Foto's Leon Botha

Invader se waens is uniek: Dit is nie eintlik ’n woonwa nie, maar ook nie heeltemal ’n boswa nie. Dis eerder ’n kombinasie van die twee.

Die vervaardiger bou twee modelle: die Duo is vir twee mense en die Quattro vir vier. As jy vinnig kyk, lyk die twee omtrent eenders, maar die Duo se dak – wat van die romp afoplig – het ’n bed wat voor uitgly.

Die Quattro se twee beddensslaan op hulle beurt uit die deksel oop en is só ontwerp dat jy nie tot by jou slaapplek hoef te klouter nie. Invader bou sy romp van veselglas en die skarniere is van vlekvrye staal, en buiten die gegalvaniseerde onderstel, word verder net aluminium gebruik.

Die wa is dus ordentlik bestand teen vyande soos roes en houtvrot.

Ons het die Quattro die afgelope vakansie gehaak en ná ’n toer van 3 000 km van die Kaap tot die Kalahari was dit moeilik om die toetswa terug te gee.

Ondanks die kwik wat opplekke by 42 ºC gedraai het, ’n hewige sandstorm én ’n ongeskiktedonderstorm of twee het die wa sy staal gewys.

Twee huise in een

Om ’n stewige staan te kry swaai jy die agterste twee hoekstutte uit en stap vorentoe tot by die neuswiel. Regoor die neuswiel pas ’n verstelbare los neusstut – dit lyk net soos ’n neuswiel, maar pleks van ’n wiel het dié stut ’n plat voetjie.

Die Invader vou oop soos ’n dubbele skulp. Die twee deksels bo-op die romp slaan na die voor- en agterkant toe oop. Lig eers die een aan die disselboomkant, want dié een pas oor ’n lippie van die ander deksel wanneer dit toe is. Dit is ook sommer ’n veiligheidsmeganisme, want as die deksel se knippe om die een of ander rede in die ry oopspring, kan die agterste deksel nie lug skep en oopwaai nie.

Die deksels het elkeen twee gasstutte wat help wanneer jy dit oopmaak, veral as ’n mens alleen is. Maar as die wind waai en teen jou armdruk, moet jou kampmaat eerder help, want dan gaan jy moeilik regkom.

Die voorste deksel is omtrent ’n derde langer as die agterste een. Wanneer hulle oopvou, is elkeen se binnekant ’n bed. Die groter bed voor is dus nader aan ’n dubbelbed (128 x 180 cm) en die agterste een ’n smal driekwartbed (98 x 180 cm). In albei gevalle slaap ’n mens in die breedte van die Invader. Dis goed en gaaf, hoewel langerate skuins sal moet lê om in te pas.

Op elke bed moet die verste slaper boonop oor die ander een klouter as hulle eerste wil opstaan of in die nag ’n draai gaan loop.

Die onderkant van elke bed rus op twee stutte wat van die bakwerk se kant af uitvou. Die tentgedeelte is vas aan die binnerande van die beddens – en aan die romp waar die deksel weggeswaai het.

Wanneer jy die storie oopgeslaan het, lê die seil oopgevlek, reg om gespan te word. Klim in die Quattro en druk die seil bo jou weg om jou staan omtrent in die middel van die vloer te kry.

Lig die U-raam by jou boontoe – lugstutte help ook – om die nokgedeelte van die tent te vorm. By die naaste hoek van elke bed swaai nog ’n U-raam op wat die seil bo jou netjies span soos jy op die bed lê.

’n Laaste U-raam swaai by die punt van die bed op om die voor- en agterkant se dak te vorm. Vier verstelbare pale pas nou tussen elkeen van die U-raampale in, maar vóór jy hulle vasdraai om die dakgedeelte te span, klim eers uit.

Op elkeen van die hoeke is ’n ankerpunt met ’n tou. As jy al vier hoeke stewig het, kan jy die verstelbare pale binne vasdraai. Die tentgedeelte het dus twee kragte wat saamwerk om dit te span: die ankertoue en die verstelbare pale.

Die stoepdak is van seil en slaan op met drie pale waarvan die middelste een verstelbaar is om die nok te vorm. Aan die ander kant is ’n soortgelyke stoepdakkie. Dié is smaller, maar sorg steeds vir genoeg skaduwee.

Driedeurkombuis

Die Invader het ’n unieke kombuis, veral wat die stoof betref.

Weerskante van die instapdeur is drie deure – een voor die deur en twee agter. Die een met die stoof is die verste van die deur af – soos jy die deur oopmaak, slaan dit soos ’n valdeur oop na jou, met die stoof dan dwars gemonteer op die blad. Die stoof is hoog genoeg van die blad af dat ’n rakkie met twee los skottels in die lengte onderuit kan trek.

Tussen die naaste skottel en die stoof is ’n kraan met ’n mengkraan waarmee jy skottelgoedwater kan tap. Dié kas het twee rakkies aan die binnekant van die romp – asook ’n plat rak op die boom waarop van jou kruideniersware kan staan.

Die rak bo die wiel maak ook plat na jou toe oop, en buiten dat dit jou werkblad is, is ’n los snybord in die middel hiervan versonke. Dis slim en maak ook maklik skoon.

Die mikrogolfoond staan in die linkerkantste kas agter die werkblad in die romp met ’n rak bo dit. Aan die regterkant is twee laaie met al die bekers, glase borde en dies meer.

Die binnekante het uitgesnyde pasvorms in spons, wat beteken alles bly heel tot in die kampplek. Die deel onder die laaie is ’n oop rak. Die vrieskas trek op ’n glyraam uit die voorste deurtjie.

Die ander kante

Die Invader het net twee deure in die regterkant van die romp. Die voorste een maak oop aan die stertkant van die ys-vrieskas, en die gassilinder staan in die linkerkantse deel van die kas.

Die regterkant is oop en jy kan items soos jou braairooster hierin pas. Bo die deel waar jou rooster kan staan, is ’n smal deurtjie as jy vinniger by die rooster wil uitkom, maar net wanneer die Invader toegeslaan staan; anders staan die voorste bed hieroor. Die koppelstuk self is vir 2,7 t gegradeer met ’n neusgewig van 120 kg.

Die deur digby die wiel is ’n kas waarin jy byvoorbeeld ’n  gereedskapkas, die grondseil en tentpenne- en toue kan pas. Die 105 Ah-diepsiklusbattery staan in die diepste deel van die kas op die vloer. (Bo die battery is ’n deurtjie wat van binne af oopmaak.)

Digby die stert is die prop om die 100 l-watertenk te vul, die ventilasiedeksel van die geiser asook ’n stortkop. Dit het ’n verlengstuk en jy kan jou eie storttent hier opslaan.

Heel onder by die hoeke van die romp – voor en agter – swaai ’n klein deurtjie elk oop vir die paalkokers. Agter is net een holte met ’n dubbele holte voor.

Die noodwiel sit op die stert met ’n jerrykanhouer aan weerskante daarvan.

Binnekamer

’n Klompie gaassakkies is aan die binnekant van die deur en is net die plek vir jou vuuraanstekers, jaffelpan en braaitang.

Vir die inklim gebruik jy ’n stewige los dubbeltrappie (ook van veselglas).

Die Victron-kragpak se skerm sit hier links waar ’n mens byvoorbeeld die 12 V-kragverbruik kan dophou. Met behulp van Bluetooth kan jy ook op jou slimfoon sien wat aangaan. Onder die skerm is ’n skakelaar elk vir die geiser, die geiser se gas-elektrisiteit-skakelaar, die waterpomp en die ligte. Dis spoggerig – selfs Invader se naam is op die skakelaars.

Hiernaas is twee kaste wat nommerpas is vir jou kruideniersware en ’n pot of twee. (Jy kom die kaste maklik van buite af by as jy in die deur staan.)

Soos jy in die deur staan, is die dubbelbed links en die driekwartbed regs. Tussen die twee beddens is ’n ruim oop spasie waar selfs drie mense gemaklik kan staan. Dis ook gawe pakplek as jy lomp kampgoeters saamry wat nie in die sleepvoertuig pas nie – dinge soos kampstoele, ’n ekstra koepeltent, koelbokse of ’n kamptafel of twee.

As jy by die deur staan, is daar ook kaste aan die oorkantse paneel, elk met rakkies. Hier is genoeg pakplek vir 3-4 mense se klere. Bo dié kaste loop ’n melamienblad van 40 cm breed heuphoog, en langs jou, teen diékantse paneel, een van 50 cm breed. Dis welkome neersitplek. Ons het twee waaiers langs mekaar staangemaak en daar was nog genoeg plek vir ander items soos bordspeletjies, strandhoede en die week se leesboeke. By elkeen van die beddens is ’n enkelbankie.

Dis nie net jou opklimplek na die bed nie, maar albei dien ’n verdere doel: Die een links se sitgedeelte huisves die diepsiklusbattery, en onder die ander een skuil die kassettoilet. ’n Gesigwasbak is langs die toilet in die blad versink, ook met warm en koue water. Aan die ander kant is ook nog ’n klerekas.

Die tent het vensters reg rondom. Hulle het ’n deurskynende plastiekgedeelte wat uit die pad kan rol asook ’n seilflap as jy privaatheid soek.

Die gaasgedeelte is permanent, maar dit sal nóg beter wees as dit ook heeltemal kan ooprits. Die LED-ligte binne sit weggesteek onder die tafelblad en belig die wa ordentlik – en niks skyn in jou oë nie. Dit sorg vir ’n deftige gevoel. Bo teen die middelste U-raam is ’n daklig wat helderder skyn – dié werk goed om steeds te kan sien terwyl jy die seil op- of afslaan.

Woonwatoets
Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte: 4,6 m

Breedte: 1,88 m

Hoogte: 1,8 m

Nokhoogte binne-in: 2,1 m

Nettogewig: 860 kg

Dravermoë: 640 kg

BVM: 1 500 kg

Wielgrootte: 15”

As: 1 800 kg

Standaardprys: R297 000

PLUS

  • Die tentgedeelte span met verstelbare pale en ankertoue en werk goed.    
  • Die los snybord in die werkblad is ’n slim idee.    
  • Die oop ruimte in die wa is heelwat meer as wat ’n mens verwag.    
  • Die binnebeligting werk goed en verblind jou nie.

MINUS

  • Jy slaap dwars op die bed, wat beteken die een slaper klouter oor die ander.  
  • As die wind waai, is dit moeilik vir een mens om die beddens oop te slaan.    
  • Die gaasvensters kan nie wegrits nie.    
  • As jy langer as 1,8 m is, kan jy ongerieflik slaap, tensy jy op jou eie dwars kan lê.

Ry & Sleep het die Invader Quattro by die vervaardiger geleen.

Ry & SleepTeen R1 725 kan jy in ’n neusbeskermingseil belê as jy ’n grondpad gaan ry en die bakwerk wil beskerm.


Handelaarsnetwerk

Die hoofkantoor en fabriek is in Kaapstad; 6 handelaars landwyd.

Kontak: 0861 468 2337; invader.co.za