Hoe groter, hoe beter

Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 (outo)

Nadat hy voorheen sy Jurgens Elegance met ’n 2010-model Hilux gesleep het, het Ben Ras van Rustenburg besluit om op te gradeer na die splinternuwe bakkie van Toyota.

Daar was bittermin verkeerd met my vorige 2010-model Hilux 3.0 D-4D, behalwe dat die Elegance effens swaar gevoel het op die haak. Dit wou voorkom of die Hilux ietwat meer krag nodig gehad het om ’n wa van dié grootte met gemak te sleep.

Ek is deur en deur ’n Toyota-man, en daarom het ek die D-4D met ’n 2016 Hilux 2.8 GD-6 vervang. Ek het hom twee jaar terug nuut gekoop vir R550 000. Ek moet erken as ek dit in daardie stadium kon bekostig, sou ek eerder vir my ’n Land Cruiser wou aanskaf.

Maar my vrees oor die nuwe Hilux se kraglewering is sommer dadelik besweer. Die 450 Nm wringkrag maak kinderspeletjies van sleep en wanneer ek my regtervoet neersit, sukkel ek nie om iemand verby te steek nie.

Die outomatiese ratkas skakel moeiteloos oor. Ek hou my sleepspoed tussen 90 km/h en 110 km/h en afhangend van die weerstoestande en padoppervlak wissel die brandstofverbruik tussen 13 l/100 km en 17 l/100 km.

Wanneer ek nie sleep nie, kry ek gemiddeld 10 l/100 km met die Hilux. Sover was dit nog net ’n plesier in die Toyota en daar is nie veel om oor te kla nie. Dit sou egter lekker gewees het as daar ’n groter verskeidenheid Toyota-goedgekeurde toebehore op die mark was.

Ek dink ’n mens se persoonlike voorkeure speel ’n groot rol wanneer jy deesdae ’n sleepvoertuig kies, want baie van die moderne motors is baie goed toegerus vir sleep – ’n mens kry nie regtig meer ’n swak sleepvoertuig nie.

Vir my moet ’n sleepvoertuig sterk en stabiel wees. Dit is die eerste goed waarna ek kyk. Ek is besonder erg oor die Tuinroete. Wanneer jy ’n ordentlike reis in dié geweste aandurf, kan jy heelparty skouspelagtige plekke tussen die Oos- en Wes-Kaap besoek waar jy óf die see kan sien óf oor skouspelagtige bergpasse kan ry.


Prysenswaardige Pajero

Mitsubishi Pajero 3.2 Di-D

Hy het voorheen met hulle gesin se sedanmotor, ’n BMW 545i, gesleep, maar Nick Lubbe van Hartenbos sê sy Mitsubishi Pajero is al wat hy nodig het wanneer hy 4x4-avonture aandurf of hulle wa sleep.

Pajero

Ek het vantevore ’n Pajero besit en ’n mens moet regtig gaan soek as jy met dié ryding wil fout vind. Ek het my huidige een al drie jaar en het sewe jaar met die vorige een gery.

Ek het dié 3.2 Di-D tweedehands vir R350 000 gekoop. Die Pajero voldoen aan ’n klomp van my vereistes vir ’n sleepvoertuig. Hy is betroubaar en sterk, maar ook sag op die oog.

Ek het die BMW X3 en X5 ook oorweeg, maar die Pajero het ’n spesiale plekkie in my hart. Hoewel die Pajero die kortasafstandmodel is, weeg hy meer as 2 000 kg, en met sy fantastiese enjin en onderstel sukkel hy glad nie om my 2013 Jurgens Fleetline te sleep nie.

Sleep

Sy 441 Nm se wringkrag maak korte mette met die pad en danksy die 140 kW tot sy beskikking hou ek my spoed maklik in die omgewing van 120 km/h.

Jy hoes egter by die vulstasie, want die Pajero gee my gemiddeld 14,7 l/100 km met die Fleetline op die haak en 9 l/100 km wanneer ek nie sleep nie.

Die Pajero se vering is effens hard wanneer ons grondpad ry, maar dit dra by tot sy onvernietigbare gevoel. Ek kan verstaan hoekom hy die Dakar-tydren al so baie gewen het.

Ons het al reg oor Suid-Afrika gekamp, maar my gunstelinge sluit in die Mabalingwe-natuurreservaat, Stormsriviermond, Buffelsbaai-woonwapark, Ebb-and-Flow, Jongensfontein-woonwapark en Silwerstrand-woonwapark. By al dié plekke is die natuurskoon treffend en die ablusiegeriewe onverbeterlik.