Ons het verlede jaar die bekendstelling van die toe nuwe Isuzu MU-X bygewoon, maar eers die afgelope klompie maande ordentlik leer ken. Toast Coetzer en Sophia van Taak het die Vrystaat platter gery in een met die verfilming van Weg se TV-reeks Weg Agterpaaie Vrystaat, en meer onlangs het ek die noorde van KwaZulu-Natal en die suide van Mosambiek deurkruis in ’n MU-X.

Saam het die Weg-span meer as 4 500 km geklok en ons het in die proses ’n paar dinge geleer.

Dis weer bevestig dat as jy hom kan bekostig, ’n bakkiegebaseerde sportnutsvoertuig bes moontlik die ideale voertuig vir ’n Suid-Afrikaanse gesin is.

Dit geld motors soos die MU-X, die Toyota Fortuner, Ford Everest en die Mitsubishi Pajero Sport. Hulle is gemaklik genoeg in stadsverkeer waar jy skooltaxi moet speel, maar taai, veeldoelig en betroubaar as jy byvoorbeeld in Kaokoland wil gaan vakansie hou.

Die ding wat die meeste teen die Isuzu tel, is juis die gehalte van sy mededingers. Veral die Fortuner verkoop by die duisende. Maar die MU-X het ’n troefkaart van sy eie. Sy dieselenjin.

As daar een ding is wat Isuzu die afgelope 100 jaar uitstekend leer doen het, is dit hoe om ’n dieselenjin te bou vir bakkies en vragmotors.

Dis ’n maatskappy wat sterk glo in KISS (Keep It Simple, Suzi). Die 3 l-turbodieselenjin in die MU-X is dieselfde beproefde en bombestande eenheid wat jy in die duurste D-Max bakkies vind.

Dis die hartklop van hierdie motor, ’n kragtige enjin wat deur die jare ’n welverdiende reputasie opgebou het vir betroubaarheid en lae onderhoudskoste.

Dis nie soseer die krag (130 kW) van die dieselenjin wat indrukwekkend is nie, maar sy wringkrag van 380 Nm wat teen relatiewe lae toere (van sowat 1 800 r.p.m. af) beskikbaar is. Nie net gaan jy lekker toer en sleep op die lang teerpad nie, maar as die sand dik of die modder diep raak, gaan jy danksy 4x4, ’n laestrekratkas en al daai wringkrag jou weg kan loswikkel na ’n kampplek met ’n staanvuur en koue bier.

Die MU-X het lugverkoeling, ’n groot digitale skerm, Bluetooth om met jou foon te praat, leersitplekke, hope spasie, ’n derde ry sitplekke en nog ’n klomp ander dinge wat hom op dieselfde veld laat speel as die ander.

Steeds... Suzi’s is nie sexy motors nie. As die MU-X ’n Suid-Afrikaanse rugbyspeler was, sou sy naam nie iets soos Windhond of Liefling wees nie. Ons praat hier van ’n Lood, ’n Os, ’n Vleis en beslis ’n Domkrag.

Dis die ou wat kliphard sy werk buite sig van die kameras in die binnekamer van die skrum verrig. Dis nie die losskakel met die peroxide-kuif wat vir die trompoppies op die kantlyn knipoog nie.

Maar wees nou eerlik. Sou jy jou en jou gesin in die boendoes toevertrou aan ’n wispelturige Liefling, of gaan jy net voor jy jou tent se ritssluiter toetrek, na jou MU-X onder die kremetart loer en fluister: “Nag, ou grote”.

Die syfers
Die syfers