Al die groot motorvervaardigers het reeds hulle eie weergawe van ’n kompakte sportnutsvoertuig, maar Volkswagen het nou eers wakker geskrik.

Die Touareg is gevestig as sy volgrootte sportnuts, en omdat hy Porsche-onderdele het, help dit natuurlik met sy verkope. En as jy in spitsverkeer om jou kyk, sal jy waarskynlik ’n Tiguan of drie gewaar.

Die nuwe T-Cross herinner ’n bietjie aan die verhaal van die skilpad en die haas wat resies hardloop. Ons sê nie Volkswagen se mededingers is arrogant nie, en ook nie dat die T-Cross die wedloop gaan wen nie, maar sommige mededingers het vroeg al weggespring en wat verkope betref, geniet hulle reeds groot sukses.

Die T-Cross gebruik Volkswagen se MQB-platform wat ook in voertuie soos die Golf en Polo én die Audi Q2 en A3 gebruik word.

Groottegewys is die afmetings dieselfde as dié van die Polo, maar moenie dink dis bloot ’n Polo met ’n paar aangelapte plastiekpanele soos in die geval van die Polo Cross nie. Nee, die T-Cross is ’n perd van ’n ander kleur.

Kyk hoe lyk hy nou!

Wat sy voorkoms betref, neem die T-Cross baie wenke van sy ouer en groter broers, en daarom lyk hy groter as wat hy in werklikheid is.

Die T-Cross waarmee ons die meeste te doen gehad het op die bekendstelling, het met die R-Line-afwerkingspakket gepronk. Dié pakket is besonder gewild in Volkswagen se ander modelle en ons vertrou hy sal ook die topverkoper wees as dit by die T-Cross kom.

Die neus van die T-Cross is onmiskenbaar Volkswagen met die drie horisontale stawe in die sierrooster wat aan albei die hoofligte raak. Die middelste staaf in die R-Line-weergawe is van chroom en ontmoet ’n dun strook LED-dagryligte wat die T-Cross se neus nóg breër laat vertoon.

Die misligte in die voorbuffer word ook met chroomstrokies geraam, en so ook die skermplaat onder die buffer. As jy van die kant af kyk, is daar heelwat karakterlyne wat die T-Cross lank laat vertoon.

Al die hoeke en knakke weerkaats daglig in allerlei rigtings wat die bakverf se kleur in verskillende skakerings laat vertoon. Ons sidder wel om te dink hoeveel ’n paneelklopper gaan vra om ’n duik uit daai deur te timmer.

Agterlangs word die remligte met ’n glaspaneel verbind, wat sorg vir ekstra effek.

Padgedrag

Daar is tans slegs een enjinkeuse: ’n 1,0 l-driesilinder-turbopetrolmodel (85 kW) in twee afwerkingsvlakke – Comfortline en Highline. Dit sal aanstaande jaar gevolg word deur die Trendline-model met ’n gedempte 70 kW-1,0 l-enjin en ’n handratkas.

En dan is daar die vlagskipmodel, die R-Line, waaroor ons gaande was by die bekendstelling. Laasgenoemde het ’n 1,5 l-turbopetrolenjin wat 110 kW uitskop. Ons gee toe 85 kW klink nie na baie nie, maar die syfers weerspieël nie wat daai 1,0 l-enjin kan vermag met sy 7 spoed-DSG-ratkas nie. Hy’s al klaar puik wanneer jy hom in Drive los, maar hy sing behoorlik as jy die Sport-modus inhaak deur die ratkierie afwaarts te druk en sodoende die ratteverhoudings uit te rek en oorskakeling te versnel.

Die Comfortline-model kry 17 duim-vellings wat vir ’n gemaklike rit sorg, maar ons eerste keuse is die Highline se 18 duim-vellings waarin die kleur van die bakverf in die speke herhaal word. Ondanks die dunner band op die 18 duim-vellings – die T-Cross kom standaard met 16 duim-bande – is die ritgehalte glad nie sleg nie.

Volkswagen het ons ongelukkig nie laat grondpad ry nie – daaroor sal jy later uitvind sodra ons ’n T-Cross kry om op ons eie manier te toets.

Iets wat lof verdien, is die doodstil kajuit, selfs teen die maksimumspoed op ’n snelweg. Enigeen wat al in ’n motor met onewe silinders gery het, sal getuig dat só ’n enjin ’n vreemde oneweredige klank het wat nietemin geensins onaardig is nie.

Die T-Cross se hartklop kan jy egter amper glad nie hoor nie, selfs al jaag jy die toere op tot by 5 000 r.p.m.

Met ons kennismaking het die ritrekenaar nooit ’n verbruik van hoër as 7 l/100 km gewys nie.

Binneruim

Dit is ’n Volkswagen en daarom is dit te verstane dat die afwerking puik is. Die skakelaars klik bevredigend, die panele voel stewig en dis duidelik dat alles lank gaan hou. Selfs die goedkoper Comfortline-pakket se bekleedsel voel duursaam.

Die toetsvoertuie by die bekendstelling was almal toegerus met allerhande opsionele ekstras, maar dit was dinge wat kopers óók sal kies – soos ’n trukamera, parkeersensors, elektriesverstelbare syspieëls, LED-hoofligte en ’n koordlose selfoonlaaier. Musiekliefhebbers gaan in hulle skik wees met die Beats-klankstelsel met sy 300 W-klankversterker en laebasluidspreker in die bagasieruim.

Die T-Cross het ook vier USB-sokke: twee voorlangs onder die lugreëling se knoppies, en twee in die agterste middelkonsole sodat Boet en Sus ook hulle slimfone kan laai.

Die agterbank kan 140 mm vorentoe óf agtertoe skuif sodat jy kan kies of jy meer beenspasie of meer pakplek wil hê. Indien jy die passasiers wil bevoordeel, sal die bagasieruim steeds 455 l se bagasie sluk, maar as daar geen passasiers saamry nie, kan jy die agterste rugleunings platslaan en dan het jy ’n bagasieruim van 1 281 l.

Slotsom

Deur die kat eers goed uit die boom te kyk kon Volkswagen daarin slaag om ’n weldeurdagte produk te lewer. Die T-Cross voel duurder as wat hy is en daar is vóór sy bekendstelling al ’n duisend van hulle verkoop. Te oordeel na die belangstelling lyk dit of die volk ’n wa kry wat hy soek.

Nuwe rygoed
Nuwe rygoed
SPESIFIKASIES

Enjin: 999 cc, driesilinder-turbopetrol

Krag: 85 kW @ 5 000 r.p.m.

Wringkrag: 200 Nm @ 2 000 r.p.m.

Ratkas: 7 spoed-outomaties (dubbelkoppelaar)

Topsnelheid: 193 km/h

Brandstofverbruik: 4,9 l/100 km

Laairuim: 377 l

Tenk: 40 l

Waarborg: 3 jaar/120 000 km

Diensplan: 3 jaar/45 000 km

Veiligheidsgradering: * * * * * (EuroNCAP, 2019)

Model getoets: T-Cross 1.0 TSI 85 kW Comfortline DSG

Prys: R334 600