foto’s Cyril Klopper

Boswaens is makliker om te sleep as boswoonwaens omdat hulle kleiner en ligter is. Daarteenoor is ’n boswoonwa gemakliker om mee te kamp as ’n boswa omdat jy ín hom slaap, op ’n ordentlike bed, eerder as bo-op in ’n daktent waar jy jou lê op ’n dunnerige sponsmatrassie moet kry.

Die Invader Duo laat dié grense egter effens vervaag omdat hy ’n tipe daktent buite die romp het (met ’n ordentlike matras) én ’n leefgedeelte binne die romp. Jy kry dus die beste van twee wêrelde, en hoewel hy ewe veel boswa en boswoonwa is, is hy ook danksy ’n rits luukshede pure kamppaleis.

Agterskeeps

Aan die Duo se agterkant is ’n volgrootte noodwiel met weerkante daarvan twee 20 l-brandstofkanne. Die gom van ’n ZA-plakker en Mosambiek-driehoek heg nie op die veselglas-bakwerk nie, en jy sal hulle op die brandstofkanne moet plak.

Jy kan wel vir Invader vra om ’n metaalplaat op die dop vas te klink waar jy dié verpligte plakkers – en sommer ook die landsvlaggies en reisplakkers van al die bestemmings wat jy binnekort gaan besoek – kan aanbring.

Só sleep hy

Met ’n tarragewig van slegs 860 kg is dié boswoonwa maklik om te sleep, en danksy sy smal profiel hoef jy nie woonwaspieëls te gebruik om verby hom te kan sien nie. Die kompakte afmetings verlang wel dat jy jou storie moet ken as jy terugstoot.

Anders as met langer boswoonwaens swaai die Invader Duo vinnig na links of regs wanneer jy aan jou ryding se stuurwiel raak, amper soos wanneer jy ’n boswa of Ventertjie terugstoot.

Die neuswiel op die A-raam kan verwyder word sodat jy hom in die neuskas kan bêre as jy ernstige 4x4-terrein aandurf. Hier is ook twee kragkabels; die gebruiklike een vir die ligte plus ’n Brad Harrison-kragkoord vir die wa se batterystelsel en elektriese toerusting.

Die Invader Duo se romp is van duursame gelamineerde veselglas gemaak wat bestand is teen takke wat teen hom skuur en klippe wat opskiet. Markaanvraag het egter daartoe gelei dat die Invader se neuskaste nou met staalplate spog wat die veselglas beskerm.

Die ironie is dat dié staalplate minder duursaam is as die veselglas – en as jy wil hê die staal moet jare later nog so goed lyk soos veselglas, sal jy ’n opsionele neuskaskombers moet aanskaf. 

Maak oop, Sesame!

Nadat jy die wa met sy hoekstutte en neuswiel gelyk staangemaak het, maak jy die Duo se dop met ses knippe los – drie aan elke kant van die romp.

Aan die linkerkant van die wa is drie luikdeure waarvan jy die middelste een ondertoe laat sak.

Aan die binnekant van die kas is ’n skakelaar wat ’n kompressor aktiveer. Dié stoot dan die dop deur middel van lugdruk boontoe. Sodra die dak bo is, laat los jy die skakelaar en maak die Duo se deur oop.

Voor jou lê die voetenent van die dubbelbed. Stoot die bed na links op twee glyspore tot hy oor die neuskas rol; ’n tent sal outomaties uitvou soos die bed uitgly.

Klim in die wa, druk die dop nog ’n entjie boontoe en plaas ’n paal tussen die tent se voorste raamwerk en dop om die tent stewig te laat staan. Klim weer uit die Duo en loop na die neuskas toe waar jy twee pale, een aan elke kant van die A-raam, uitswaai en onder die bed se vloer indruk vir ekstra ondersteuning.

Al wat nou oorbly, is om die afdakkies oor die vensters styf te span en siedaar, jou slaapplek is gereed. Dit duur sowat ’n minuut en vereis geen harde werk nie.

As die weer saamspeel en jy wil ’n onbelemmerde uitsig op die natuur geniet, kan jy die Duo se muurseile ooprits en verwyder. Hou egter in gedagte dat niks dan ’n blouapie keer om op jou bed te rinkink nie. As jy gure weer verwag, moet jy die weerbestande afdakke uit hulle sakke rol – aan die voor- en linkerkant van die Duo – vóór jy die dop lig.

As jy ’n geruime tyd op een plek gaan kamp, kan jy ’n silwerseil-stoeptent met kantseile en stormbestande ankertoue oprig – dan het jy ’n ekstra droë vertrek waarin jy kan kosmaak.

Kombuiskant

Die kombuis is aan die linkerkant van die wa. Hier is twee luike wat afwaarts uit die romp oopvou.

Agter die eerste een (bo die wielboog) is twee laaie met sponsholtes waarin wynglase, koeldrankglase, koffiebekers, papbakkies, kleinbordjies en eetborde netjies verpak is – vier van elk. Invader verskaf nie messegoed nie en jy sal jou eie moet bring. Die luikdeur het ’n vlak holte aan sy binnekant waarin ’n nylonsnyplank pas en langs die laaie is rakkies vir dinge soos blikkieskos en speserye. Agter die tweede luik is ’n tweeplaatgasstoof en twee wasbakke met ’n warm- en kouewaterkraan.

Hier is ook rakke waarin jy kombuisware soos potte en panne kan pak. Onder hierdie luik is drie kragsokke agter ’n weerbestande klap. Laastens is daar ’n deur in die neuskas waaragter ’n National Luna-ys-vrieskas op ’n glyraam uittrek. 

Kragkant

Aan die regterkant van die wa is ’n 12 V-sok, stortkop, gasventileerder, die prop vir die watertenk, ’n 220 V-kragsok én ’n Brad Harrison-sok indien jy ’n sonkragpaneel wil inprop.

Hier is ook twee deure – een in die romp en ’n ander in die neuskas. Die eerste een gee toegang tot die wa se 105 A-diepsiklusbattery en 30 A-herlaaier, en die bêreplek is ook ruim genoeg om ’n opvoubare sonkragpaneel te vervoer. ’n Gassilinder, die stoeptent en ander toerusting kan jy in die neuskas bêre.

Aan die onderkant van die romp is twee klein deurtjies. Dít is waar die pale vir die afdak en die stoeptent vervoer word.

Die binneste ruimte

Aan die binnekant van die deur is drie seilvakkies vir bottels en maassakkies vir ander los items soos jou motorsleutel en kopliggies. Regs van die deur sodra jy inklim, is ’n vlak kassie en agter dít ’n sitplek vir een mens.

Onder dié sitplek is ’n kassettoilet wat verwyder en in ’n toilettent geplaas kan word – of jy kan hom gebruik net waar hy is. Regoor die enkelsitplek is ’n bankie wat breed genoeg is vir een volwassene of twee kleuters. Tussen die twee sitplekke is klerekaste aan die regterkant en ’n uitvoutafel links.

Jy kan dié leefgedeelte gebruik as ’n eetkamer as die muskiete buite pla. Onder die uitvoutafel is ’n brandblusser en langs die enkelsitplek ’n wasbak met warm en koue water. Die bankie aan die voetenent van die bed het nie net bêreplek nie, maar ook driepuntkragsokke onder die kussing.

Die bankie dien natuurlik ook as ’n trappie waarmee jy by die dubbelbed kan uitkom. Versteekte stemmingsligte, neutrale kleure en ’n hoë plafon help dat jy nooit ingehok voel nie.

Die skakelaar vir die stemmingsligte sit links van die deur langs ’n batteryladingsmonitor. Hier is ook ’n paar ander skakelaars, waaronder een vir die waterpomp.

Die tegniese goed

Lengte (toe): 4,15 m

Breedte: 1,85 m

Nokhoogte binne: 2,25 m

Hoogte (toe): 1,80 m

Tarragewig: 860 kg

Dravermoë: 640 kg

BVM: 1,5 t As 1,8 t met bladvere

Bande: 245/75R15

Prys: Vanaf R275 000

PLUS

  • Die veselglas is duursaam.  
  • Die binneruim is groot.  
  • Die wa het verbasend baie pakplek.
  • MINUS

    • Daar is baie stappe om te onthou wanneer jy die Duo platslaan, en as jy ’n stap vergeet, kan jy dalk iets breek.  
  • Jy moet ’n fietsrek gebruik om die deur oop te hou.
  • Weg Ry & Sleep het die boswoonwa by die vervaardiger geleen.

    Weg Ry & Sleep sê Die Duo is maklik om op te slaan, hy is ruim binnelangs en die afwerking is uitstekend.


    Woonwatoets
    Woonwatoets
    Handelaarsnetwerk

    Invader het agente in Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

    Kontak: 021 948 9920;  invader.co.za