Kom ons wees eerlik: Mahindra is geen reus in die leefstylmark nie, ondanks die matige suksesverhaal van die skynbaar betroubare dog spartaanse Pik-Up en Bolero-modelle, wat ietwat meer aanklank vind in kommersiële kringe.

Mahindra het sy modelreeks onlangs aangevul met die opgeknapte XUV500, wat met vier afwerkingsvlakke spog.

En hy rig sy visier op jóú.

Wat presies is nuut?

OULIKE BOUDJIES. Dis die agterend waar jy die meeste opknappings sal aantref. Dis omdat die luikrug en die ligte hier aansienlik anders as voorheen lyk. Die XUV500 se kajuit is effens verouderd, maar dit bied hope affêrinkies, fietertjies, katoeters en katotters. Dis ook merkbaar stiller binne as tevore.

As jy vinnig na die XUV500 kyk, sal jy verskoon word as jy hom misgis met sy voorganger. Die veranderings in stilering is subtiel en jy moet mooi kyk voor jy die verskille kan raaksien.

Die eerste element wat aangeraak is, is die sierrooster – dieselfde sewe gleuwe waarvoor dié handelsnaam bekend is – maar daar is nou ’n dikker chroomstrook rondom alles, met ekstra stukkies chroom tussenin.

Die hoofligte is herontwerp en spog nou met dagryligte in die boonste deel. Die onderste helfte van die neus het ook verander, met ’n skerper buffer, nuwe misligte en ’n kammaskermplaat.

As jy van die kant af kyk, is daar chroomstroke aan die onderrand van die deure en die D-pilare het ’n paar details bygekry.

Die herontwerpe agterligte is sekerlik die opvallendste kenmerk aan die stert, want hulle lê nou meer horisontaal en nie vertikaal nie. Daar’s ook ’n herontwerpe luikrug met ’n groter drukvlerk, ’n breër nommerplaatholte, trukamera (op die vlagskipmodelle) en ovaalvormige uitlaatpype – een aan elke kant.

Vlakke van luuksheid

Die XUV500 kom danksy die toetrede van ekstra modelle tot die reeks met vier afwerkingsvlakke. Die modelreeks sluit in die W4-basismodel met dubbele lugsakke voorlangs, lugreëling, elektriese ruite en syspieëltjies, en ’n 6”-raakskerm met USB- en Bluetooth-verbinding asook ’n 12 V-laaisok.

Die W6-model se ekstras sluit in stemmingsbeligting, kruisspoedbeheer, ’n verstelbare stuurstang, klimaatbeheer, nóg chroom en skakelaars op die stuurwiel.

Die W6 is ook slegs beskikbaar met ’n outomatiese ratkas. Dan is daar die W8 waarmee ons reeds vertroud is. Dié spog met ses lugsakke, ’n trukamera, ’n ekstra 12 V-laaisok, grondbeligting in die deure, ’n 7”-vermaakstelsel met iPod-skakeling en geïntegreerde satellietnavigasie, en swart leerbekleedsel.

Die vlagskip-XUV500 is die W10. Hy het ’n sondak, sy bestuurdersitplek kan in ses rigtings verstel, die motor het sleutelvrye toegang en ’n drukkknop-aansitter. Jy kan die W10 van buite af uitken danksy chroomstrokies om die ruite.

Al vier modelle het sewe sitplekke.

Hy ry glad nie sleg nie

Al vier modelle word aangedryf deur dieselfde 2,2 l-viersilinder-turbodieselenjin wat deur Mahindra die mHawk gedoop is.

Die mHawk skop 103 kW krag en 330 Nm wringkrag uit en dít word na al vier wiele gestuur deur ’n sesspoed-handratkas of sesspoed- outomatiese ratkas. Selfs al is die mHawk nie besonder kragtig vergeleke met ander sportnutse nie, trek hy wel sterk.

Ons het ongelukkig nie toegang tot die handratmodel gehad nie, maar die W10 se outomatiese ratkas het hom goed van sy taak gekwyt. Ratwisselings is akkuraat en die ratkas pas oor die algemeen goed by die enjin.

Wat ook opvallend is, is dat die nuwe kajuit aansienlik stiller is as die uitgaande model s’n. Dis omdat Mahindra met Lotus saamgespan het om die vering op te knap. Die nuwe vering sorg ook vir ’n gemakliker rit en verbeterde hantering.

Die stiller kajuit is dalk bloot ’n newe-effek, maar dis ’n welkome bonus.

Sluitweerremme en remkragverdeling is standaard, en met die W6 en opwaarts kry jy bultwegtrekbeheer en afdraandebeheer om al daai skuinstes in Waterkloofrif te tem, plus vastrapbeheer vir Parrafontein se grondpaaie.

Slotsom

Dit is die tweede keer dat Mahindra die XUV500 opknap ná sy eerste ontrimpeling in 2015.

Die XUV500 is sedert 2012 op ons paaie en gemeet teen ander nuwe sportnutse beteken dit dat hy effens oud begin raak.

Geen vervanging word vir die afsienbare toekoms beplan nie, en daarom kry ons hierdie verskeidenheid modelle.

Hoewel die XUV500 nie as ’n baanbreker beskou word nie, is dit ten minste ’n ordentlike en gemaklike gesinsvoertuig met ’n uiters mededingende prys.

SPESIFIKASIES

Model: XUV500 W10

Enjin: 2,2 l-viersilinder- turbodiesel

Krag: 103 kW @ 3 750 r.p.m.

Wringkrag: 330 Nm @ 2 800 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Brandstofverbruik: 7,4 l/00 km

Tenk: 70 l

Grondvryhoogte: 200 mm

Waarborg: 5 jaar/150 000 km

Diensplan: 5 jaar/100 000 km

PRYSE

  • XUV500 W4 R299 999
  • XUV500 W6 AT R359 999
  • XUV500 W8 R374 999
  • XUV500 W8 AT R403 999
  • XUV500 W10 AT R419 999