Hy is gegrond op Mercedes-Benz se reeks vragmotors waarvan die Actros en Axor deel vorm, maar die Zetros is wat jy sou kry as jy ’n ryhuis met ’n Unimog se legendariese veldryvermoë kruis... en dit dan met twee vermenigvuldig.

Dit is ’n ekstreme ryhuis, en twee sakemanvriende in Ulaanbaatar, die hoofstad van Mongolië, het elkeen een gekoop. Dié hoogliggende land bied ’n klomp soorte terrein wat wissel van uitdagende bergreekse tot wye grasvlaktes. Dus nét die plek om ’n 6x6-ryhuis te besit.

Nadat hulle Mercedes-Benz se WÖrth-vragmotorfabriek in Duitsland verlaat het, is albei voertuie noord gestuur na die ombouingspesialiste Hartmann en die kajuitopgradeerders Huernerkopf, albei in Frankfurt. Albei Zetrosse is met standaard-afwerkingsvlakke soontoe gestuur met net ’n slaapkajuit vir die bestuurder, lugreëling, ’n klankstelsel met Bluetooth-koppeling, en ’n 7”-raakskerm met ’n trukamera om dit makliker te maak om hierdie monster terug te stoot. Die kajuit het ’n dakrak met ’n dravermoë van 100 kg sodat vier kolligte en twee lughorings daarop gemonteer kon word.

By die agterkant is ’n hyskraan wat gebruik word om die noodwiele van hulle monteerplekke tot op die grond te laat sak, en ’n ekstra stel spreiligte wat aanskakel sodra jy trurat inhaak.

Twee brandstoftenks hou onderskeidelik 200 l en 300 l diesel – die sakemanne hoef dus nie bekommerd te wees of hulle die volgende dorp gaan haal nie, selfs in Mongolië se diep platteland.

Die ombouingspesialiste moes in ag neem dat die ryhuise in Mongolië se ekstreme weerstoestande gebruik gaan word, en hulle het derhalwe isolasiemateriale gebruik om die vakansiegangers knus en veilig te hou, maar die materiale moes ook duursaam wees om uitmergelende 4x4-roetes te oorleef.

Elkeen van die twee ryhuise se kombuis is toegerus met ’n oond, mikrogolfoond, ys-vrieskas, kroeg en koffiemasjien. Hulle het ook ’n buitekombuis met ’n tweeplaatstoof vir wanneer die weer saamspeel. In die badkamer is ’n storthokkie, wasbak en ’n marmervloer met ondervloerse verhitting.

Die Zetros het drie asse en ’n brutogewig van 25 t. Hulle word aangedryf deur ’n 7,2 l-reguitsessilinder-turbodieselenjin wat 240 kW en 1 300 Nm lewer (tussen 1 200 r.p.m. en 1 600 r.p.m.).

Daar is twee ratkasopsies: ’n doodgewone sesspoed- outomatiese ratkas en ’n negespoed- hidrouliese ratkas met agt ratte vorentoe plus een kruiprat vir wanneer dinge rof raak. Wringkrag word met ’n VG 1 700-oordraratkas na al ses wiele gestuur vir permanente allewielaandrywing.

Drie meganiese ewenaarslotte is standaard en hulle word deur die bestuurder in die kajuit aangeskakel. Daar is liggies op die instrumentepaneel wat wys in watter volgorde hulle ingehaak moet word: eers die middelste, dan die agterste en laastens die voorste ewenaarslot.

Die omgeboude Zetrosse gaan meermaal gebruik word in die Altai-bergreeks wat die geografiese grens tussen China, Kasakstan, Mongolië en Rusland vorm.

Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na rysleep@weg.co.za.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook