.

Die tweebrandergasstoof is heel links op die blad gemonteer. Die rande van die blad vorm ’n oop hoek van 45° – as jou soutpot dus omval, sal dit nie van die blad afrol nie.

Bo die groot kombuiskas loop ’n aluminiumlysie parallel met die grond wat strek van die deur tot by die neus. Dit is die plek waar jy los rakkies inhaak, amper soos skinkborde wat ’n mens altyd by inrykafees aan jou motor se venster gehaak het. (Infanta noem dit hoeka sy roadhouse-rakkies. – Red.)

Wanneer jy die deur heel regs oopmaak, is die binnekant daarvan ’n verlenging van die kombuis. Teen die deur is verskeie gaas- en seilsakkies waarin enigiets van ’n braaitang tot ’n blik insekweerder kan pas. (Terloops, in die middel van die linkerkosyn is ’n oopswaairelinghandvatsel wat vir ekstra gemoedsrus sorg wanneer ’n mens sleep: In die toe-posisie vou dit oor die deur en sal dit toe hou ingeval die knip dalk nie behoorlik toe is nie.)

Links onder die blad is nog ’n kas vir kruideniersware. Die raamwerk vir die twee opwasskottels en droograk gly uit die kas regs van die deur, maar as jy dit wil gebruik, moet die deur toe wees. Hier is ook ’n spuitstuk sodat jy die skottelgoed kan afspoel. 

Klim in

Binne vorm die hele stertgedeelte die binnekombuis. Die werkblad strek van kant tot kant met die tweebrandergasstoof-en-wasbakkombinasie presies in die middel hiervan. As jy dit nie gebruik nie, kan jy dit met sy glasblad bedek. Hier is ook ’n 220 V-prop.

Regs onder die blad is die mikrogolfoond, en langs dit die kruidenierswarekas. Omdat die mikrogolfoond so naby die deur is, kan jy dit sommer van buite af bykom as jy gou iets wil verhit.

Soos jy inklim, is die klerekas voor jou teen die oorkantste paneel, en die kassettoilet trek uit die onderste gedeelte van die kas. Bo die buitekombuisdeurtjies wat ook na binne oopmaak, is nog vier rakke langs mekaar. Die drie regs is verdere pakplek vir klere en die eerste een is ’n klein smukhoek.

Teen die agterkant is ’n spieël, en hier is ook ’n kragpunt vir ’n haardroër of krultang. Wanneer jy op die bed se punt sit, kan jy jouself netjies in die spieël sien. Die bed is koningingrootte.

Die bokant van die deel wat na buite uitgetrek staan, is 75 cm bo die matras. Dit beteken jy kan steeds regop sit. Dit is ook die koppenent van die bed en hier is ’n leesliggie aan elke kant. Hier is ook ’n venster wat kan oopmaak met ’n gaas en blinding voor wat kan wegskuif. ’n Tweede bed is aan die neuskant van die binneruim ingerig en geskik vir ’n kind.

Dié bed is die volle breedte van die wa en het selfs ’n reling langsaan. Dié matras is 64 cm breed.

Die tegniese goed

Lengte: 5,5 m

Breedte: 1,83 m

Hoogte: 2,2 m

Nokhoogte binne-in: 1,97 m

Netto gewig: 920 kg

Dravermoë: 680 kg

BVM: 1 600 kg

Prys: Vanaf R337 698

PLUS   

  • Die neusvorm gee minder windweerstand en jy wen ook pakplek by die neus.  
  • Die bed trek maklik uit.  
  • Die ekstra kas bo die neuskas is slim pakplek – ook die tweede bed binne-in.  
  • Die restaurantrakkies in die kombuis is uniek en werk uitstekend.  
  • ’n Binne-en buitekombuis is die beste van twee wêrelde.

MINUS

  • Die modderflappe staan effens uit en jy kan daarteen vasloop as jy nie kyk nie.

Weg Ry & Sleep het die Enkulu by die vervaardiger geleen.

Woonwatoets
Woonwatoets
Weg Ry & Sleep sê

Diep in die boendoes kom die Enkulu 2 tot sy volle reg.

Handelaarsnetwerk

Die fabriek is op Buffeljagsrivier van waar die eienaars besigheid doen.

Kontak:  028 512 3663;  info@infantatrailers.co.za;  infantatrailers.co.za