foto’s Leon Botha

Met ’n abbawa omskep ’n mens jou bakkie in ’n kits in ’n kamptrokkie. Dis soos ’n dop wat bo-op die laaibak pas, en hierin slaap twee mense op ’n dubbelbed. Gewoonlik is so ’n abbawa ook toegerus met kamptoerusting soos ’n yskas en stoof en selfs ’n stort of toilet.

André van der Merwe, ’n vrugteboer uit Tulbagh se wêreld, toer en kamp al meer as 30 jaar, en hy het ook nou ’n abbawa ontwerp en gebou.

Sy wa stem grootliks ooreen met ander modelle op die mark, maar daar is een groot verskil: Sy Obiqua het twee dubbelbeddens en het dus slaapplek vir vier.

Die romp van die eenheid bestaan uit veselglas met ’n spesiale brandbestande isolasielaag en weeg skaars 230 kg. Wanneer die Obiqua toegeslaan is, pas hy net so in ’n gewone motorhuis.

’n Verdere bonus hiervan is beter brandstofverbruik omdat hy nie ver bo jou bakkie se dak uitsteek nie. Ons het André se skou-eenheid geleen en vir ’n naweek in die Boland gaan kamp.

Bou bed

Een van die besonderse aspekte van die Obiqua is hoe die beddens uitslaan. Soos jy agter die bakkie staan, vou die een helfte van die dak na regs oop en die ander kant na links.

Maak eerste die dakknippe aan elke kant los en slaan die leertjie in die middel van die eenheid by die agterklap plat.

Die deur maak dan van links na regs oop. Klim op met die leertjie tot jy omtrent teen die dak staan. Vat elkeen van die kante voor jou en lig dit op – hulle swaai so te sê moeiteloos oop.

Terwyl die twee beddens oopslaan, word die tent voor jou gelig. Waar jy by die eenheid inloop, is ’n paneel met ’n boog daarin wat die deurkosyn vorm. Soos die tent dan oopvou, lig die kosyn op sodat jy nou in die Obiqua jou staan kan kry.

Voor jou is nog ’n soliede paneel wat saam met die voorste een lig. ’n Verstelbare paal pas nou tussen die twee panele se bokante in om die nok te vorm – die seildak word behoorlik gespan. In die lengte en op die ver kante van die bed slaan ’n U-raam elk op. Vier stutpale pas nou tussen die U-rame se hoeke tot by die nokpaal.

Die Obiqua se tent lyk dus soos ’n dubbele daktent bo-op ’n veselglasromp. Die boseil span met drie veerbelaaide staallatte aan elke kant. Dis tipies soos dié wat jy op daktente sien. Jy moet wel hoog strek om by te kom; bring maar ’n klein trappie saam sodat jy nie sukkel nie. 

Waar is wat?

Die gangetjie is 46 cm breed en strek 1,76 m voor jou, en aan weerskante is ’n 40 l-ys-vrieskas wat op ’n glyraam uittrek – dit is maklik om van buite af iets in enige van die twee by te kom, hoewel jy net een op ’n slag kan uittrek. (’n Volledig toegeruste Obiqua kom met net een ys-vrieskas, maar hier is plek vir ’n tweede een.)

’n Groot oop kas waarin jy ’n kassettoilet kan hou, is langs die linkerkantste ys-vrieskas; langs die oorkantste een is ’n oop kas waarin twee ammokiste bo-op mekaar pas.

Bo albei ys-vrieskaste is ’n plat rakkie so breed soos jou hand met ’n seildeurtjie wat toerits. Hierin kan jy ’n hele paar plastiekbakkies met kruideniersware bêre. Bo dié rakkie links is drie kaste, ook met seildeurtjies – dit is die klererakke.

Aan die oorkant is nóg ’n oop rak met die skakelaars vir die ligte, waterpomp, yskas en dies meer langs dit. Hier is ook twee USB-sokke en ’n Hella-sok met ’n gesiggie tussen die twee wat die battery se Voltlesing wys. Die boonste deel van elke kant is ’n plat blad waarop jy goed kan neersit – in die regterkantste blad is ’n gesigwasbakkie versonke – en op die punt van elkeen is ’n bankie met ’n los kussing.

As jy die kussing lig, is daar ’n kas onder elkeen wat goed is om linne weg te pak, maar ewe goed werk vir kruideniersware.

Op die punt van die gangetjie, dwars met die romp, is nog ’n rak met vier oop rakkies langs mekaar wat elkeen so groot soos ’n skoendoos is – net reg vir iets soos ’n haardroër.

Langs die linkerkantste bankie is ’n twee- en driepuntkragsok plus ’n USB-sok. Die spieël is teen die nokpaneel langs jou vasgesit.

Elkeen van die beddens is 94,5 cm breed, wat natuurlik nie naastenby dubbelbedgrootte is nie. Maar André het met nog ’n slim plan vorendag gekom: Langs die bed is ’n weggesteekte los blad wat jy lig en langs die bed inpas – wat elke bed 24,5 cm breër maak.

Die bed se bokant is 1,14 m bo die vloer, wat beteken jy moet klouter om daar uit te kom. Natuurlik kan jy op die bankies trap, maar minder soepel mense gaan effens sukkel.

Buitentoe

Omdat die beddens oorhang en hoog bo die bak is, kan die storie effens wieg as jy in die bed beweeg, want jy is aan die bakkie se vering oorgelaat.

Die Obiqua het stewige los hoekstutte wat uit twee dele bestaan: ’n domkrag met ’n slinger en voetstuk, en dan ’n deel wat by die hoeke agter inpas om die eenheid te dra. Dié stutte (plus die ander twee in die kas) kan jy gebruik om die Obiqua van die bakkie af te haal en op die grond te laat staan.

In dieselfde kas as waarin die hoekstutte gebêre word, is daar ook ’n storthandstuk met ’n lang pyp. Die wasbak met die droograk slaan uit die kas langsaan: ’n Raamwerk vou na jou toe oop met ’n los droograk wat daarin pas. Maar die raamwerk bestaan uit twee dele sodat ook die wasbakraam hieruit slaan (omtrent maaghoogte).

Die inlyn-gasgeiser sit regs in dieselfde kas, en weerskante van die inklimdeur is daar plek vir twee gassilinders. Die gasstoof slaan aan die ander kant uit en is in die kas die naaste aan die kajuit.

Die stoof sit dwars op die blad van 37 x 52 cm. Die toetsmodel het nie ’n skermplaat langs die stoof nie, wat beteken jy moet maar hoop die wind waai van die ander kant van die bakkie af.

Op die Toyota Hilux was die toetsmodel se stoof reg langs die brandstoftenk se inlaat, maar André kan die stoof na die kas langsaan skuif. Waar die stoof uitslaan, is ’n versteekte rak met ’n dubbele driepuntsok waarop ’n ketel en broodrooster kan pas. In die kas langsaan is ’n hele paar ingeboude rakkies vir jou glase, bekers, borde en eetgerei.

Terloops, as jy buite staan, is die uitslaanbeddens hoog genoeg bo jou. Dit vorm in der waarheid ’n netjiese dak oor die kante van die Obiqua en jy gaan nie jou kop stamp nie. 

Wat is standaard?

Toerusting soos die 55 l-watertenk met sy 12 V-waterpomp, 12 V-binne- en buiteligte, 220 V- en USB-sokke, die uitvouwasbak met sy droograk én die vier hoekstutte is standaard.

Die volledig toegeruste eenheid het daarby ook ’n 140 Ah-battery met ’n laaier en monitor, breekware vir vier mense, ’n elektriese ketel en broodrooster, ’n potte-en-pannestel, geiser, twee gassilinders, een 40 l-ys-vrieskas, ’n tweeplaatgasstoof, kassettoilet en ’n afdakkie bo-oor die inklimkant.

Die kombuis- en storttent is R4 025 ekstra vir elk, en dit kos dieselfde om die Obiqua dieselfde kleur as jou bakke te maak. En as jy die sykante van die stoepdakkie wil toemaak, gaan dié panele jou R5 175 uit die sak jaag.

Die tegniese goed

Lengte: 2 m Breedte 1,8 m (oopgevou 3,2 m)

Hoogte: 1,25 m

Nokhoogte binne-in: 2,2 m

Leë gewig: 230 kg

Prys: R172 500 tot R227 125

PLUS   

  • Slaapplek vir 4 in ’n abbawa is ongewoon.   
  • Die twee beddens slaan maklik en vinnig uit.  
  • Die uitslaanwasbakraam is slim en vou maklik weg.   
  • Die domkragstutte is lekker stewig.

MINUS   

  • Die bed is taamlik hoog bo die vloer en dit kan vir groter mense moeilik wees om op te klim.  
  • Die stoof kort ’n windskerm.

Ry & Sleep het die Obiqua en die bakkie waarop dit gemonteer is, by die vervaardiger geleen.

Ry & Sleep Die Obiqua pas op al die plaaslike bakkies – van enkel- tot dubbelkajuit. Geen veranderinge is nodig aan jou bakkie nie, want die Obiqua word met sperratstroppe aan jou bakkie se standaardankerpunte vasgetrek.


Woonwatoets
Abbawatoets
Handelaarsnetwerk

Obiqua is ’n familieonderming op Tulbagh in die Wes-Kaap, maar die eenhede word landwyd versprei.

Kontak: 083 275 7016; obiquacampers.co.za