foto’s Cyril Klopper

Nes ’n huis waar aangebou is, is dit soms ooglopend dat ’n ou voertuig vernuwe is. Nuwe buffers is skerp en hoekig, nes die jongste gier vereis, maar die ou bakpanele sit gewoonlik steeds met die sagte kurwes van die vorige dekade.

Mitsubishi kon egter daarin slaag om sy jongste vernuwing by die oorspronklike bakwerk te laat pas.

BINNE EN BUITE. Die opkikkering aan die buitekant is meer opvallend as aan die binnekant. Die glasdak is lieflik in bewolkte en reënweer, maar van minder nut wanneer die son skyn.

Wat is nuut?

Die ASX se neus lyk heeltemal anders. Die enjinkap is hoekig, die modderskermpaneel het nou ’n fop-luguitlaat, die hoofligte is op skrefies getrek en die sierrooster herinner sterk aan die Mitsubishi Triton en Pajero Sport.

As ’n mens van die kant af kyk, is daar minder veranderings. Die syspieëltjies is dieselfde, maar die nuwe wielvellings is nie heeltemal so flambojant as voorheen nie. Die opkikkering aan die ASX se agterstewe is subtiel, en dis eintlik net die buffer wat noemenswaardig verskil met nóg fop-luguitlate. Daar is geringe verskille aan die luikdeur en die agterligte is moderner gemaak terwyl hulle dieselfde buitelyn as tevore behou.

Binnelangs is die ou stuurwiel behou en die instrumentepaneel lyk taamlik onveranderd. Die raakskerm is egter groter (die 7”-skerm het gegroei tot 8”) met nuwe programmatuur, en hier en daar is ’n nuwe knoppie en USB-sok.

Enjin en ratkas

Mitsubishi gebruik sy eie 2 l-petrolenjin wat uit aluminium gegiet is, die sogenaamde 4B11 MIVAC, wat onder meer ook in die Lancer gebruik is.

Danksy die 86 mm-slag en 86 mm-boring (ingenieurs noem dit ’n vierkantenjin) kan die enjin seepglad omwentel met lineêre kraglewering en ’n wye wringkragkurwe.

Dié twee eienskappe word dikwels vereenselwig met bedeesde en selfs vervelige enjins, maar die ASX lewer in die stad ’n aangename rit, terwyl jy op ’n snelweg die spoedgrens maklik kan oorskry as jy nie die naald dophou nie. Dis nou as die palwisselratkas (CVT) jou nie tot raserny dryf nie...

As jy die versnellerpedaal wegtrap, hoor jy hoe die enjin harder en harder dreun sonder dat ’n rat oorskakel. Dis ’n onnatuurlike affêre, maar Mitsubishi het nou ’n DS-posisie (Drive Sport) bygewerk wat jou in staat stel om die hefboom na links te tik en self die “ratte” te verwissel, selfs nadat jy stilgehou het. Mitsubishi sê dit lewer ’n bevredigender rit.

Maar as dit dan so aangenaam is om jou hande te gebruik kan jy net sowel die 5 spoed-handratkas oorweeg vir R20 000 minder as die outomatiese model.

Op ’n grondpad

Die nuwe ASX is ongelukkig in Suid-Afrika nié met allewielaandrywing beskikbaar nie – daar is bloot ’n droewige holtetjie langs die rathefboom waar die 4WD-knop moes wees. Mitsubishi het darem besluit om Yokohama Geolander-alleseisoenbande standaard aan te bring, wat effens vergoed.

Dié bande het met ons toets goed gepresteer op grondpad. Mitsubishi sou die horries kry as hulle kon sien watter paaie ons met die ASX aangedurf het, maar die grondvryhoogte van 195 mm, die Geolander-bande en die sterk dog kalm enjin het ons deurgedra.

Slotsom

Die ASX is ’n goeie voorbeeld van hoe jy ’n “ou” ryding nuut maak. Ons hou van die algehele voorkoms, die verhitte sitplekke, die diep paneelkissie met sy kragpunt, die volgrootte noodwiel, die intuïtiewe programmatuur op die raakskerm en ’n enjin wat kennelik nie jou hare deurmekaar waai nie, maar nietemin die werk gedoen kry.

Die ASX se Achilleshiel is sy palwisselratkas. Ons beny mense wat nie deur hierdie soort ratkas gepla word nie – en daar is baie van hulle – maar ons verkies ’n dubbelkoppelaar- of selfs doodgewone outomatiese ratkas.

SPESIFIKASIES

Model getoets: 2.0 CVT

Enjin: 1 998 cc, viersilinderpetrol

Krag: 110 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 197 Nm @ 4 200 r.p.m.

Ratkas: 6 fase-palwisselratkas

Wielgrootte: 215/70 R16

Grondvryhoogte: 195 mm

Brandstofverbruik: 8 l/100 km (getoets)

Tenk: 63 l

Sleepvermoë: 1 260 kg

Veiligheidsgradering: * * * * * (ANCAP, 2014)

Waarborg: 3 jaar/100 000 km

Diensplan: 5 jaar/90 000 km

Prys: R399 995

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook