Foto’s: Schalk Jonker

Die leeukuil se grootmeneer

Custom Canopies het onlangs ’n luukse weergawe van sy gewilde Lion’s Den De-lux-boswoonwa bekend gestel, en as jy dié meneer so kyk, lyk dit of daar nêrens is waar jy nié met hom kan kamp nie.

Jan Venter, eienaar van Custom Canopies, vertel trots van die vyf nuwighede waarmee die Lion’s Den Supreme 4x4 van die De-lux-model verskil, waaronder die neuskas, die groter ys-vrieskas en die magdom pakplek binne. En dan is daar ’n spesiale verrassing regs agter in die wa.

Ons het die Lion’s Den Supreme 4x4 aan ’n Nissan X-Trail gehaak en vir ’n klompie dae in die Bosveld gaan kamp.

Begin by die begin

Die Lion’s Den Supreme 4x4 het ’n dubbelneuswiel en ’n meneer van ’n neuskas op die A-raam. Die kas is 107 cm lank, 48 cm breed en 60 cm diep, en buiten die twee gassilinders (vir die geiser en gasstoof in die kombuis) wat die vervaardiger hier wegsteek, is hier nog hope plek vir goed soos jou kampstoele en skottelskaar. Die kragsentrale is ook hier.

Dit is nie ’n neuskas soos jy hom tradisioneel ken nie. Pleks van ’n deur wat aan die bokant oopslaan, haal jy dié kas se deksel in sy geheel af. Dit beteken jy hoef nie te meet en te pas om iets deur die deur te kry nie en dit is makliker om groot en bonkige goed in en uit te laai. Jy trek die deksel met staalknippe vas en kan dit ook hier met ’n hangslot sluit.

Jan het ook ’n hoë rand om die deksel gebou; dus kan jy ’n sak of drie van jou gunstelingbraaihout hier laai voor jy in die pad val.

Omdat hy so hoog is, is dit egter moeilik vir iemand wat nie lank en sterk is nie om die deksel eiehandig af te tel – dit is in die meeste gevalle twee mense se werk. Hy het egter twee klein wit deurtjies aan die kante as jy iets kleins soos vuuraanstekers vinnig moet raakvat. 

Lig die hoed

Die wa het uitswaaistutte agter waarmee jy hom vinnig en maklik stewig kan laat staan. Voor rus hy net op die neuswiel.

Wanneer jy die wa staangemaak het, slaan jy die dak oop. Soos met Custom Canopies se ander waens word Jan se vindingryke opwipdak, wat net aan die een kant lig, ook op dié model gebruik. Die dak het ’n skarnier al in die lengte van die wa, aan die regterkant, en lig dus van die linkerkant af op.

Onthou net om die knippe wat die dak aan die voor- en agterkant vashou los te maak.

Hierna druk jy die dak boontoe en hy styg ’n stewige ent om vir jou kopruimte vir Afrika binne-in die wa te gee. Van die vloer tot teen die nok van die dak is hoër as 2,6 m en hier is omtrent genoeg spasie dat die Bokslot Lood de Jager lynstane kan oefen.

Die seilgedeelte tussen die dak en romp vou oop terwyl die dak lig. Jy trek dan die rek wat om die seil gespan word, af ondertoe en span dit om die raamwerk. Dié rek is eintlik net daar vir die afslaanslag, want hy hou die seil binne en keer dat dit in die dak vasknyp wanneer jy hom toemaak.

Nou klim jy in die wa en druk die platgeslaande U-raam boontoe. Hy slaan ook outomaties op om die seilgedeelte bo die linkerkant van die wa te span.

Wag vir my in die badkamer...

Aan die regterkant van die wa is die wasgoedraam vas, maar Jan het ’n tweeledige doel hiervoor bedink, want die raamwerk is ook vir jou badkamerseil.

Jy span die seil om die raam en knip dit vas en klim dan deur die regterdeur reguit uit jou wa in die badkamer.

Links van die deur is ’n kas met ’n lig, ’n seilhouer vir tandepasta, seep en sjampoe, ’n spieël en die uittrekkraan wat jy sommer op die wasgoedlyn laat hang wanneer jy stort.

Dis inderdaad ’n slim gebruik van die wasgoedlyn.

Kom gerus binne

Wanneer jy by die deur inklim, is jou hangkas (130 x 63 x 37 cm) onmiddellik links van jou. Die deur is nie die grootste wat ons al op ’n boswoonwa teëgekom het nie en ’n mens moet deurgaans bewus wees van die gevaar wat jy loop om jou kop te stamp as jy nie kyk wat jy doen nie.

Regs van deur sit drie ligskakelaars en jou twee USB-sokke en kragmeter. Die skakelaars is vir die ligte by die trap, kombuis en gasbraaier.

Langs die hangkas is ’n oppervlak regs met ’n wasbakkie vir gesig was en tande borsel, en twee reghoekige kassies onder waar jy jou badkamergoed kan bêre. Bo die oppervlak is ’n LED-lig – een van net drie ligte in die wa.

Die groot eilandbed is ’n luukse in ’n boswoonwa, en teen 196 x 120 cm is hier meer as genoeg plek vir jou en jou lewensmaat om rustig te slaap sonder om oor mekaar te klouter. Julle elkeen kry ook ’n klerekas met drie rakkies en ’n plat oppervlak bo-op wat as bedkassie deug.

Teen die kaste is ’n verstelbare leeslampie vir elke slaper – die ander twee ligte in die wa.

Wanneer die wa oopgeslaan is, is hier ’n lang rak bo jou kop waarop jy goed soos jou brille, pille en boeke kan bêre. Onthou om die goed hier af te haal voor jy die dak platslaan.

Maar die groot bederf is eintlik onder die bed: Wanneer jy die matras en die groot kas se deksel lig, is hier soveel ruimte soos in ’n Venter-sleepwa. Hier kan jy pak en pak en pak... En die beste van alles is dit is op die as, wat jou help om jou wa reg te pak om die moontlikheid van swaai uit te skakel.

Gasvry

Agter die wiel aan die regterkant is ’n kasdeur. Wanneer jy hom ooptrek, sien jy iets wat jy nie te gereeld sien nie: Op die uitglyraam is ’n gasbraaier met sy eie gassilinder – net die ding as jy vinnig die vleis moet gaar kry.

Onder die braaier is ’n uittreklaai met jou braaibak, tenk, speserye en dies meer in skuimrubber. ’n LED-lig sit bo die kasdeur om jou te help dat jy ’n wakende oog oor jou steaks hou. 

Tuis in die kombuis

Agter op die wa is ’n opswaaideur waarop twee 16”-noodwiele gemonteer is. Agter dié deur, wat met gasstutte oopmaak, is die Lion’s Den Supreme 4x4 se kombuis versteek.

Hier is ’n wasbak en ’n stofie wat aan die gassilinder in die neuskas gekoppel is. Teen die regtermuur is ’n seilhouer vir jou messegoed en in die rak bo die wasbak en stoof ’n rak met ’n strook skuimrubber waarin jou bekers en glase veilig kan saamry. Die borde word met rekke teen die muur voor jou vasgehou.

Aan die linkerkant van die kombuis is jou koskas met drie rakke agter ’n seilflap wat toerits. Die kombuis is op ’n gawe hoogte en onder die afdak, wat beteken alles bly droog wanneer dit reën.

Jou 80 l-Snomaster-ys-vrieskas is op ’n uitglyraam in die kas agter die linkerwiel.

Bo die wiel is die tafel (130 x 66 cm) wat regop teen die wa is wanneer jy ry en platslaan wanneer jy kamp. Hier is ook drie kragpunte vir jou ketel en broodrooster. Die tafelblad is van vlekvrye staal en het nie ’n randjie om nie; dus is dit maklik om die blad skoon te vee.

’n LED-lig bo die werkoppervlak sorg dat jy nie in die donker hoef rond te tas wanneer jy die tamatie vir vanaand se braaibroodjie sny nie.

Die Bundutech-270º-afdak sorg vir koelte en bekerming teen die elemente en hy slaan maklik en vinnig op en af.

  • Weg Ry & Sleep het die Lion’s Den Extreme by die vervaardiger geleen.
Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte 4,2 m

Breedte 1,9 m

Hoogte 2,1 m

Hoogte met die dak opgeslaan 4,2 m

Vloer-tot-dakhoogte binne-in met dak opgeslaan 2,6 m

Tarragewig 720 kg

Dravermoë 780 kg

BVM 1 500 kg

Prys: R280 000 (sonder yskas)

PLUS   

  • Die opwipdak is vindingryk en eenvoudig.  
  • Jy kan beswaarlik vir meer kopruimte vra.  
  • Hier is oorgenoeg pakplek.  
  • Dit is lekker om USB-sokke in die wa te hê.  
  • Die buitestort is ’n slim plan.

MINUS

  • Dis moeilik vir een mens om die neuskas oop en toe te maak.  
  • Dit voel of die wa kan doen met minstens nog een lig binne. Dis nogal donker.  
  • Die deksel van die kas onder die bed kort ’n stutarm.

Weg Ry & Sleep Die uitleg van die wa en die slim gebruik van elke moontlike ruimte verdien lof.