Ons weet almal hoe gewild Isuzu in die kommersiële ligtevoertuigmark is. Jy hoef maar net rondom jou in die verkeer te kyk om te sien hoeveel wit enkelkajuit-KB-bakkies op pad is om iewers pakkies en meubels af te lewer.

En elke tweede plaasbakkie met honderdduisende kilometer op die klok is ’n Isuzu. Dít op sigself is ’n sprekende bewys van die vervaardiger se reputasie in die kommersiële en landbousektor.

Nadat die vorige KB in 2012 ’n onrimpeling ondergaan het – ná ’n dekade se getroue diens – het Isuzu besluit om die leefstylmark te betree met die D-Max, met beperkte sukses.

Mededingers met ervaring in die leefstylmark het reeds met spesiale weergawes van hulle bakkies gespog; dit was Legend hier en Dark Label daar, en die jongste gier is natuurlik hoëverrigtingbakkies soos die Raptor en GR Sport. Dit is om dié rede dat Isuzu besluit het om ook bietjie uitspattig te raak met ’n ekstreme leefstylbakkie.

Dis hier waar Arctic Trucks die toneel betree. Dié Yslandse maatskappy pas standaardvoertuie aan sodat hulle die strawwe weerstoestande en ongenaakbare landskap van die Noordpool kan trotseer, en Arctic Trucks se bakkies ry deesdae ook in Antarktika rond.

Isuzu Suid-Afrika het by sy Japannese moedermaatskappy toestemming gekry om saam met Arctic Trucks te werk, en die resultaat is die indrukwekkende D-Max Arctic AT35 4x4.

Breëbors

Jy gaan ’n AT35 nie sommer miskyk nie. Sy vet 35x12.50 R17 LT BF Goodrich- radikale bande gaan beslis daarvoor sorg. Die AT35 is ook aansienlik hoër as enige ander D-Max – hy’t 48 mm méér grondvryhoogte as die naashoogste 3.0 LX 4x4 met sy 255/60 Continental-bande op 18 duim-wielvellings.

Maar die grondvryhoogte is net ’n klein deel van die geheelbeeld, want die wawye AT35 pas beswaarlik in ’n inkopiesentrum se parkeerplek. Die standaard-D-Max se wielboë is plek-plek uitgesny deur tegnici by Isuzu se Struandale-aanleg in Port Elizabeth.

Groter en breër Arctic Trucks-wielboë word dan aangebring om plek te maak vir die reusebande. Arctic Trucks sweis ook plate aan die leerraamonderstel om die hoërgraadvering deur die Amerikaanse skokbrekervervaardiger Fox te huisves.

Buiten die fisieke verskille is daar ook ’n Arctic Truck-plakker op die agterklap indien jy ’n AT35 verwar met ’n gewone D-Max (iets wat hoogs onwaarskynlik is).

Hoe ry hy?

Die AT35 gebruik dieselfde 3 l-turbodiesel wat jy in ’n gewone D-Max aantref. As jy dus ’n jaagbakkie verwag, gaan dié enjin jou teleurstel.

’n Standaard-D-Max is reeds aan die stadige kant vergeleke met sy mededingers, en nou moet die stomme enjin boonop daai enorme wiele aan die rol kry. Die traagheid is voor die hand liggend wanneer jy by ’n verkeerslig wegtrek, maar dis genadiglik nie ’n slakkepas nie.

En as die AT35 eers op volle galop is, pla die bande glad nie; dan skop daai kenmerkende Isuzu-dieselenjingeraas in. Buiten die gekletter uit die enjinkap moet jy ook gewoond raak aan motoriste wat grootoog loer om te sien wat so hoog langs hulle uittroon.

In ’n verrassende wending is die reusebande verbasend stil op ’n teerpad, selfs teen snelwegspoed. BF Goodrich verdien ’n pluimpie vir dié uitstekende bande, maar dit is wel te verstane dat die ooraanbod rubber veroorsaak dat die AT35 so effens rondsweef teen 120 km/h – die bande is immers nie ontwerp vir die snelweg nie.

Die AT35 kom tot sy reg sodra jy ’n grondpad kry. Hier waar die oppervlak losser is en jou snelheid daal, kraai die AT35 koning. Slaggate wat jy normaalweg sou probeer vermy as gevolg van laeprofielbande en groot wielvellings wat deesdae dikwels op dubbelkajuitbakkies te sien is, kan jy nou sonder skroom aandurf.

Die AT35 het ook ongeëwenaarde vastrapvermoë op plaaspaaie. Die sandduine van die Brakkeduine-4x4-roete by Humansdorp kon die AT35 ook nie stuit nie. Los sand het soortgelyke eienskappe as diep sneeu, iets waarin Arctic Trucks presteer. Ongeag hoe los, diep of sag die sand is, die AT35 draf dit kaf asof hy harde grondpad ry.

Mededingers
Mededingers

Slotsom

As jy onseker is wat jou te doen staan wanneer die AT35 ’n pap band kry, is dit verblydend om te hoor dat die noodwiel ’n ewe groot 245/70 R16-band op ’n 16 duim-6.5J-staalvelling is.

Jy kry ook ’n ResQ-bandherstelstel om te kyk of jy die BF Goodrich-band kan herstel vóór jy hom noodgedwonge moet vervang.

Isuzu Suid-Afrika sê hy gaan 50 AT35’s per jaar op aanvraag bou – eerder as wat jy dus jou eie Isuzu na ’n veldryombouer neem, kan jy nou ’n splinternuwe radikale bosbakkie van ’n winkelvloer af ry wat slaggereed is en boonop volledig deur die vervaardiger ondersteun word.

SPESIFIKASIES

Enjin: 2 999 cc-viersilinderturbodiesel

Krag: 130 kW @ 3 600 r.p.m.

Wringkrag: 380 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Brandstofverbruik: 8,6 l/100 km (volgens die vervaardiger)

Tenk: 80 l

Grondvryhoogte: 268 mm

Nader- en vertrekhoek: 36° en 28°

Oorbrughoek: 31,4°

Waaddiepte: 718 mm

Tarragewig: 2 130 kg

Vraggewig: 911 kg

Sleepvermoë: 2 900 kg

Waarborg: 5 jaar/120 000 km

Diensplan: 5 jaar/90 000 km

Veiligheidsgradering: (EuroNCAP, 2012)

Model getoets: Isuzu Arctic AT35 VS 3.0 D-MAX 4x4 LX DC

Prys: R785 000