/

Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) betree ná ’n lang afwesigheid weer die sportnutsmark – onthou jy die Trooper en Frontier?

Dominic Rimmer, IMSA se tegniese hoof, sê die bekendstelling van die mu-X is ’n belangrike mylpaal vir die maatskappy.

“Dit is ’n uitbreiding op ons produkportefeulje. Sportnutse is een van die sektore in die voertuigbedryf wat die vinnigste groei – wêreldwyd én plaaslik. Ons bou voort op die beproefde betroubaarheid en bekwaamheid van die KB-reeks, maar die mu-X bied nuwe vlakke van gerief vir Suid-Afrikaners wat hou van avontuur en die buitelewe.”

Hoewel die mu-X ’n nuweling is in Suid-Afrika, word hy sedert 2013 al in Thailand en onlangs ook in Australië en die Filippyne verkoop – en oral word hy gul ontvang.

BLY TE KENNE. Van buite af lyk dit dalk effens soos die Trailblazer, maar binne­-langs is dit ’n heel ander storie. Die afwerking is modern, maar nie futuris­ties nie. Die knoppies is logies uitgelê en maklik om te verstaan. Daai stuurwiel lyk bekend...

Wat is anders?

Die verskille tussen die ou Trailblazer en die mu-X is redelik omvattend.

Die Chev se standaardligte is vervang met LED-dagrystrokies en dubbele LED-projektorlampe wat outomaties hoër of laer stel wanneer jy ’n wa aan die sleepstang haak.

Die mu-X gebruik dieselfde aluminiumtreeplanke en 18”-allooiwielvellings, maar spog met nuwe LED-agterligte. Van die kant af gaan jy geringe verskille oplet omdat feitlik niks aan die metaalbakwerk verander is nie.

Die mu-X behou die Trailblazer se sesde en sewende sitplekkies wat uit die vloer vou. Die agterste passasiers het hulle eie beheerknoppies vir die lugreëling sodat die kinders self kan kies hoe die temperatuur en blaasspoed moet wees.

Voorlangs is die instrumentepaneel aansienlik anders. Daar is nou ’n lekker groot 9”-raakskerm met satellietnavigasie, ’n radio, Bluetooth en ’n CD-MP3-DVD-speler.

Daar is ook Apple CarPlay en Android Auto vir jou slimfoon met USB-sokke voor- en agterlangs waar insittendes hulle elektroniese toestelle kan laai. Leerbekleedsel is standaard en die bestuurdersitplek is elektriesverstelbaar.

Die stuurwiel – so reg uit die KB-bakkie – is ook met leer oorgetrek, met knoppies vir die klankstelsel, jou selfoon en die spoedbeheer.

DÉJÀ VU. Buitelangs is daar uiteraard trekke na die Trailblazer aangesien die bakwerk grotendeels onveranderd gelaat is. Die treeplanke op ons toets- voertuig was beskadig deur die hindernisbaan wat ons aangesê is om te ry. Haal dit af as jy beplan om jou mu-X bos toe te neem.

Ry veilig

Die Isuzu mu-X is toegerus met sluitweerremme, elektroniese remkragverspreiding, noodrembeheer, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, afdraandebeheer (slegs in laestrek) en ’n funksie wat jou help om teen ’n steil bult weg te trek.

Ander veiligheidstelsels sluit in lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, gordynlugsakke wat die lengte van die binneruim dek en staalstawe in die deure en sypanele wat jou passasiers beskerm teen ’n botsing van die kant af.

’n Trukamera help met parkering terwyl ’n immobiliseerder en alarm jou bagasie oppas terwyl jy ’n draai deur die markstalletjies stap op soek na aandenkings.

Hoe ry hy?

Twee modelle is beskikbaar: ’n 4x2 en 4x4. Albei gebruik dieselfde 3 l-turbodieselenjin as in die KB300-bakkie wat 130 kW en 380 Nm uitskop.

Die kraglewering is effens gedemp om hom betroubaar eerder as indrukwekkend te maak. Ons weet hy kan meer wringkrag lewer, want in Australië word dieselfde enjin gestem om 430 Nm te lewer in die D-MAX (hulle weergawe van ons KB-bakkies).

Die deeltydse viertrekstelsel word aangeskakel deur bloot ’n knop langs die handremhefboom te draai, maar laestrek kan slegs ingehaak word as jy stilstaan en die ratkas in neutraal plaas.

Daar is ongelukkig nie ’n agterste ewenaarslot soos in die KB-bakkie nie, want die mu-X se agteras word saam met die res van die voertuig in Thailand vervaardig. En nee, daar is geen planne om die mu-X in Suid-Afrika te bou nie, tensy hy die Toyota Fortuner se verkoopsyfers kan ewenaar.

Die rit voel beslis sagter as die Chevrolet Trailblazer s’n, maar daar is ook ’n klein bietjie meer bakwieg deur die draaie. Rimmer verduidelik dat die vering sagter gestel is om ’n gemakliker rit as die ou Trailblazer te lewer, en die leerraamonderstel is met breër dwarsbalke versterk.

Slotsom

Ons dink die Trailblazer moes reg van die begin af ’n Isuzu gewees het, dan sou hy nie so ’n agterstand gehad het teen sy mededingers nie.

Dit gaan bars om die Toyota Fortuner se verkope in te haal – veral in Suid-Afrika – maar die mu-X se prys vergelyk goed en Toyota (Fortuner 2.8 GD-6 4x4 6AT, R646 800) en Ford (Everest XLT 3.2 6AT 4WD, R654 900) gaan moet keer vir hulle wickets.

Dis slegs die Mitsubishi Pajero Sport 2.4 D4 MIVEC 4x4 A/T wat teen R599 995 ’n meer bekostigbare pakket aanbied.

SPESIFIKASIES

Model mu-X 3.0 4x4

Enjin 2 999 cc, viersilinder-turbodiesel

Krag 130 kW @ 3 600 r.p.m.

Wringkrag 380 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-outomaties

Brandstofverbruik 7,9 l/100 km

Tenk 65 l

Maksimumsleepgewig 3 000 kg

Waaddiepte 600 mm

Grondvryhoogte 230 mm

Waarborg en padbystand 5 jaar/120 000 km

Diensplan 5 jaar/90 000 km

Pryse Isuzu mu-X 3.0 4x2 AT6 R 568 000; Isuzu mu-X 3.0 4x4 AT6 R 629 100