foto’s Cyril Klopper

Suid-Afrika se vier gunstelingbakkies wat verkoopsyfers betref, is die Toyota Hilux, Ford Ranger, Isuzu D-Max en Nissan NP300 Hardbody. In die vyfde plek staan die Mahindra Pik Up, wat graag saam met die onafskeidbare vier musketiers – dit is nou D’Artagnan, Aramis, Porthos en Athos – op hulle avonture sou wou gaan, maar meermale as ’n buitestander beskou word.

Ons het in die inperkingstyd ’n week lank die strate vir onsself gehad en kon die Pik Up se bene behoorlik rek voordat ons berge toe is om uit te vind hoe hy vaar in veldrytoestande. Kan die Mahindra Pik Up hom aansluit by die vier musketiers?

Só ry hy

Die Mahindra Pik Up se 2,2 l-turbodieselenjin loop soos stroop in die stad, en die sesspoed- outomatiese ratkas wissel seepglad op die langpad. Dit is nodig om dit te noem, want anders as met die Hilux, Ranger en D-Max sou jy dit nie kon dink as jy hom in ’n parkeerterrein sien staan nie – die hoekige bakwerk is immers allesbehalwe vaartbelyn, en dis net die NP300 wat stadiger as die Pik Up lyk (en is).

Die sitposisie is gaaf en die stuuraksie voel reg, maar liewe aarde, die Pik Up se draaisirkel ewenaar ’n ossewa van ouds. Jy moet mooi beplan in ’n parkeerterrein, want hy kry nie sommer sy draai nie.

Ons hou van die groot syvensters en stomp voorruit. Dis ’n wildkyker se droom, want jy kan ’n 600 mm-zoemlens rondswaai sonder om die deurraam raak te kap – en danksy die stomp voorruit bak die instrumentepaneel nie so warm in die son nie. Dit is veel beter as die Hilux, Ranger én D-Max met hulle smal syvensters en skuins voorruit. Die NP300 gee jou ’n soortgelyke sig, maar jy sit heelwat laer as in die Pik Up. Die Pik Up se agterbank is effens knap en jou passasiers gaan kla dat hulle kiertsregop moet sit. Hier sou ons eerder die Toyota, Hilux en Isuzu oorweeg.

Die soge­naamde mHawk-2,2 l- enjin is nie besonder fris nie, maar hy trek nietemin sterk genoeg – jy het nie ’n groter kapasiteit nodig nie.

As ’n veldryer?

Ons het die Mahindra Pik Up na die Matroosberg- private reservaat buite Ceres geneem. Met ons besoek was die 4x4-roete met sy moeilikheidsgradering van 3 droog en sonder sneeu (sien Ry & Sleep #37).

Ons het die banddruk verlaag van 2,2 bar tot 1,8 bar, en die eerste hindernis, Land Rover Hill, met viertrek en hoëstrekratte (4H) gepak. Dit is nie ons eerste besoek aan dié 4x4-roete nie en van al die voertuie waarmee ons al teen die berg uit is, het die Pik Up die meeste gesukkel. Ons kon wel die roete baasraak, maar dit was so hittete.

Die elektroniese vastrapbeheer was die kardinaal Richelieu in die verhaal, want hy’t heeltyd krag na die wiele gesny om wieltol te verhinder en probeer help waar dit nié nodig was nie. Uiteindelik het ons oorgeskakel na laestrekratte (4L), nie omdat die terrein so moeilik was nie, maar bloot sodat ons die elektroniese “hulpmiddel” kon afskakel. In 4L was die roete verspotmaklik, hoewel ons uiteraard nou meer brandstof verbruik het.

Bo-op Matroosberg is ’n laaste uitdaging met ’n moeilikheidsgradering van 4 (as dit sneeu 5) wat bestaan uit hoë kliptrappe, los skalie en ’n steil bult. Al vier die Pik Up se wiele het hier getol en die bakkie het links en regs geskuif, maar kon nie ’n aks vorentoe beweeg nie. Waldo de Kock, die eienaar van Matroosberg, was geensins verras hierdeur nie en sê min bakkies kan die laaste hindernis tem – tensy hulle ’n gewig op die laaibak dra. Ons reken die Pik Up is betreklik dieselfde as die Ranger, Hilux en D-Max as dit by veldryvermoë kom, en beter as die Hardbody omdat dié nie meer met ’n ewenaarslot beskikbaar is nie.

Wat wel in die Pik Up én Hardbody se guns tel, is dat jy nie so jammer vir hulle voel as die spoggerige Ford, Toyota en Isuzu nie.

Met die terugkomslag het ons die Mahindra se elektroniese afdraandebeheer aangeskakel en luilekker teruggesit terwyl die Pik Up die rem- en ratwerk behartig. Dit is iets wat die Hardbody nie het nie, maar die ander wel.

Die Pik Up het nie baie fieterjasies nie. Die tru-kamera is ’n nuttige katoeter, maar hy neem ’n hele paar sekondes om aan te skakel nadat jy trurat ingehaak het, en dit kan soms frustrerend raak.

Slotsom

Die Mahindra Pik Up staan geensins terug vir sy mededingers nie. Ons is nie beïndruk met die vastrapbeheer nie, maar kan wel insien dat ’n groentjie – iemand wat nog nooit gaan 4x4-ry het nie – hierby sal baat vind.

Ons is dit met die res van Suid-Afrika se motormedia eens dat die Mahindra Pik Up uitstekende waarde vir geld is. Hy’s kennelik nie so wintie as ’n Ford Ranger Raptor of Toyota Hilux Legend 50 nie, maar as jy net ’n doodgewone bakkie soek, is die Mahindra Pik Up een vir almal, en almal vir een.

Inligting
Mededingers
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook