Ford het ’n moeilike jaar agter die rug met heelparty kopers wat vertroue in die maatskappy verloor het nadat amper 50 Kugas op eie bodem uit die bloute aan die brand geslaan het. Nou, nege maande en drie herroepings later, lyk dit of die ergste vure doodgeslaan is.

Buitelangs

As jy ’n aanhanger van die vorige model se voorkoms was, hoef jy nie bekommerd te wees nie, want die ontrimpeling is darem nie té dramaties nie. Die seskantige sierrooster wat ’n Ford-kenmerk geword het, word meestal behou met slegs geringe veranderinge aan die basiese vorm. Die hoofligte is effens breër gemaak terwyl die agterligte heeltemal herontwerp is. Die grootste verandering is dat jy nou ’n groter keuse van wiele het. Die wielgroottes wissel van 17” tot 19”, onderhewig aan ’n spesifieke model of opsioneel op enige weergawe.

Binnelangs

Die stilering van die binneruim raak met elke nuwe model beter, en die gehalte van die materiale is ook hoër. Daar is oorgenoeg beweegruimte, deels danksy die instrumentepaneel wat vereenvoudig is. ’n Elektroniese handremskakelaar (slegs in die Trend- en Titanium-modelle) sorg vir ’n bietjie meer plek tussen die voorsitplekke en daar is ook minder knoppies op die stuurwiel om jou aandag af te trek. Albei outomatiese ratkaste gebruik wisselpedale op die stuurwiel wat help dat die bestuurder amper nooit sy hande van die stuurwiel hoef te verwyder nie.

Luukshede wat standaard is op alle modelle sluit in getinte ruite, elektroniesverstelbare en verhitte syspieëls. Wat veiligheid betref, is alle Kugas toegerus met stabiliteitsbeheer en sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en ’n stelsel wat jou help om teen ’n steil heuwel weg te trek. 

Beter en beter. Die Kuga se binneruim word met elke nuwe geslag weelderiger en die gehalte van die materiale beter. Die instrumentepaneel is vereenvoudig én daar’s minder knoppies op die stuurwiel wat jou aandag kan aftrek. Die skerm lyk amper soos jou foon s’n. Agterste passasiers het ’n gawe uitvoutafeltjie, amper soos op ’n vliegtuig – bon voyage!

Onder die enjinkap

Nes alle vervaardigers word Ford ook gedwing om minder brandstof te gebruik en die planeet minder te besoedel, terwyl daar terselfdertyd van hulle verwag word om geen krag of perde prys te gee nie. Ford het om hierdie rede besluit om slegs sy mees ekonomiese enjins te gebruik: Een turbopetrol- en twee turbodiesel-Ecoboost-enjins.

Die basismodel 1,5 l-Ecoboost spog met 110 kW krag en 240 Nm wringkrag. As jy die sesspoed- outomatiese ratkas bestel, sal Ford die kraglewering opstoot tot 132 kW. Nog ’n interessantheid is dat jy Ford se “intelligente” allewielaandrywing in enige Kuga kan bestel.

Dan is daar die 2 l-turbo- diesel-Ecoboost wat 132 kW en 400 Nm lewer, en nes met die 1,5 l-model is daar ’n funksie wat die enjin outomaties afskakel as jy stilhou – dis om brandstof te bespaar en besoedeling te verlaag. Die dieselmodel gebruik ’n PowerShift-sesspoeddubbelkoppelaarratkas terwyl die petrolmodelle óf op ’n sesspoed-handrat- óf ’n gewone outomatiese ratkas staatmaak.

Ford word ook gedwing om minder brandstof te gebruik en die planeet minder te besoedel, terwyl van hulle verwag word om geen krag prys te gee nie.

Agter die stuur

Ons het ’n 1.5 Ecoboost Trend Outo FWD en 2.0 TDCi Titanium AWD Powershift getoets.

Laasgenoemde is die vlagskipmodel en kos R9 000 meer as die ST-lite, maar as gevolg van die standaardtoerusting en sleepvermoë is dit die model wat ons sou aanbeveel.

Die dubbelkoppelaarratkas is ongelukkig slegs in die dieselmodel beskikbaar, maar as jy diesel verkies en beplan om ’n woonwa te sleep, val hy so reg in jou kraal. Die ratte wissel seepglad en dis verspotmaklik om stadiger voertuie op die pad verby te steek.

Die 2.0 TDCi Titanium AWD Powershift is aansienlik goedkoper, maar jy gaan veldryvermoë prysgee, en die gewone outomatiese ratkas trek nie so sterk deur die ratte nie. In hierdie geval sou ons eerder aanraai dat jy die handrat oorweeg sodat jy self die ratkierie kan swaai.

Opsomming

Gewoonlik hou ons nie daarvan om die duurste model in ’n reeks voor te stel nie, maar die diesel is werklik uitstekend.