Lexus het ’n streep op die grond getrek toe hy sy eerste ryding, die LS-sedan, 31 jaar gelede bekend gestel het.

Wat gehalte en tegnologie-innovering betref, het die LS400 onmiddellik luuksevoertuigvervaardigers soos BMW, Jaguar, Mercedes-Benz én Amerikaanse handelsname soos Cadillac die stryd aangesê.

Nege jaar daarna is die RX gebore, die eerste ware luukse sportnutsvoertuig uit die Ooste. Met die tweede geslag van die RX het hy ’n pionier in hibriede-tegnologie geraak. En nou, met die vierde generasie, is die RX nie net buitelangs opgeknap nie, maar hy het ook verskeie tegnologie-opdaterings ontvang... én daar is ’n splinternuwe model.

Wat presies is nuut?

Die RX se voorkant het aansienlik verander. Die reusagtige sierrooster spog met nuwe L-vormige details en die blou Lexus-kenteken glim trots in die middel daarvan. Die blou stralekrans simboliseer glo die hibriede RX se toewyding tot die omgewing.

Die LED-ligte is smaller as voorheen en is in al die modelle toegerus met aanpasbare hoofligte, terwyl die 450h-vlagskipmodel ook sogenaamde lemskanderingsligte het. Dié tegnologie bestaan uit lemvormige spieëls wat teen 12 000 r.p.m. draai sodat hulle die ligstraal akkuraat kan fokus en nie aankomende verkeer verblind nie maar nogtans ’n helderder straal kan maak.

Lexus sê sy lemskanderingsligte skyn 10% skerper as die gewone LED-ligte en dit hou bestuurders snags veilig deur die pad, sypaadjies, padtekens én voetgangers uit te wys sonder om aankomende verkeer te verblind. Van die kant af sien ’n mens hoe die karakterlyn en chroomstrokies jou aandag na die agterligte lei. Die RX is ontwerp om soos ’n koepee te lyk, veral aan die agterkant.

Die algehele voorkoms word afgerond deur 20 duim-wiele wat die hoekige wielboë vul, en ’n herontwerpte agterbuffer met L-vormige details in die remligte sluit die tema af.

PASOP, HY’S SKERP! Die sagte kurwes van die ou RX is skoonveld en jy gaan óf van die nuwe skerper lyne hou óf dit verpes.

Hoërgraad-binneruim

Omdat die RX ’n Lexus is, tref jy dieselfde “dubbelverdieping”-instrumentepaneel aan as in ander Lexusse, maar pleks van die 12,3 duim-raakskerm wat jy gewoonlik in die boonste instrumentepaneel sien, is hier nou ’n alleenstaande tabletskerm bo-op die middelkonsole waar die bestuurder én voorste passasier maklik kan bykom. Jy kan die inligting op drie maniere beheer: Jy kan met jou vinger aan die skerm raak, die taspaneel langs die bestuurder se bobeen streel, of stembevele gee.

Vir tegnologievrate is hier ook Apple CarPlay en Android Auto waarmee jy jou selfoon koppel sodat die Lexus RX toegang verkry tot sommige apps op jou foon. Moenie bekommerd wees as jy nie die gepaardgaande Lexus-app op jou foon het nie. Die RX skep ’n wifi-kuberkol waarop jy kan inteken om die app af te laai – óf ’n kaart of selfs ’n luisterboek om jou op die langpad te vermaak.

Op die koop toe kry jy 15 GB data wat nie verval as jy dit nie gebruik nie (ons selfoonmaatskappye kan by Lexus gaan leer!), en jy kan altyd nóg data koop as dít op is. Daar is ook ’n induksielaaier om jou foon koordloos te herlaai én selfs ’n spesiale gleuf waarin jy jou foon bêre (hy gaan so ’n entjie uitsteek).

Dan is daar ’n Mark Levinson-klankstelsel met 15 luidsprekers sodat jy ’n onbedagsame dagbesoeker se Boerepompie en Dames (sê my wat jou naam is) kan oordonder met jou eie (beter) musieksmaak.

Op die pad

Ondanks die ouskoolse 3,5 l-V6-petrolenjin wat deur die byderwetse elektriese motor gehelp word, is die RX 450h betreklik stil in die stad. Selfs wanneer jy op ’n deurpad klim en die versnellerpedaal wegtrap, bly die enjinklank redelik beskeie. Ons toetsvoertuig het hom ook goed gedra op die stamperige agterpaaie buite Oudtshoorn. As jou reis nie verg dat jy voet in die hoek ry nie, kan jy rustig in eko-modus voortkruie – dan word slegs die elektriese motor gebruik.

Hou net ’n wakende oog op die toereteller, want anders ontwaak die sluimerende petrolenjin. Maar selfs al maak jy daardie enjin wakker, is die klank uit die uitlaatpype nooit steurend nie – dis immers ’n Lexus.

Daar is wel ’n matige fluitgeluid uit die V6 wat darem ’n glimlag op jou bakkies sit, maar jy moet die RX hard druk voor jy dít kan hoor. Die palwisselratkas – iets waaroor ons nie gaande is nie – werk goed in die RX en hy pas uitstekend by die enjin, mits jy die ratspane uitlos en die ratkas los om sy eie kop te volg.

Die ratkas lewer ook uitstekende brandstofverbruik en dus maak dit nie saak dat die tenk met 7 l gekrimp het om plek te maak vir die elektriese onderdele nie. Lexus het ook besluit om sy Lexus Safety System+ standaard in die RX aan te bied.

Dit sluit in sensors wat jou snags teen voetgangers en bedags teen fietsryers waarsku. Verder is daar ook outonome remme, aanpasbare kruisspoedbeheer, tien lugsakke en blindekolsensors.

Slotsom

Lexus slaag daarin om die tegnologie en futuristiese ontwerpe aan te gryp. Dis ’n filosofie wat pas by die moderne tendens van batteryaangedrewe vervoermiddels. Die lys van katoeters is ouder gewoonte lank en daar is min dinge waarvoor jy kan wens wat nié reeds ingebou is nie. Die RX 450h is ongelukkig nie gemaak vir sleep nie, maar jy kan darem die tjoepstil elektriese motor gebruik om ’n trop leeus te bekruip.

Nuwe rygoed
Nuwe rygoed
SPESIFIKASIES

Enjin: 3 456 cc, V6-petrolenjin en elektriese motor

Krag: 193 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 335 Nm @ 4 600 r.p.m.

Ratkas: Palwisselratkas

Topspoed: 200 km/h

Brandstofverbruik: 5,7 l/100 km

Bagasieruim: 453 l

Tenk: 65 l

Waarborg: 7 jaar/105 000 km

Waarborg op battery: 8 jaar/195 000 km

Diensplan: 7 jaar/105 000 km

Veiligheidsgradering: * * * * * (Euro NCAP, 2015)

Model getoets: RX 450h SE

Prys: R1 315 800