Onlangs het ons die bekendstelling van die Volvo XC40 bygewoon en reeds in Weg Ry & Sleep #11 ons eerste indrukke met jou gedeel. Maar nadat Volvo ’n toetsmodel by ons kantoor afgelewer het, kon ons hom deeglik op die proef stel – op die strande van die Weskus en in die Boland se moddergate.

Ja, ons het die Volvo op plekke getoets waar die gemiddelde XC40-eienaar waarskynlik nooit gaan ry nie. Net om te kyk of hy darem kán.

Só ry hy op grond

MODDERBAD. Die XC40 skrik nie vir modder en sand nie, maar hindernisse soos rotse en grondwalle is sy Achilleshiel. Die T-vormige LED-ligstrokie in die hooflig heet “Thor se hamer” en is genoem na die timmer-implement van die Noorse god van donderweer. Liggies in al vier deurknippe skyn wanneer jy die XC40 met sy afstandbeheersleutel oopsluit.

Ons toetsmotor is toegerus met 19”-Pirelli-P-Zero-bande waarvan die profiel nie té laag is nie, maar dis allesbehalwe veldrybande en ons kon dus nie die banddruk noemenswaardig verlaag nie. Dié bande se treeoppervlak is ook meer bedoel vir teer as grond.

Die XC40 het ons nietemin beïndruk. Dié motor is lig genoeg (1 698 kg) om maklik oor los sand te skaats, en as jy die elektroniese veldrymodus-knoppie op die raakskerm druk, verander die enjin se kragkurwe sodat die wiele nie uitermate tol en ingrawe nie. Trouens, deur misterieuse elektroniese toordery voel die XC40 se veldrymodus amper soos meganiese laestrekratte.

Die veldrymodus werk ook uitstekend in modder. Ons het verwag die laeprofielbande gaan nie hond haaraf maak met die glibberige toestande nie, maar die allewielaandrywing het presies geweet wanneer en waarheen die krag tussen die wiele verdeel moes word.

Deur misterieuse elektroniese toordery voel die XC40 se veldrymodus amper soos meganiese laestrekratte.

Die Sweedse XC40 is uiteraard vir sneeu- en ystoestande ontwerp en daarom is modder nie té veel van ’n uitdaging vir hom nie. Die XC40 se nader- en vertrekhoek is danksy stomp voor- en agterbuffers wat nie ver verby die wiele uitsteek nie, uitstekend – onderskeidelik 21,7° en 30,4°. Die grondvryhoogte (211 mm) is ook gaaf, maar die vlak oorbrughoek veroorsaak dat sy pens op die grond skuur as jy oor kort, steil hobbels wil ry.

Kunsmatige intelligensie

Ons het die XC40 se Pilot Assist- programmatuur in spitsverkeer op die N1-snelweg by Kaapstad getoets. Met een druk van ’n knoppie op die stuurwiel het ons die kruisspoedbeheer aangesê om ’n volgafstand van een voertuiglengte tussen ons en die motor voor ons te handhaaf. Met ’n ander knoppie het ons die spoedbeheer gestel om die spoedgrens te gehoorsaam. Die Pilot Assist het die stuurwiel oorgeneem en ons kon in druk verkeer agteroor sit en letterlik alles aan die XC40 oorlaat.

Solank die verkeer teen 20 km/h of minder kruip, het die XC40 geen insette van die bestuurder nodig nie – nie eens om ’n draai nie – maar sodra die konvooi spoed optel, moet jy nou en dan jou hand op die stuurwiel sit om die blikbrein gerus te stel.

Ons het ’n stophorlosie gebruik om te meet hoe gereeld die Volvo menslike insette nodig het: Oor ’n tydperk van 10 minute het die XC40 vir 9 minute en 24 sekondes self reggekom en net nou en dan gevra dat die stuurwiel liggies aangeraak moet word om te wys die bestuurder is nog wakker.

Sodra die konvooi spoed optel, moet jy nou en dan jou hand op die stuurwiel sit om die blikbrein gerus te stel.

Die stelsel is egter nie perfek nie. Die minimumvolgafstand van een voertuiglengte klink dalk min, maar vir Kaapse bestuurders is dit ’n uitnodiging om in te druk – en dan skrik die Volvo sy jis af en trap self die remme plat – tot groot konsternasie van die motors agter jou. Hoewel die outomatiese remfunksie homself bewys het, stel ons dus nie voor jy knip ’n uiltjie terwyl die XC40 die ou voor jou volg nie.

En wanneer die XC40 ’n skerp draai teen ’n stinkspoed neem, verloor die blikbrein kop en dan moet jy vinnig ingryp en help om die wiele in die baan te hou. Pilot Assits is dus slegs ’n hulpmiddel en baie beslis nié ’n assistentbestuurder nie.

Binne en buite

Die binneruim is werklik netjies en al die panele lyk én pas goed. Ons toetsmotor het sitplekke in wit leerbekleedsel gehad. Hoewel dit ongelooflik mooi is, wil jy huil as jy sien hoe maklik dit vuilsmeer. Die bestuurdersitplek se bekleedsel het gelerig vertoon weens sweterige hande en stowwerige broeke wat die afgelope maand daarmee kennis gemaak het.

As jy in ’n XC40 belang stel, raai ons jou beslis aan om die rooi, bruin of swart leerbekleedsel te kies.

Slotsom

Die XC40 is ’n mooi ryding, maar skrik glad nie vir ’n slegte paaie nie. Hy lyk dalk goed onder die blink liggies van die stad, maar sy hart dié lê in die platteland.

SPESIFIKASIES

Model XC40 D4 Geartronic AWD R-Design

Enjin 1 969 cc, viersilinder-turbodiesel

Krag 140 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 400 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties

Topspoed 210 km/h

Brandstofverbruik 5,1 l/100 km

Tenk 54 l

Grondvryhoogte 211 mm

Tarragewig 1 698 kg

Bagasieruim 460 l (plus 74 l onder die vloer)

Maksimumsleepgewig 2 100 kg

Diensplan en waarborg 5 jaar/100 000 km

Pryse T3 Momentum (handrat) R486 500;

T3 Inscription (handrat) R518 300; T3 R-Design (handrat) R525 300;

D4 Geartronic AWD Momentum R599 000;

T5 Geartronic AWD Momentum R605 300;

D4 Geartronic AWD Inscription R630 700;

T5 Geartronic AWD Inscription R637 100; 

D4 Geartronic AWD R-Design R637 800;

T5 Geartronic AWD R-Design R644 100.