Die opvallendste verandering is ’n nuwe sierrooster (dieselfde as die D-max s’n) en ’n nuwe voorbuffer waarvan die boonste helfte dieselfde kleur as die bakverf is en die onderste helfte blinkswart.

Die agterbuffer het dieselfde kleurskakerings as voorlangs en die treeplanke is met dieselfde swart kwas geverf.

Die blinkswart word binnelangs herhaal, maar chroomstrokies word hier en daar bygewerk sodat dinge darem nie te swart is nie. Veiligheidseienskappe sluit in ’n nuwe remoorheersingstelsel wat die versnellerpedaal sal ignoreer as jy in ’n paniek al die voetpedale vastrap. Dié remstelsel vul ’n lang lys veiligheidseienskappe aan wat reeds in die mu-X beskikbaar is – dinge soos sluitweerremme, remkragverdeling, remversterkers, elektroniese stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer en afdraande- en wegtrekhulp.

Die mu-X het slegs een enjin, die 3.0-turbodiesel waarmee ons geruime tyd vertroud is, en ’n sesspoed- outomatiese ratkas. Die kragleweringstelsel behou dus sy maksimumsleepvermoë van 3 t.

mu-X
mu-X

Opsionele ekstras sluit in ’n Eaton M- Locker-ewenaarslot op die agteras (hetsy 4x4 of 4x2), parkeersensors, ’n sleephaak en enjinkapbeskermer.

Pryse: R630 400 vir die tweewielaangedrewe mu-X en R698 200 vir die viertrekmodel.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook