foto’s: Cyril Klopper

Die verhaal van hoe Renault die Duster by sy Roemeense filiaal, Automobile Dacia, gekry het, herinner sterk aan die storie van Jan en die boontjierank. ’n Mens kan amper sê Renault het met die Duster ook ’n gans wat goue eiers lê.

Sedert sy bekendstelling in 2010 is meer as 2 miljoen Dusters al wêreldwyd verkoop – hetsy met die Dacia- of Renault-kenteken. Mense is gaande oor dié kar, selfs hier in Suid-Afrika, omdat hy soveel bied vir betreklik min geld.

Dis egter die 4x2-weergawe wat die meeste aftrek kry, terwyl die allewielaangedrewe model dikwels as oorbodig beskou word. Die vraag is dus of daai 4x4-knoppie werklik nodig is en of jy eerder moet volstaan met voorwielaandrywing.

Binnelangs

Die binneruim van die Duster 4x4 is spartaans, en dis ’n goeie ding, want daar is nie juis hoekies en gaatjies waar stof kan wegkruip nie.

Die instrumentepaneel het die gebruiklike knoppies om hooffunksies soos die lugreëling te beheer, maar vir ander reisinligting gebruik jy die raakskerm of die knoppies op die stuurwiel. Die Duster 4x4 se raakskerm het ’n nuwe 4x4-inligtingsblad wat onder meer die nader- en vertrekhoek asook kompasrigting aandui. Dis gaaf, maar eintlik net ’n foefie. W

at ongelukkig lastig is, is dat die USB-sok bó die raakskerm geplaas is, wat beteken jou selfoon se kabel hang alewig in die pad van die raakskerm en ander knoppies. Ons wens Renault het die USB-sok eerder langs die 12 V-kragpunt ónder die kontroles geplaas.

Die sitplekke is gemaklik en selfs ná ’n week agter die stuur was ons sitvlak of rug nooit seer nie. Die bagasieruim is lekker groot (414 l) en jy sukkel nie om die hele gesin se koffers ingelaai te kry nie.

Só ry hy

Ons het die Duster 4x4 van Johannesburg af agterpad langs tot by die Augrabies-waterval gery. Dit was ’n rit van meer as 1 000 km waarvan verreweg die grootste deel grondpad was met ’n paar sand- en moddergate tussenin.

Die allewielaandrywing was meestal op outomaties gestel en die vastrapbeheer het gehelp dat die Duster nooit ’n voet verkeerd gesit het nie. Wanneer ons ’n draai op ’n breë grondpad té vinnig neem na die Duster se sin, het die vastrapbeheer binne millisekondes ingeskop en die sywaartse gly gestuit.

Wanneer ons ’n moddergat teëgekom het, het ons die kans benut om die sluitmodus van die allewielaandrywing te toets. Met die draai van ’n knop skakel jy die vastrapbeheer af en dwing die enjin om sy wringkrag na al vier wiele te stuur. Maar selfs met die banddruk op 1,8 bar kon ons voel die modder wil die Duster amper-amper insluk wanneer ons stadig deurry. Dit is beter om ’n bietjie momentum te behou, maar dan beland modder op die enjinkap en voorruit – nie dat dit ons pla nie, want ’n vuil ryding is immers ’n ryding wat reg gebruik is.

In die Kalahari het ons dikwels diep sand teëgekom waar die middelmannetjie platgeskaaf is deur voertuie wat voor ons hierdeur is. Hier het die Duster 4x4 glad nie gesukkel nie – hoewel jy die sandmiddelmannetjie teen die onderstel kan hoor skuur, reken die Duster moeiteloos daarmee af.

Op erge sinkplaatpaaie het die voorste passasiersitplek mettertyd begin skud, maar die gerammel het opgehou nadat ons hom in sy spore agtertoe verstel het. Dit behoort nie ’n probleem te wees op beter grondpaaie of met ’n passasier se gewig op die sitplek nie.

Die 1,5 l-dieselenjin het hom ook goed gedra op die N14-snelweg terug Johannesburg toe en ons het nooit gesukkel om stadiger voertuie verby te steek nie.

Wat padgeraas betref, is ons ook heel tevrede. Die standaard-Bridgestone Duelers is tjoepstil en die bakwerk en syspieëltjies fluit nie in die wind nie.

Ná ’n week agter die stuur is ons enigste klagte die handratkas. Die eerste rat is kort – goed, dis nuttig as jy tegniese terrein ry, maar in spitsverkeer moet jy binne ’n sekonde na tweede oorskakel. Die ratgange is ook oneweredig gespasieer; om van vyfde af te rat na vierde is maklik, maar jy sukkel soms om van derde na tweede af te rat. Die hefboom glip dan té maklik in vierde rat, en dan stol jy die enjin.

Ná ’n paar dae het ons die ratkas onder die knie gehad, maar dit was ’n doelgerigte eerder as ’n natuurlike proses. Ons moet ook noem dat ons nie met die ratkas gesukkel het op die amptelike bekendstelling nie; die probleem is moontlik beperk tot ons toetsvoertuig.

Slotsom

Ons weet reeds die Duster is uitstekende waarde vir geld, en die 4x4-weergawe is nie noemenswaardig duurder as die 4x2-modelle nie – hy is inderwaarheid goedkoper as die vlagskip-4x2-model. As jy dus beplan om jou Duster na Botswana, Mosambiek of Namibië te neem is die 4x4-opsie beslis die regte besluit.

KABEL
VUIL UIL Die Renault Duster 4x4 skrik nie vir sand nie, maar sy beperkte grondvryhoogte kniehalter hom effens. Groter veldrybande sal van hom ’n beter veldryvoertuig maak, maar dan moet jy ook 10 mm-wiel- en bakwerkspasieerders laat aanbring
Mededingers
Mededingers
SPESIFIKASIES

Model: 1.5 dCi Dynamique 4x4

Enjin; 1 461 cc-viersilinderdiesel

Krag: 80 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag: 260 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-handrat

Brandstofverbruik: 7 l/100 km

Tarragewig: 1 320 kg

Nader- en vertrekhoek: 30° en 34°

Sleepvermoë: 1 500 kg

Grondvryhoogte: 210 mm

Waarborg: 5 jaar/150 000 km

Diensplan: 3 jaar/45 000 km

Veiligheidsgradering: (EuroNCAP, 2017)

Prys: R327 900