Van al die modelle in die Land Rover-reeks was die Defender die een wat die getrouste aan die oorspronklike beweegrede van die Series 1 was.

Hy is vier jaar gelede op pensioen geplaas en is die toonbeeld van ’n motor uit ’n tyd toe regulasies oor uitlaatgasse en veiligheidstoetse nie so belangrik was soos vandag nie.

Die motorwêreld en veldrygeesdriftiges het asem opgehou terwyl die vervaardiger van Solihull aan ’n troonopvolger gewerk het. En nou, ná ’n ellelange aanloop en hemelhoë verwagtinge, is die splinternuwe Defender uiteindelik plaaslik beskikbaar.

Soos die norm deesdae is, is die Defender met ’n regstreekse YouTube-uitsending aan ons bekend gestel.

Wat het ons hier?

Vir nou is net die 110-model met sy vyf deure en lang asafstand beskikbaar in Suid-Afrika, terwyl die korter Defender 90 glo in die eerste helfte van volgende jaar hier sal aanland.

Die profiel van die oorspronklike Land Rover word beskou as een van die mees herkenbare ontwerpe in die motorwêreld, soortgelyk aan die Volkswagen Kewer en Mini.

Daar is ook ’n interessante storie agter die oorsprong van dié ontwerp. Die Rover-ontwerper Maurice Wilks, wat uitvoerig met die Willys Jeep gery het, het besluit om op dié model te verbeter. Hy het glo die buitelyne van wat uiteindelik die Series 1 geword het, op die sand van ’n strand in Wallis geteken.

Dit is op die beste van dae ’n onbenydenswaardige taak om ’n legende soos die Defender te laat herleef, maar Jaguar Land Rover se ontwerphoof, Gerry McGovern, en sy span by die maatskappy se aanleg in Gaydon, Warwickshire, het met iets vorendag gekom wat daardie Defender-identiteit volwaardig in die moderne era vestig en steeds hulde bring aan die oorspronklike.

Die Defender het al wat ’n katoe­ter is, insluitend die 10”-raakskerm waarmee jy Land Rover se jongste geslag vermaak- en inligtingselsel beheer.

Binne en buite

Hierdie ontsag vir die Defender se nalatenskap is veral duidelik in die vertikale agterkant en die manier hoe die agterste driekwartpanele stomp teen die agterdeure eindig. Dis beter so, want enige ontwerplyne hier sal dit effens moeilik maak om plek vir die noodwiel te kry.

Die kort oorhange voor en agter is ’n ware kenmerk van enige veldryvoertuig wat sy sout werd is. Die nader- en vertrekhoek wissel afhangend van die modus van jou lugvering: 30,1° en 37,7° wanneer jy in die dorp rondry, en 38°en 40° as jy in die veld is. Dan is daar ook die sogenaamde Alp-vensters aan weerskante van die dak wat vir heelwat lig in die kajuit sorg.

Die Defender kom standaard met moderne katoeters soos LED-hoofligte met reënsensors wat ook outomaties aanskakel, LED-agterligte, elektriese ruite, liggies by die deure wat op die grond skyn om te keer dat jy in die modder trap, ’n banddrukmonitorstelsel, dubbelsone-klimaatbeheer en ’n rubbervloer in die kajuit. Jy kry ook ’n 10”-raakskerm waarmee jy Land Rover se jongste geslag vermaak- en inligtingselsel beheer en waar jy programmatuur vir jou ryding kan aflaai.

Land Rover beweer die nuwe Defender is sy bekwaamste veldrymodel tot nog toe. Buiten die reeds genoemde hoogteverstelbare lugvering is die kar ook toegerus met ’n sensorstelsel wat wys hoe diep jy in die water is (die maksimumwaaddiepte is 900 mm) en ’n 3D-kamerastelsel wat jou help om versigtig tussen hindernisse te ry sonder om jou bakwerk seer te maak.

Met dié tegnologie kan jy ook ’n uitsig van tussen die voorwiele hê – ’n nuttige kenmerk wanneer jy teen ’n skerp helling uitry en net die blou lug van agter die stuur kan sien. As jy egter bykomende tegnologie soos ’n elektriese ewenaarslot wil hê, gaan jy ’n model met meer spesifikasies moet aanskaf.

Ongeag watter spesifikasievlak jy kies – die basismodel, S, SE of HSE – is daar vier pakkette waaruit jy kan kies om soveel modifikasies as moontlik by die fabriek self te laat doen.

Die Explorer-pakket sluit in ’n hoë luginlaat, liggewig dakrak en ’n 24 l-kantkissie.

Die Adventure-pakket het ’n afspoelstelsel wat ontwerp is om vuil toerusting te was, ’n 20 l-rugsak agter ’n sitplek se rugleuning en ’n geïntegreerde kompressor.

Die Country-pakket het klassieke modderskerms (volgens Land Rover), ’n afskorting in die laairuim en beskerming vir die wielboë.

Die Urban-pakket het blinkhelder metaalpedale, ’n oortreksel vir die noodwiel en ’n pensplaat. Jy kan jou pakket verder aanpas na gelang van die lang lys van ekstras wat beskikbaar is, soos uitvousytrappe, daklere, beskermingstawe en verskeie dinge vir jou vellings en bande.

Daar is ’n funksie op Land Rover se webtuiste waar jy jou vir ure kan besig hou met al die verskillende keuses – ons stel voor jy doen dit vóór jy jou tjekboek uithaal. Net om seker maak jy kry presies wat jy wil hê.

Onder die enjinkap

Daar is drie enjinkeuses beskikbaar. Die een waarvoor ons waarskynlik sal gaan, is ’n 2.0-dubbelturbodieselmodel met 177 kW en 430 Nm – ’n mens het nie regtig meer nodig nie. 

Daar is ook twee petrolmodelle: die 2.0-turbopetrol (221 kW en 400 Nm) en die 3.0-sessilinder met ’n turboanjaer, superaanjaer en ’n elektriese enjin, wat hom in wese ’n hibriede voertuig maak. Dié vlagskipmodel wek 294 kW en 550 Nm op. Land Rover sê hy gaan in die eerste jaar “First Edition”-modelle in Suid-Afrika beskikbaar hê met al die katoeters waaraan jy kan dink. Die vervaardiger wil hê jy moet die meeste waarde vir jou geld kan kry.

Ons sal hom in wit vat, dankie!

MEDEDINGERS

Luukse sportnutse met uitstekende veldryvermoë

R1 107 900

Toyota Land Cruiser 200 4.5 D V8 GX-R

Selfs die intreevlakmodel is uiters luuks, en in hierdie geselskap ook die goedkoopste. Daar is nie twyfel in sy vermoëns nie, maar is hy steeds die Koning van Afrika?

R1 500 700

Nissan Patrol 5.6 V8 LE 4WD

Hy het laat in Suid-Afrika geland, maar dit is Nissan se voorste veldryer. Jy het egter ’n oliebaron se bankrekening nodig as jy na die Patrol se drinkgewoontes kyk.

R1 489 000

Mercedes-Benz GLE400D 4Matic

’n Pionier wat luukse sportnutse betref – en ons eerste keuse as dit by die drie groot Duitse vervaadigers kom. Hy is ook ’n sterke kalant.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook