Bekwame buksie

2017 SUZUKI JIMNY

Ons het vir sowat drie jaar met ’n 2014-model Honda Civic gery wat Michael by sy suster geërf het, maar die motor het ons te veel probleme begin gee. Ons wou van hom ontslae raak voor hy heeltemal uitmekaargeval het.

Ons wou ook meer begin kamp en ’n Civic is nie juis die voertuig daarvoor nie. Ons wou nog altyd ’n 4x4-voertuig gehad het, maar die prys was ’n groot oorweging. En omdat dit net die twee van ons is, hoef dit nie ’n groot voertuig te wees nie. Ons was net op soek na iets prakties waarin ons al ons kameratoerusting kan pak (Michael is ’n video- en fotograaf).

Natuurlik moes die voertuig ook lig op brandstof wees, kompak vir stadsverkeer, en taai en betroubaar vir wanneer ons oor naweke die wêreld gaan verken. Ons het nog nie ons huidige reis beplan toe ons in 2017 die Suzuki Jimny nuut vir R250 000 gekoop het nie, maar ons is nou bly oor ons besluit, want hy is heeltemal opgewasse vir ’n toer soos dié.

Ons noem mekaar ‘Schnappi’, en dus het ons Jimny die derde Schnappi in ons verhoudig geword. Hy het selfs ’n plakker met sy naam op.

Ons sou egter graag ’n groter brandstoftenk wou hê, want sy 40 l-tenk raak vinnig leeg. Daar is ook nie vreeslike tierlantyntjies binnelangs nie, maar dit pas ons, want dit beteken daar is minder goed wat kan breek.

Ons is gaande oor die Jimny se kortasafstand en sy indrukwekkende laestrekratte. Hy is ook so liggewig dat ons so te sê nooit vassit nie. Ons sien ook hoe die kar mense keer op keer verbaas met sy veldryvermoë teenoor groter 4x4-voertuie. Ons het die vering laat opgradeer met ’n volledige EFS-stel en hom ook toegerus met Zombie Off-Road-pensplate, beskermers vir die volgarms se skarniere, oordraratkasbeskerming, ’n agterste herwinningspunt en sleepstang.

Ons het ook vir hom ’n Front Runner-dakrak laat aanbring met heelwat bykomstighede soos ’n stoeptent, noodwielpasstuk, kolligte en jerrykanne. Verder het ons die Jimny ook met ’n teenroesmiddel behandel.

Wanneer ons weer geld het, gaan ons hom toerus met ’n ewenaarslot, bosbreker, glyplanke en ’n langafstandbrandstoftenk. Ons het die African Backbone Caprivi-wa gekoop juis omdat mens hom met ’n Jimny kan sleep en ons het sovêr geen klagtes nie.

Ons het sorgeloos al meer as 6 000 km – van Kaapstad tot hier in die Hwange- nasionale park – gesleep. Dit vat egter effens langer wanneer jy iets op die haak het, maar ons is nie haastige mense nie en dit beteken ook ons sien meer wonderlike dinge langs die pad. 

Ons kry gemiddeld in die omgewing van 13.5 l/100 km wanneer ons die Caprivi sleep, en 10.5 l/100 km sonder die wa. Met die wa op die haak kan jy nie die Jimny se agterdeur oopmaak nie en waneer jy iets in die bagasieruim wil bykom – wat in ons geval gereeld is omdat al die kameratoerusting daar gepak word – moet jy eers die wa afhaak. Dit kan nogal pla, maar ons het besluit om nie so lui te wees nie en dit net te doen. 

Die grootste uitdaging wat ons tot dusvêr met ons sleepkombinasie moes trotseer, was die Namibiese paaie – veral die lang sinkplaatpad tussen Aus en Twyfelfontein. Ons moes hare op ons tande hê en het ’n klompie boute en moere langs die pad verloor. Ons kon dit gelukkig self regmaak, maar dit het ons geleer om te onthou om meer gereeld ons voertuig na te gaan.

Dis regtig moeilik om net een gunsteling-kampbestemming te kies. Kan ons sê die héle Namibië? Dié land is skouspelagtig mooi – van die rotsagtige maanlandskap in die Namib-Naukluftpark, tot die graslande in die Caprivi.

Maar as ons móét, sal ons Spitzkoppe as ons gunsteling kies. Die uitgestrekte vlaktes en staanplekke wat so ver van mekaar is, laat jou voel of jy die enigste mens op die planeet is. En wanneer die sonsopkoms- en ondergang die reuserotse oranje inkleur, weet jy dis ’n spesiale plek dié. Daar is werklik nie ’n beter manier om jou dag mee te begin of eindig nie.

Hoe lyk jóú wiele?
Stuur ’n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.