Die oorspronklike Renault Koleos, wat meer as ’n dekade gelede hier te koop was, was basies ’n Scenic-gesinsbussie wat effens opgewarm is met ’n viertrekstelsel en dik plastieksypanele om die kar teen doringtakke te beskerm.

Renault het nie baie van hulle verkoop nie en die model het later ’n stille dood gesterf. Maar die ouens wat wel een gehad het, het nogal sy lof besing –’n bietjie soos lede van ’n kultus wat nie wil toegee die hoofleier is nou nie heeltemal so geseën as wat hy voorgee om te wees nie.

Nou is daar, so effens uit die bloute, ’n nuwe Koleos te koop... en dis ’n pierewaaier wat meer as net ’n stel onderklere met die baie bekwame Nissan X-Trail deel.

Buitelangs

REIS NA PARYS Die nuwe Koleos lyk spoggerig verby en steek glad nie af teen sy stylvolle mededingers soos die Hyundai Tucson nie. En dan het hy boonop dieselfde 4x4-meganika as ’n Nissan X-Trail.

Die Koleos bevind hom in ’n mededingende segment waar hy A-span-bielies soos die Volkswagen Tiguan, Toyota Rav, Honda CR-V en Hyundai Tucson die stryd moet aansê. Hy gaan dus ’n paar troefkaarte moet hê as hy sy stempel wil afdruk. Een daarvan is sy grootte. Die ander sy voorkoms.

Die Fransman is langer, breër en minstens net so hoog soos sy mededingers, en dít, saam met die futuristiese ontwerp wat geskoei is op die uitspattige Renault Megane, sorg vir ’n imposante teenwoordigheid op die pad.

Die ontwerpers was nie skaam om LED-ligte, vlymskerp lyne en ’n swetterjoel chroomafwerkings te gebruik om die kar houding te gee nie.

Binnelangs

Die grootte van die kar help nie net om die koppe te laat draai nie, maar dit beteken ook daar is lekker baie ruimte binne. ’n Mens sou dink die Koleos is groot genoeg om sewe sitplekke te huisves, maar die feit dat daar net plek vir vyf mense is, het ook sy voordele.

Want dié vyf het oorgenoeg been-, kop- en elmboogspasie, plus daar is 464 l laairuimte wat rek tot meer as 1 794 l as jy die agterste sitplekke platslaan.

Tipies Frans is daar ’n horde ander bêreplekkies voor en agter vir dinge soos ’n botteltjie water of koeldrank, jou donkerbril en kragbank, en, ja, ’n pakkie biltong en droëvrugte om aan te peusel.

Ons het die topmodel in die reeks, die Koleos Dynamique 4x4 (R479 900), gery en die prys sluit satellietnavigasie en elektriesverstelbare leersitplekke in. Selfs in die goedkoopste Expression 4x2 (R399 900) is satellietnavigasie en die digitale instrumentasie standaard. Al die moderne kommunikasiehulpmiddels soos Apple Car Play en Android Auto wat jou selfoon laat kommunikeer met die kar, is teenwoordig.

As jy hard genoeg soek, gaan jy harde plastiek vind, maar die oorheersende indruk is een van ’n motor wat netjies afgewerk is.

Onder die enjinkap

In ’n poging om dinge so eenvoudig (en dus so goedkoop) as moontlik te hou is daar net een enjin beskikbaar in die Koleos-reeks wat in Suid-Afrika verkoop word. Dis ’n 2,5 l- petrolenjin met 126 kW en 233 Nm wringkrag. Jy gaan nie versnel- of sleeprenne wen met dié syfers in so ’n groot motor nie, maar as ’n gemaklike eerder as gejaagde rit vir jou belangrik is, gaan dit jou nie pla nie.

En dalk pla die CVT-ratkas jou dan ook nie, want as jy daarvan hou om die versnellerpedaal plat te trap as jy ’n lorrie wil verbysteek, gaan die gejil van die toere (en die afwesigheid van versnelling) jou waarskynlik net irriteer.

Hoe ry hy?

Met die fokus op gemak eerder as verrigting is die ritgehalte goed. Jy kan kies om met die druk van ’n knoppie voltydse vierwielaandrywing aan te skakel (dit werk net as jy onder 40 km/h ry), of jy kan hom op die langpad in 4x2 sit as jy aandrywing net deur die voorwiele wil hê. Dit spaar petrol.

Die beste is om hom in Auto te los sodat die kar se blikbrein kan besluit watter wiele het op die regte tyd meer of minder aandrywing nodig.

Die Koleos is nie ’n veldryer nie, maar sy pens is 210 mm bo die grond en sy naderhoek van 19º en vertrekhoek van 26º is nie te versmaai nie.

Met ons toetsrit in die Magaliesberg het dit van die oggend tot laatmiddag gesous en die grondpaaie was modderig en glibberig. Die Koleos het heeldag koers gehou sonder enige teken van ’n gesukkel. Die Koleos deel ’n onderstel en ’n groot skeut tegnologie met Nissan se X-Trail, en dít is ’n ryding wat niemand vlak kyk nie.

Slotsom

Die nuwe Koleos is beter as sy voorganger, en saam met ’n nuwe Duster, Captur, Clio en Megane ’n sprekende bewys van hoeveel Renault die afgelope dekade verbeter het.

Daar is min fout te vind met die Koleos 4x4. Tog bly die goedkoper 4x2 waarskynlik die beter kopie vir diegene wat bloot net ’n groot, bekostigbare sportnuts soek.

SPESIFIKASIES

Model: Renault Koleos Dynamique 4x4

Enjin: 2 488 cc-viersilinderpetrol

Krag: 126 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 233 Nm @ 4 000 r.p.m.

Ratkas: 7 spoed-palwisselratkas (CVT)

Topsnelheid: 199 km/h

Brandstofverbruik: 8,3 l/100 km

Tarragewig: 1 565 kg

Nader- en vertrekhoek: 19º en 26º

Grondvryhoogte: 210 mm

Sleepgewig: (gerem) 1 500 kg

Sleepgewig: (ongerem) 750 kg

Veiligheidsgradering: (ANCAP, 2017)

Prys: R479 900