Kyk in enige parkeerterrein in Suid-Afrika rond en jy sal dosyne bakkiegebaseerde sportnutsvoertuie sien. Kan jy nog onthou wie die eerste een vervaardig het? Dit was Isuzu se bokserige Frontier in 1998. Dit was egter eers toe Toyota byna ’n dekade later sy Fortuner bekend stel dat dié deel van die mark ontplof het. Deesdae verkoop Toyota ’n duisend Fortuners per maand.

Baie ander vervaardigers het al probeer om ’n snytjie van dié winsgewende koek te kry met soortgelyke sportnutsvoertuie – dink maar aan die Ford Everest, Mitsubishi Pajero Sport en Chevrolet Trailblazer. Nou het Isuzu ook in die kryt geklim met die MU-X, wat op die Trailblazer-platform gebou word. (Nuwe Trailblazers word nie meer in Suid-Afrika verkoop nie sedert General Motors aan die land onttrek het.)

Die MU-X lyk effe soos ’n Fortuner en ’n aks soos ’n Trailblazer. Niks daarvan staan uit of trek die aandag nie. Dis ’n introvert. Dit het selfs ’n introvertnaam! (Die naam staan blykbaar vir “multi-utility crossover”.) Maar nes by R2-D2 in Star Wars kan ’n lukrake naam en nederige buitekant ’n buitengewone karakter versteek...

Ek het onlangs met die nuwe MU-X van Johannesburg af tot by Clarens en terug gery. Die rit na die Oos-Vrystaat was vervelig.

Ek het probeer fout vind met die Isuzu, maar niks het geratel nie, die padgeraas was minimaal, die kruisspoedreëling het gewerk en die satellietnavigasiestelsel het ons betyds daar gekry.

Die klankstelsel was ordentlik, die skerm groot, die lugverkoeling intuïtief en die binnespasie genoeg. My tas het verlore gelyk in die yslike bagasieruim, wat minder yslik geword het toe ek die twee ekstra sitplekke uit die vloer oopvou. (Isuzu sê dié sitplekke is gepas vir volwassenes, maar soos die meeste van dié sitplekke in sewesitplekvoertuie is hulle eerder vir kinders.)

My enigste klagte was dat dit vier probeerslae geneem het om my iPhone met die Bluetooth te laat gesels. Toe gaan ry ons op ’n 4x4-paadjie onder sandsteenkranse, en dis hier waar die MU-X se ware karakter na vore gekom het. Hy het deur modderige dongas gery en teen hellings vol kopgrootte klippe gebrul.

Die 3,0 l-dieselenjin – dieselfde as die een in die KB-bakkie – het aan die werk gespring met daai gromgeluid wat Isuzu-eienaars liefhet. En die vering is ’n droom. Dit is duidelik dat hierdie kar ideaal sal wees vir ’n gesin wat gereeld lang afstande aflê na wilde bestemmings – plekke waar jy nie in die sand wil vassit nie en waar jy wil hê die enjin moet aan die brand skop elke keer as jy die knoppie druk (sleuttelloos – netjies!).

Die enjin is dalk ’n ouer model, maar minstens het dit al bewys dat dit op die lange duur betroubaar is, anders as baie van die kleiner turbodiesels wat ’n mens by die mededingers kry.

Dié betroubaarheid – saam met ’n laestrekratkas en elektroniese katoeters soos vastrapbeheer, stabiliteitsbeheer en afdraande-beheer, asook ’n vyfster-ANCAP-veiligheidsgradering, en al die kajuitgeriewe wat ’n mens in 2018 verwag – maak van die MU-X ’n ordentlike sportnutsvoertuig waarmee jy enige plek kan gaan en enigiets kan doen. (Daar is ook ’n 4x2-model met dieselfde enjin en ’n goedkoper prys.)

Maar sal jy ’n MU-X pleks van ’n Fortuner koop? Die eweknie-4x4-Fortuner het soortgelyke eienskappe aan die MU-X. Dit het ’n meer stylvolle ontwerp, en meer wringkrag, maar dit kos ook byna R18 000 meer. Dit hang af van watter soort mens jy is.

Kry ’n Fortuner as jy daarvan hou dat die skare jou keuse bevestig. Maar kry die Isuzu as jy sandale na formele geleenthede dra omdat dit prakties is. Soos R2-D2 is dit ’n eerlike stuk masjinerie met ’n hart van goud.