Foto's Helenus Kruger

Met die bekendstelling van die Mobi Lodge in 2015 het Marius Ras van Mobi Lodge Manufacturing ’n unieke konsep na die Suid-Afrikaanse woonwamark gebring.

In daardie stadium was die slaapkamer wat uit die wa se romp skuif, ’n nuwigheid op plaaslike bodem. Dié plan vergroot die luukse wa se vloeroppervlakte met 40% én hy is gebou om selfs die rofste paaie aan te durf.

Dié slim kombinasie van ’n boswa en boswoonwa is nog nooit voorheen op ons paaie gesien nie. Nou het ’n kleiner weergawe – die Mobi X – die lig gesien, en volgens Marius het dié buksie, nes sy ouboet, ’n eenstuk-veselglasromp sonder nate of laste wat op ’n onderstel van gegalvaniseerde staal gemonteer word.

Dié slim kombinasie van ’n boswa en boswoonwa is nog nooit voorheen op ons paaie gesien nie.

Die wa is gemik op kampeerders wat die beweeglikheid en veldryvermoëns van ’n boswa soek, maar ook die luukshede wat jy gewoonlik net in boswoonwaens kry. Met ’n droë gewig van 760 kg is die Mobi X maklik om te sleep en die afwaartse kurwe van die neus sorg vir min windweerstand. Die wa het nie ’n uitslaantent nie en jy slaap binne-in die romp.

Binne het jy luukshede soos liggies, tydskrifnette en koeldrankhouers terwyl die laai wat jy uit die romp trek, genoeg plek het vir al jou kampgoed.

/
/

Kom gerus binne

Die Mobi X is binne heelwat ruimer as wat ’n mens verwag. Jy kan wel nie regop staan nie, maar die 100 cm dakhoogte is hoog genoeg om gemaklik rond te beweeg, al is dit dan op jou knieë op die matras.

Jy moet eers die bagasielaai aan die agterkant uittrek voor jy kan inklim, want die laai is in die bed se ruimte wanneer dit ingestoot is. Die ferm sponsmatras met drie panele word regop in die voorkant van die wa gebêre, tussen die neus en bagasielaai.

Tussen die opgevoude matras en die laai (toegestoot) is 43 cm spasie wat as bykomende pakplek ingespan kan word. Die matras lê so te sê die vloer vol wanneer jy hom platslaan en daar is net 48 cm tussen die voetenent en die laai.

Die matras is langer en net-net breër as ’n driekwartbed en is aan die bokant gepunt waar dit in die gespitste neus inpas. Die maklikste manier om in die Mobi X te klim is om in die hoogste kant van die deuropening te sit en jou bene regsom na binne te swaai.

In die deuropening is ’n muskietnet wat met klitsrits aan die binnewand vasplak en jy sluit die deur van binne af met ’n knip. Aan die regterkant van die binneruim (soos jy inklim) is ’n houer van reknet vir tydskrifte bo die matras en ’n oopslaanhouer vir ’n waterglas of koeldrankblikkie.

Bo, amper teen die dak, is twee klein plat kassies vir boeke, brille, sleutels en selfone, en langs die kassie is ’n verstelbare LED-leesliggie. Onder by die voetenent is daar nog twee klein kassies; die boonste een het pakplek en die onderste een huisves die batterylaaier.

Aan die linkerkant is die klerekas se binnekant. Jy het toegang van binne tot die kas; jy hoef dus nie na die storttent te loop om jou klere uit te haal nie. Voor die kas is ’n muskietnet wat die vlieënde peste buite hou wanneer die buitedeur oop is. Hier is ook ’n liggie en glashouer soos aan die regterkant én ’n driepuntprop.

Aan die bokant, regs van die liggie, is ’n ronde gat wat aan die onderpunt van die palekas is. Jou hand pas mooi deur die gat sodat jy pale wat te diep lê, na buite kan stoot. Aan die voetenent is ook twee kassies, maar die pypwerk vir die water en gas loop hierdeur, wat beteken pakplek is beperk.

Onder die kassie is ’n driepuntprop vir die yskas. Daar is ’n dakliggie in die middel van die dak. Die kragboks is regs bo, by die deur se ingang, en die stroombrekers en skakelaars vir die dakliggie, watertenk en yskas sit ook hier. Ook tot jou beskikking is ’n USB-sok, 12 V-sigaretaanstekersok, voltmeter en inhoudsmeter vir die watertenk. 

Kom tot die punt

Die neus van die wa is gepunt teen ’n hoek van 35º; dus gaan jou wa en voertuig se buffer mekaar nie sommer ontmoet as jy skerp draai nie. Danksy die hoek spring klippe nie terug na jou voertuig toe nie, maar weg na die kante. Die hele neus is met ’n beskermer bedek.

Alles op die A-raam

Op die A-raam is die neuswiel, handrem, kragkoppeling vir die ligte en ’n Brad Harrison- prop om die battery in die ry te laai.

Die stewige neuswiel kan, nadat die wa gehaak is, opswaai om horisontaal langs die A-raam te pas. Vir die swaai trek jy die geveerde U-vormige knip na jou toe (nadat die wiel opgedraai is) en swaai die wiel boontoe.

Maak seker die knip haak weer goed in.

/
/
/

Agter die kap van die byl

Om by die pakplek van die Mobi X uit te kom moet jy die agterdeur oopmaak en die bagasielaai (85 x 150 cm) uittrek. Vóór jy die agterdeur oopmaak, moet jy eers die twee afswaaihoekstutte aan weerskante op die grond staanmaak.

As jy die bagasielaai uittrek voordat die hoekstutte stewig staan, is die kanse goed dat die gewig van jou kampgoed die wa se neus sal lig. Om seker te maak jy vergeet nie hiervan nie is daar ’n plat stukkie yster aan die linkerkantse hoekstuk vasgebout wat keer dat die deur oopgemaak kan word as die hoekstut nie laat sak is nie.

Die laai word weerskante met twee knippe in plek gehou. Agter is ’n tou wat jy trek om die knippe te ontsluit en ’n handvatsel waarmee jy die laai uittrek. Die laai het ’n veselglasdak wat net so groot is soos die laai. Aan die drie kante van die dak is seiltjies wat jy afrol en op die hoeke en onder kan vasrits om die reën uit te hou.

Die seiltjies rol maklik op; daar is aluminiumpypies in die naat aan die onderkant ingewerk om te help as jy dit oprol. Die twee seiltjies aan die sykant druk met drukknoppies teen die romp vas om die gaping tussen die laai en die romp toe te maak. Die linkerseiltjie het ’n gaasvenster wat help met lugvloei deur die wa.

Die kassettoilet is aan die kant verste weg van die romp, en die gasbottel is ook hier op die laai gemonteer. Dan volg ’n raamwerk waarin ses ammunisiekiste pas – drie aan elke kant en wat met rollers uitgetrek word.

’n Opvoubraaier van vlekvrye staal, netjies in ’n seilsak, is teen die ammunisiekiste se raamwerk vas. Naaste aan die romp is die plek waar die yskas staan. Aan die binnekant van die deur is ’n 6 l- gasgeiser, brandblusser asook die gereedskapsak.

Die noodwiel is agterop die deur op ’n pypraam en links van die deur is die warm- en kouewaterkraan. 

Kombuisstories

Die afdak (1,8 x 3,5 m) wat bo-oor die kombuis span, is opgerol in ’n sak wat aan die bokant van die wa se sykant in ’n glyraam pas.

Dit is net-net breër as die kombuis en ’n hoekyster wat in ’n V-posisie teen die romp onder die seil is, keer die water wat afloop, weg van die kombuis. Die seil het ’n silwer afwerking om sake onder koel te hou en daar is ’n aparte seiltjie (1,3 m breed) wat oor die wa se deur span en met klitsrits aan die hoofseil vasgeplak word.

Dit hou die wa binne droog wanneer die deur oop is. Die deur, 61 cm bo die grond, is heel voor by die neus van die wa. Die opening is 81 cm breed. Die bokant volg die profiel van die wa se neus en loop afwaarts van die hoogste punt regs (87 cm) tot by die laagste punt links (60 cm).

Die kombuis is regs van die deur en die kombuisdeur swaai, soos in baie ander waens, af om ’n werkblad (58 x 137 cm) te word. Aan die regterkant is ’n tweeplaatgasstoof wat permanent aan die gasbottel gekoppel is.

Die groot werkoppervlak (48 x 83 cm) links van die stoof maak jou sommer lus vir kook; hier is baie werkplek om jou lyf Masterchef te hou. Die regterkant van die kas, bo die stoof, is waar die messegoed, bekers en wyn- en koeldrankglase is, en heel regs is plek vir twee wynbottels.

Die kombuis is toegerus vir vier mense. Links in die kas is tien rakkies vir borde, potte, panne en plastiekkoshouers en heel links onder is ’n rakkie met plek vir vyf speserybottels. Bo dié rakkie is ’n braaitang en ’n driepuntkragprop. Bo die kombuis is ’n LED-liggie wat op die werkblad skyn.

Die lig se helderheid kan verstel word én jy kan kies of dit geel of wit moet skyn. Regs van die blad is twee hake teen die romp van die Mobi X vir die skottelgoedwasrakkie met ’n wasskottel en die afdroograk. ’n Ysterpoot met ’n rubbervoetstuk druk teen die romp om die rakkie bo te hou.

Nóg pakplek

Jy kan jou bykomende kampgoed bo-op die pypraamdakrak laai. Dit is ook hier waar die opsionele daktent gemonteer word.

Waskamer

Om van buite by die Mobi X se klerekas uit te kom moet jy, net soos by die kombuis, die deur afslaan. Dié deur hang ook aan twee staalkabeltjies om dit in ’n werkoppervlak te omskep.

Die klerekas het nege rakkies waarvan ses oop is aan die agterkant sodat jy ook jou klere van binne die wa te kan uithaal. Die storttent (2,2 x 2 m) word aan dié kant van die wa opgeslaan.

Op sy hoogste is die dak 2,1 m en op die laagste 1,7 m. Die tent het rondom sykante met vensters en daar is ’n deur aan die sykant die verste van die wa. ’n Windseiltjie aan die onderkant van die wa hou die wind buite.

Anders as gewoonlik met woonwatente word die onderste plastiek na buite gevou en die tentpenlussies is aan die binnekant. Die uittrekstortkop, dieselfde model as op die Mobi Lodge, is links onder. Onder die stortkop is die prop waar die watertenk volgemaak word.

Die storttent word ook as ’n aantrekkamer gebruik, maar dan gaan jy eers in die oggend met jou nagklere uit die wa moet klim en omloop tot by die tent.

Die tegniese goed

Neusgewig 65 kg (gewig verskaf)

Lengte (A-raam ingesluit) 3,7 m Breedte 1,65 m Hoogte 1,9 m

Netto gewig (basiese wa) 760 kg

Dravermoë 740 kg

BVM 1 500 kg

Prys R198 000 soos getoets, volledig toegerus. Die basiese wa met die uittreklaai kos R148 000. Daar is verkeie opsionele tentopsies.

PLUS

  • Die bougehalte en afwerking binne en buite is puik.  
  • Die kombuis is groot en goed toegerus.  
  • Die neuswiel wat wegswaai en uit die pad langs die A-raam lê, is ’n goeie idee, veral as jy rowwe terrein aandurf.  
  • Die wa is lig en jy kan hom gemaklik sleep met ’n voertuig met ’n kleiner enjinkapasiteit.  
  • Die kantseile het lussies aan die onderkant waarin ’n paal pas om die oprol te vergemaklik.

MINUS

  • Dit is ongerieflik om jou klere binne-in die wa aan te trek.  
  • Die yskaslaai trek nie uit nie en die smal spasie maak dit moeilik om iets uit te haal.  
  • Die klerekas se rakkies is smal en daar is nie baie pakplek nie.  
  • Daar is nie ’n seilafdak oor die agterste bagasielaai nie; jy reën nat as jy iets uit die ammokiste of yskas wil haal.  
  • Die liggies bo die kombuis en klerekas skyn net op die werkblaaie en nié binne-in die kaste nie.

Weg Ry & Sleep sê Die wa het swart 16 duim-sierwiele met 265 x 70 x 16”-bande.

Weg Ry & Sleep het die Mobi X by die vervaardiger geleen.

Mobi Lodge is ’n eenmansaak met die fabriek in Middelburg en bemarkingskantore in Pretoria. Kaapstad kry binnekort ’n tak.

Kontak 013 246 1080, 083 230 6131 of 082 899 9999 marius@mobilodge.com of leon@mobilodge.com mobilodge.com