Die Land Cruiser Namib het ontstaan toe Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika se senior visepresident van verkope en bemarking, en ’n groep vriende een aand in Namibië langs ’n kampvuur hulle ideale Cruiser uitgedink het.

Calvyn is ’n groot Land Cruiser-aanhanger (sy kollegas skerts dit is sy gunsteling-Toyota-produk) en hy’s veral lief vir die 70-reeks. Terug in Suid-Afrika, ná sy kuier in Namibië, het Calvyn opdrag gegee dat die lewensvatbaarheid vir hierdie lugkasteel-Land Cruiser ondersoek word.

Die swartgalliges sou dit dalk ydelheid noem, maar vir Calvyn was die Namib eerder ’n passieprojek. “Die Namibwoestyn het van die mees uitdagende terrein op aarde, en om hier te kan oorleef het jy die regte soort toerusting en voorbereiding nodig. Ek kondig dus met trots aan dat die spesiale weergawe van die Land Cruiser 79 slaggereed is om dié uitdagende toestande te pak,” sê Calvyn.

Om te bewys dat die Land Cruiser 79 Namib inderdaad murg in sy pype het, het Toyota ons Angola toe geneem om een van die uitdagendste roetes in Afrika aan te durf: Die Doodsakker. Ons vliegtuig het in Namibe neergestryk, en drie dae lank het ons Calvyn deur Suid-Angola agtervolg.

Hier is ons eerste indrukke van die Land Cruiser Namib.

Buitelangs

Die Namib het ’n ARB-bosbreker wat die standaardbuffer vervang, en op die sierrooster pronk die naam “Toyota” in hoofletters – nes ons sien op die Hilux GR Sport – eerder as die gebruiklike ovaalvormige Toyota-embleem.

Die bosbreker het ook plek vir ’n wenas en daar is twee groot LED-kolligte wat verstommend helder skyn. Hulle is amper té sterk, want snags verhelder daardie kolligte ieder en elke stofdeeltjie in die lug.

Agterlangs is ’n staalbuffer met ’n geïntegreerde sleepstang en die laaibak is uitgevoer met ’n beskermende rubberlaag. Die standaardvering is vervang met plaaslikvervaardigde skokbrekers, en kronkel- en bladvere wat spesifiek vir die Namib ontwerp is.

Die standaard-265/70R16-bande word ook vervang deur vetter 265/75/R16 Cooper Discoverer S/T Maxx-veldrybande.

Jy kan uit slegs twee bakverfkleure kies – ivoorwit en sand-beige – wat natuurlik die gewildste kleure onder klante is. En nes ons met die Hilux Legend 50 gesien het, is Toyota nie skaam om jou aandag te vestig op die spesiale weergawe nie: Daar is Namib-embleme op albei voordeure én op die laaibak se klap.

Binnelangs

Die Namib is vir die droë en warm toestande van Afrika geskep, en daarom het die paneelkissie ’n luggat sodat die lugreëling die inhoud kan afkoel. Dis veral nuttig as jy nie hou van warm, sweterige biltong nie.

Afrika is ’n stowwerige vasteland en die Namib se bekleedsel word hierteen beskerm deur spesiale sitplekoortreksels waarop die Namib-embleem geborduur is. Die oortreksel het boonop duursame panele op die rande sodat dit nie mettertyd deurvryf weens ’n herhaaldelike in- en uitklimmery nie.

Nóg ’n nuwigheid is ’n dakkonsole met bêreplek wat met pluisstof uitgevoer is, en ’n monteerplek vir ’n tweerigtingradio – daar’s ’n haak vir die praatstuk. Die dakkonsole het ook helder LED-liggies sodat jy nie sukkel om snags ’n padkaart te lees nie. Nie dat jy ’n padkaart nodig gaan kry nie, want die raakskerm op die instrumentepaneel het satellietnavigasie wat selfs Track4Africa se kaarte kan lees.

Mededingers
Mededingers
SPESIFIKASIES

Model: Land Cruiser 79 4.5D V8 Namib

Enjin: 4 461 cc, 8 silinder-turbodiesel, V-uitleg

Krag: 151 kW @ 3 400 r.p.m.

Wringkrag: 430 Nm @ 1 200 r.p.m.

Ratkas: 5 spoed-handrat

Tenk: 130 l

Brandstofverbruik: 11,3 l/100 km

Topspoed: 160 km/h

Brutogewig (BVM): 3 300 kg

Dravermoë: 1 011 kg

Sleepvermoë: 3 500 kg

Veiligheidsgradering: * * * * * (ANCAP, 2016)

Waarborg: 3 jaar/100 000 km

Diensplan: Opsioneel

Prys: R893 600