As jy niks van motors af weet nie en iemand vra jou of jy dalk ’n Renault Koleos ken, sou niemand jou kwalik neem as jy dink dis ’n Griekse minnesanger wat nou nog spyt is hy het nooit kans gekry om “My Friend the Wind” saam met Demis Roussos te sing nie.

Diegene wat wel iets van motors weet, sal onthou dat Renault jare gelede ’n opgewarmde Scenic 4x4 verkoop het wat die Koleos gedoop is. Die naam (en die motor) is nou terug op Suid-Afrikaanse bodem, en dis ’n heelwat groter en luukser motor as sy voorganger. Dis basies Renault se weergawe van die immergewilde Volkswagen Tiguan, en as die Franse maatskappy net ’n tiende van die Tiguan se verkope behaal, gaan die Moët & Chandon-proppe behoorlik klap.

Die Koleos – wat sy onderstel en baie van sy binnegoed met die Nissan X-Trail deel – het egter ’n Sanipas van sy eie om te klim voordat die sjampanje kan vloei. Nie net moet hy met sy neef – die bekwame X-Trail – baklei nie, maar staatmakers soos die Toyota RAV, Honda CR-V en Hyundai Tucson staan ook die kryt vol.

Die Koleos is ’n warboel van chroom-afwerkings, skerp lyne en LED-ligte voor en agter, maar die futuristiese ontwerp van dié groot motor help tog om hom te laat uitstaan tussen al die ander sportnutsvoertuie in die mall se parkeerterrein.

Al is die motor groot, het hy net vyf pleks van sewe sitplekke, maar dit beteken dat die bestuurder en passasiers heelwat kop-, elmboog- en beenruimte het. Die kattebak is ruim (464 l) en sluk maklik ’n bergfiets en ’n gholfsak as jy die agterste sitplekke platslaan om die bagasieruimte tot 1 794 l te rek.

Die duurste model in die reeks is die Koleos Dynamique 4x4 teen R479 900 (dis die een wat ons gery het) wat luukses soos satellietnavigasie en elektries-verstelbare leersitplekke insluit.

In die goedkoopste Expression 4x2 (R399 900) is satellietnavigasie, die digitale instrumentasie, asook Apple Car Play en Android Auto deel van die koopprys. Daar is geen keuse in die reeks wanneer dit by ’n enjin kom nie. Dis óf ’n 2,5 liter-petrolenjin met 126 kW krag en 233 Nm wringkrag óf jy koop ’n Volla of ’n Hyundai.

Daar skort niks met hierdie enjin of die gemaklike rit van die Koleos nie, maar die CVT-ratkas is ’n swak plek in sy mondering. Die gespanne gehuil van die toere (sonder te veel merkbare voorwaartse vordering) as jy die versnellerpedaal hard trap, is ’n irritasie. Die oplossing is natuurlik eenvoudig – moenie jaag nie.

Hoewel die duurste Koleos vierwielaandrywing het, is hy nie ’n veldryer nie. Die viertrekstelsel is daar as ’n hulpmiddel as die pad nat is of as jy goeie grondpad en sandpad moet ry. Die grondvryhoogte van 210 mm help dat die pens nie skraap nie. Los jy die viertrekmodus in Auto, sal die motor se blikbrein die meeste van die tyd voorwielaandrywing kies om petrol te spaar.

Dis ’n mooi, groot motor teen ’n mededingende prys, maar waar sy kleinboet die Renault Duster homself reeds bewys het, moet die Koleos van voor af naam probeer maak. Dis nog veels te vroeg om ’n “Someday Somewhere” Roussos/Koleos-duet te voorspel.

Syfers
Syfers