Foto's Leon Botha

Ford sal 2017 sekerlik onthou as die jaar toe sy gewilde Kuga hom erge hoofbrekens besorg het: Eerstens het die een Kuga ná die ander op onverklaarbare wyse aan die brand geslaan, maar ’n selfs groter probleem was hoe Ford Suid-Afrika die probleem hanteer het.

Gelukkig het dié model die krisis oorleef, en nou het Ford hom boonop vernuwe – én, sê hy, die fout reggestel.

Onder die nuwe kenmerke tel tegnologie wat beter beskerming bied vir voetgangers in ’n ongeluk, bakrolbeheer en ’n trukamera wat standaard is op al die modelle. Die nuutste weergawe van Ford se MyKey-tegnologie is ook ingesluit. Hiermee kan jy byvoorbeeld die topspoed beperk of die klankstelsel se volume outomaties stilmaak as iemand se sitplekgordel nie ingeklik is nie.

Kleiner enjins is hier om te bly

’n Mens kan kies tussen twee enjingroottes: ’n 1,5 l- of 2 l-petrolmodel óf ’n 2 l-diesel. Die dieselenjin (ook in die vlagskipmodel) skop ’n allemintige 400 Nm uit en jy gaan nié sukkel om met ’n woonwa teen ’n bult uit te kom nie.

Maar vir dié sleeptoets klim ons agter die stuur van die 1,5 l-petrolmodel in. Hy het 160 Nm minder wringkrag as sy dieselboetie en hy word ook nie deur al vier wiele aangedryf nie, maar dit beteken allermins dis ’n minderwaardige sleepvoertuig.

Dertig jaar gelede was dit ondenkbaar om ’n middelslag-padwa met ’n 1,5 l-petrolenjin te sleep. Maar motorvervaardigers het intussen kleiner enjins ontwerp wat sterker trek.

Kyk byvoorbeeld na die destydse Toyota Cressida GLi-6: In die middel tagtigerjare was dié sessilinder 2 l-enjin ’n ordentlike motor, maar dit het net 162 Nm gelewer. Dis ’n goeie derde minder as die 1,5 l-Kuga.

Maar vir dié sleeptoets klim ons agter die stuur van die 1,5 l-petrolmodel in. Hy het 160 Nm minder wringkrag as sy dieselboetie en hy word ook nie deur al vier wiele aangedryf nie, maar dit beteken allermins dis ’n minderwaardige sleepvoertuig.

Daardie jare was ’n 3 l-V6-enjin voor die wa nét die ding. Niemand sou kon fout vind met ’n Ford Sierra XR-6 as sleepvoertuig nie. As ’n mens vandag die XR-6-enjin en die 1,5 l van die Kuga vergelyk, sien jy die XR-6 lewer 237 Nm teenoor die Kuga se 240 Nm, selfs al is die enjin die helfte van die grootte. Die groot geheim van die Kuga-enjin vandag is natuurlik die turboaanjaer.

Die sleepsyfers

Die toetsvoertuig het ’n Oris- verwyderbare sleepstang op. Die 1 600 kg wat die Kuga mag sleep, is in pas met sy tarragewig van 1 660 kg. Dit beteken ’n mens kan die meeste waens op die mark wettig sleep. Die gewig wat die stang op die bol mag dra, is ook gelykstaande aan die maksimumvoorskrif van 100 kg volgens die wet.

As ’n reël is dit goed om ’n wa se neusgewig so na as moontlik aan 100 kg te kry, maar dis nie altyd moontlik met kleiner waens nie. Pak in só ’n geval die meeste van die gewig voor in die wa. Dit help om swaai teë te werk ingeval die wa sy eie kop volg wanneer jy vinniger sleep.

Ford beveel ’n minimumneusgewig van 4% van die woonwagewig aan. Die Romany het die skaal op 1 060 kg getrek in ons toets. Dit beteken ’n neusgewig van nie minder nie as 42,4 kg.

Ford se 1 600 kg-perk as sleepgewig is nogal hoog vir dié grootte kar, maar die stang is fris genoeg (50 mm x 70 mm-buis) hiervoor. Sy D-waarde – die gewig waarteen die stang se sleepvragtoets gedoen is – is 11 kN (1 122 kg). Die bol is 47 cm bo die pad en ’n gawe koppelstukhoogte vir padwaens. Omdat die stang se verwyderbare deel die gansneksoort is, pas ’n sakplaat nie hierop nie.

Dis ook belangrik om die bande se druk aan te pas wanneer jy sleep, veral die agterstes – Ford beveel ’n banddruk van 0,2 bar hoër aan as die voorgeskrewe 2,8 bar. Jy moet dus die agterbande 3 bar pomp, maar dié ekstra druk moet uiteraard nie die spesifieke band se maksimumdruk oorskry nie. Die toetskar het Continental ContiSportContact 235/50 R18-bande op waarvan die maksimumdruk nie 3,5 bar mag oorskry nie.

Ene bederf

KYKPLESIER. Die nuwe Kuga se netjiese lyne laat beslis die koppe draai. Van die sierwiele regdeur tot die nuwe sierrooster maak deel uit van die “mooi”. ’n Sleepspieël pas ook op die syspieël vir die keer wanneer ’n mens ’n wa breër as die Kuga gaan sleep.

Die Kuga se agterdeur is soortgelyk aan dié van die meeste ander sportnutsvoertuie en maak boontoe oop. Dis gaaf, maar nie almal maak ewe maklik toe nie. Van hulle het nie lekker vatplek om die deur weer af te trek om toe te stoot nie. Ford is sy mededingers een voor met die Kuga, want hy het ’n ronde staaf regs in die deur wat jy maklik vasvat. Die twee voordeure se binnehandvatsels is soortgelyk – ’n gawe plan.

Dié model is R70 000 kort van ’n halfmiljoen, en ’n mens sien die luukses wanneer jy die deur oopmaak: van die elektriesverstelbare bestuurdersitplek tot die skynhoogte van die ligte met nie minder nie as nege verstellings.

Die stuurwiel lyk of hy tuis sou wees in ’n Boeing se stuurkajuit – jy kan letterlik nie méér knoppies op hom inpas nie: van die gewone radioverstellings regdeur tot die baanbeheer en selfs ratspane wat soos oortjies agter die stuur uitsteek.

Die instrumentepaneel het vier analoë meters. Die toereteller is links, met die spoedmeter anderkant en die brandstof- en temperatuurmeter kleiner en in die middel onder. Die rekenaarskerm is bo die kleiner meters en het net soveel detail as die stuurwiel.

Die stuurwiel lyk of hy tuis sou wees in ’n Boeing se stuurkajuit – jy kan letterlik nie méér knoppies op hom inpas nie.

Jy kan tussen ’n hele paar skerms kies afhangend van watter inligting jy wil sien. Daar’s ook ’n skerm met omvattende inligting wat alles op een slag wys – van die afstandmeter, die gemiddelde brandstofverbruik, huidige brandstofverbruik en kilometers tot die kilometers oor tot die tenk leeg is.

Dis goed om te sien hoe ernstig Ford sitplekgordels ag. Die rekenaar weet wanneer iemand op ’n sitplek sit en nie ingeklik is nie, en maak selfs alarm as iemand in die ry losmaak. Dit wys ook ’n prentjie van al die sitplekke om te wys wie is vas en wie nie.

Die twee USB-sokke is weggesteek in die kassie tussen die twee voorsitplekke en by die rathefboom is ’n 12 V-prop. En agter die kassie, by die agterpassasiers, is sowaar ’n 230 V-prop. Waar die 12 V-prop ’n 180 W- smeltdraad gebruik, is die agterste prop tot 150 W beperk.

Dis dus heel veilig om ’n selfoon of tablet in te prop om te laai, maar jou dogter se haardroër sal die einde van die prop se smeltdraad beteken. Ford waarsku om met dié prop weg te bly van ’n buistelevisie, ’n stofsuier, ’n kompressorgedrewe vrieskas of ’n mikrorekenaarbeheerde elektriese kombers. (In dié kar kan jy dus nie knussies op jou warm kombers lê en stofsuig en TV kyk terwyl jy jou bier koud maak nie. – Red.)

Die truskerm in die Kuga lyk net soos dié wat Ford in sy Ranger-bakkies gebruik. Dit het indekslyne wat wys in watter baan jy terugstoot. As jy die stuur draai, maak die lyne ’n kromming in die rigting waarheen jy terugstoot.

In die middel is ’n stippellyn wat die middel van die baan wys. Hiermee kan jy 100% akkuraat terugstoot as jy byvoorbeeld op die stippellyn op die koppelstuk van die woonwa korrel.

Net soos by die Ranger verdwyn hierdie lyne as jy ’n woonwa haak; die Kuga weet dus ook van die wa. Trouens, wanneer jy die wa se ligteprop inprop, verskyn ’n nota in die instrumentepaneel wat sê die blindekolsensors word afgeskakel as gevolg van die sleepding wat gehaak is.

Wanneer jy terugstoot, gaan die trusensor-alarm steeds af, maar jy kan dit afskakel. Die kinders het agter elkeen ’n skinkbord wat van die voorsitplek se rugkant af opslaan. Dit herinner aan die skinkborde in ’n vliegtuig, maar daar is ’n ronde gat waarin ’n bekertjie kan pas sodat dit nie omval as Pa sonder waarskuwing remme aanslaan nie.


Pieter Crous sleep woonwaens sedert die vorige eeu. Dis wat hy dink..

"Ek is mal oor die sierrooster wat Ford deesdae op al hulle karre gebruik, ook die Kuga. Binne is die Kuga pynlik netjies afgewerk en jy voel ’n duursaamheid wat ’n mens gewoonlik met Duitse voertuie vereenselwig. Ek hou van hoog sit, en die Kuga se bestuurdersitplek kan verbasend hoog gestel word – met die druk van ’n knoppie.

Wanneer die kar iets onder jou aandag wil bring, word daar nie net ’n simbool in die instrumentepaneel gewys nie – jy kry ook ’n uitgetikte boodskap soos “Passenger door open”.

Dit maak ’n mens se lewe makliker, want jy weet presies wat die probleem is. Die inligting op die rekenaarskerm is omvattend, en buiten al die gewone lesings – soos die huidige brandstofverbruik – waarsku die rekenaar jou ook wanneer jy te lank aaneen ry en stel voor jy neem ’n blaaskans. Dit wys ook of elke bas op ’n spesifieke sitplek vasgegordel is.

VOORWIELSTUUR. Vir die meeste opsies van die rekenaar gebruik ’n mens een van die knoppies op die stuurwiel om die verstellings te maak.

Die Kuga is verstommend stil binne; jy hoor nie eens die enjin nie. Hierdie model is bykans volhuis en ’n mens voel bederf met al die luukses. Tog kan jy nie sien in watter spesifieke rat die outomatiese ratkas is nie. As jy die ratspane gebruik, wys dit wel die ratnommer.

Die truskerm sit effens te diep in die paneel, veral aan die onderkant. Dis ook hier op die skerm waar ’n mens moet druk, wat dit effens ongemaklik maak om by te kom.

Die 1,5 l-enjin is klein, maar die versnelling stel nie teleur nie. Dit geld in die D- én S-modus. Die ratkas skakel vinnig oor, maar as jy jou voet neersit, is daar tog ’n kort aarseling.

RONDOM JOU. Die navigasieskerm is groot en duidelik, maar sit effe diep in die paneel. Op die een skerm van die rekenaar sien ’n mens met een oogopslag alles wat belangrik is terwyl jy bestuur.

Sy baanbeheer werk goed. Wanneer jy te naby aan ’n sperstreep kom, draai die rekenaar die stuur liggies weg sodat jy nie oor die streep ry nie. Jy kan wel nie die leisels aan die Kuga oorgee nie, want sodra jy albei jou hande van die stuur afhaal, raas die rekenaar met jou.

’n Mens moet gewoond raak aan die voorwielaandrywing – jy voel dit spesifiek waar jy uit ’n draai voet neersit en die enjin die stuur reguit trek.

Die Kuga het skyfremme op al die wiele, wat beteken dis geen probleem om skielik stil te hou nie.

Ek hou van die Kuga en sal maklik een koop."

KYK NOU NET. Die kattebakdeur het ’n praktiese handvatsel waarmee jy dit toemaak, en die kinders het agter elk ’n skinkbord wat kan opslaan.
Die sleepding

Fabrikaat Gypsey

Model Romany

Jaarmodel 2012

Tarragewig 1 060 kg

BVM 1 225 kg

Gelaaide gewig op die as met toets 1 140 kg (geweeg gehaak aan die Kuga)

Neusgewig 60 kg

Weg Ry en Sleep het die Gypsey Romany by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by 021 982 4670 as jy die Romany van nader wil bekyk. tygerbergcaravans.co.za


Wat sê die boekie?

Brandstof Petrol

Enjin 1,498 l

Silinders 4 inlyn

Krag 132 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag 240 Nm @ 1 600 r.p.m.-4 000 r.p.m.

Ratkas 6-spoed (outomaties).

Aandrywing Voorwiele

Tarra 1 660 kg

BVM 2 100 kg

BKM 4 100 kg

Waaddiepte Nie beskikbaar nie.

Sleepvermoë vir geremde sleepding Ford laat tot 1 600 kg toe.

Afmetings 4 524 mm (l); 1 838 mm (b); 1 703 mm (h)

Wielbasis 2 690 mm

Spoorwydte 1 554 mm- 1 574 mm (voor en agter)

Grondvryhoogte 197 mm

Brandstoftenk 60 l

Prys (nuut) Vanaf R427 900

Prys (tweedehands) Ons het ’n 2017-model gesien met 10 000 km op die klok vir R369 900.

Vinnige feite

Die sleephaak Die haak is nie standaard nie en kos ’n verdere R6 033 (R14 981 vir die elektries-wegvoubare haak).

Vering Onafhanklike vering voor en agter. Onder die 60 kg-neusgewig van die Romany het die stert ’n skamele sentimeter gesak.

Wat sê die skaal? 1 780 kg met ’n vol tenk brandstof, die bestuurder in die Kuga, asook die 60 kg-neusgewig van die Romany op die bol.

Die totale kombinasiegewig (BKM) was 2 920 kg, wat ’n mens met net meer as ’n ton ruimte laat vir al die passasiers en bagasie in die kar en die wa. Die BKM is op 4 100 kg vasgestel, maar geld tot op 1 000 m bo seespieël en ’n gradiënt van nie meer as 12% nie. Vir elke 1 000 m verder neem die toegelate BKM met 10% af. Dis dan ter sprake op plekke soos Dullstroom waar jy meer as 2 000 m bo seespieël sleep.

Binneruimte As jy ses (tweewielaangedrewe en petrol) voet lank is, het jy 4 vingers bo die kop oop (met die sitplek hoog gestel). Agter het jy net soveel voor die knieë, en ’n vinger meer bo die kroontjie.

Spoed Die odometer lees 5 km/h vinniger wanneer die GPS-spoed op 95 km/h staan.

Brandstofverbruik ’n Skaflike 15,5 l/100 km (6,6 km/l) met ’n woonwa van oor die ton op die haak. Die wind het ook nie saamgespeel nie. Dit was sterk en merendeels ’n dwarswind. Die Kuga se rekenaar is egter meer pessimisties oor die verbruik en lees 18,6 l/100 km (5,4 km/l).

Binneafwerking Oorwegend swart, pynlik netjies en duursaam.

Ekstras Onder meer metaalverf R1 200, 18”-allooivellings vir Trend-modelle R5 250, Driver Assistance-pakket vir Trend- en Titaniummodelle R15 450, stileerpakket vir die Titaniummodel R19 550 en raakskerm met onder meer navigasie R5 044.

Ander modelle?

1.5 EcoBoost Ambiente R368 800; 1.5 EcoBoost Ambiente (outo) R381 900; 1.5 EcoBoost Trend R406 400; 2.0 TDCi Trend (outo) R483 900; 2.0 EcoBoost Titanium (outo) R497 900; 2.0 TDCi Titanium Powershift (outo) R506 900 

Weg Ry en Sleep sê Al laat die owerhede ’n mens toe om tot 120 km/h op ’n snelweg te sleep, maan Ford ’n mens om nie vinniger as 100 km/h te sleep met die Kuga nie.



EK SIEN JOU NIE MEER NIE. Wanneer ’n mens die ligteprop van die wa koppel, sien die rekenaar dit en skakel die blindekolsensors af.
Die toets

Afstand 102,5 km

Topspoed 100 km/h (odometerlesing).

Gemiddelde spoed (stilhoutye ingesluit) 31,69 km/h (snelweë, agterpaaie en beboude gebiede).

Rytyd 3 uur en 15 minute.

Weer 18 ºC, sonnig tot bewolk met motreën, en ’n stewige 23 km/h-dwarswind uit die suidsuidweste.