Dit verklap nogal iets as die motorbekendstelling waarna motorskrywers heeljaar die meeste uitgesien het, nie dié van ’n peperduur supermotor is nie, maar eerder ’n goedkoop, bonkige Japannese motortjie wat dálk 150 km/h sal haal – maar net as jy hom reguit by ’n mynskag afgooi.

Ons het lankal geleer om nie die Suzuki Jimny vlak te kyk nie – dis die yorkshireterriër van die motorwêreld. Dit lyk dalk na ’n oulike klein dingetjie wat in ’n handsak rondgedra wil word, maar hy’s geteel om in woeste terrein rotte te jag en dood te maak. In daai borskassie klop die hart van ’n leeu.

Hier’s die vier belangrikste dinge wat jy oor die nuwe Suzuki Jimny moet weet:

1. Die nuwe ontwerp is ’n treffer

Dis ongetwyfeld een van die begeerlikste motors op ons pad, en hy laat meer koppe draai as motors wat tien keer soveel kos.

Die regop, hoekige retro-ontwerp is ’n regstreekse kopknik aan die oorspronklike LJ-reeks uit die sewentigerjare, en so ook die eenvoudige staalwielvellings op die intreevlakmodel. Alles aan die ontwerp is onderworpe aan die funksie van die motor – en dit is om ’n kompakte, fieterjasielose en bekwame 4x4 te wees.

Sigbaarheid uit die groot vensters is uitstekend. Die agterligte is in die horisontale buffer ingebou, wat die laairuimte deur die agterste luik vergroot. Die noodwiel is ook aan die buitekant van die agterdeur gemonteer sodat dit maklik toeganklik is. Die regop dakpilare versterk die dak – lekker vir ’n daktent of dakrak, en die geute reg rondom lei water weg van die bestuurder en passasier as hulle ná ’n reënbui moet in- of uitklim.

2. Die Jimny is ’n uitstekende veldryer

Die leerraam-onderstel van die motor is nog sterker gemaak deur ’n dwarsbalk (Suzuki noem dit die X-balk) aan die twee vaste asse te monteer. ’n Bykomende horisontale dwarsbalk voor en nog een agter versterk die hele onderstel verder.

Dis steeds ’n ligte motor (1 090 kg) met goeie grondvryhoogte van 210 mm en ’n meganiese 4x4-stelsel plus laestrek. Voeg nou ’n invalshoek van 37°, ’n vertrekhoek van 49° en ’n oorbruggingshoek van 28° hierby, en die Jimny sal by plekke uitklouter wat groter fô-by-fô’s nie sal aandurf nie.

3. Dis steeds nie ’n GTI nie

’n Splinternuwe 1,5 l-enjin het die ou, asmatiese 1,3 l-enjin vervang en op die snelweg se gelyktes gaan jy teen 120 km/h darem kan byhou met die res van die verkeer.

Maar as jy die versneller plattrap, kom jy gou agter 75 kW en wringkrag van 130 Nm bied jou nie veel verbysteekopsies nie. Die keersy is dat jou brandstofrekening laag gaan bly, en wie wil nou in elk geval heeltyd jaag? Jy kan ’n vyfspoed-handrat of ’n vierspoed- outomatiese ratkas kies, en as jy mooi ry, behoort jou verbruik onderskeidelik 6,3 en 6,8 l per 100 km te wees.

4. Dit bied uitstekende skop vir jou rand

Teen R265 000 vir die intreevlak-GA-model (met ’n handrat, staalvellings en geen elektriese vensters nie, maar jy kry lugververkoeling, kragstuur en die volle 4x4-stelsel met laestrek) is daar nie ’n meer bekwame veldryer vir die prys nie.

Jy kan meer bling binne en buite byvoeg en die GLX-handrat koop vir R300 000 terwyl die outomatiese GLX jou R320 000 sal kos.

As jy ’n ougat veldryer soek wat jou nie in die steek gaan laat nie, moet jy nou al ’n bestelling plaas: Die waglys strek al van Johannesburg tot noord van Pretoria.

Die Jimny is – nes ’n yorkshireterriër – iets met hope persoonlikheid wat sommer vinnig diep in jou hart gaan inkruip. As jy elke dag langpad op die snelweg moet jaag of ’n gesin moet rondkarwei, moet jy anderpad kyk.

Maar as jy ’n ougat veldryer soek wat jou nie in die steek gaan laat nie, moet jy nou al ’n bestelling plaas: Die waglys strek al van Johannesburg tot noord van Pretoria.

Die syfers
Die syfers