Clive Cox, een van die mees gesoute woonwaontwerpers in die land, het hom by Conqueror aangesluit. Clive was voorheen by Jurgens Ci waar hy hom die afgelope 14 jaar op ontwikkeling en ontwerp toegespits het.

Conqueror, wat hoofsaaklik op die bou van boswoonwaens en boswaens fokus, het intussen ’n nuwe padwaprojek van stapel gestuur.

Clive is as produkontwikkelingshoof aangestel en gaan met Conqueror se padwaens aan die werk spring.

Conqueror is ’n jaar of twee al besig om sy padwamodel, die Roadster, markgereed te kry en het einde laasjaar die prototipe bekend gestel.

Conqueror beoog om ook ’n ligte Roadster te bou wat jy met jou gewone ligtevoertuigrybewys mag sleep (dus met ’n BVM van minder as 750 kg).

In sy jare by Jurgens Ci is meer as 20 000 woonwaens in die Jurgens-fabriek gebou, en in daardie tyd het Clive die maatskappy se hele reeks, wat handelsname soos Gypsey, Sprite, Safari en Jurgens self insluit, herontwerp en vernuwe.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die ligtewaprojek wat voorlê, en ek het reeds ’n hele paar idees,” sê hy. “Waens in dié gewigsklas is ’n groot uitdaging: Daar moet ’n balans wees tussen die tegnologie, boumateriale en die kleinhandelprys. Onthou, ligter beteken kleiner en dus ook goedkoper.”

Clive het hom as meganiese ingenieur bekwaam voor hy die wêreld van woonwaens betree het.


Lees hiernog nuusbrokkies wat in Weg Ry & Sleepse Maart-uitgawe verskyn.