Is daar enigiets meer Suid-Afrikaans as braai, biltong en bakkies? Daar is ’n bakkie vir ’n ieder en elk, van intreevlakmodelle rondom R200 000 tot luukse rygoed van amper R1 miljoen. Die Isuzu D-Max (voorheen bekend as die KB) is nie ’n uitblinker soos die Toyota Hilux of die Ford Ranger nie, maar hy’s ’n staatmaker wat gereeld die bronsmedalje gaan wen wanneer dit by verkope kom.

Dis ’n werkersklasbakkie, ’n gunsteling onder boere, bouers en vakmanne. Dié mense soek ’n werkesel wat duursaam en prakties is, en hulle is nie veel gepla deur die oudmodiese binneruim en ’n 2.5 liter-enjin wat oor die jare heen nie veel verander het nie.

Die nuwegeslag-D-Max-bakkies, wat plaaslik in Suid-Afrika gebou gaan word, sal teen die einde van 2021 te koop wees. Intussen het Isuzu vyf nuwe outomatiese ratkaste tot die bestaande reeks gevoeg.

Hierdie is ’n onopgesmukte bakkie wat geen versnelren gaan wen nie. Maar hy gaan sonder ’n gesukkel die afstandsmeter aan die rol hou en baie verjaardae met jou deel.

Die enjin is nie besonders verfynd nie. Dit gorrel eerder soos ’n propperse plaasbakkie, maar die beproefde enjin en onderstel sal maklik die meeste van die uitdagings op ons teer- en plaaspaaie baasraak – al het die nuwe modelle nie ’n 4x4-modus nie.

Die toevoeging van die outomatiese ratkas beteken dat die D-Max nou ook as ’n gesinsvoertuig gebruik kan word om die kinders by die skool af te laai. Niks meer gesukkel met ’n swaar koppelaarpedaal en ’n ratkierie in spitsverkeer nie! Jou brandstofverbruik gaan ook beter wees.

Soos genoem, beskik die nuwe outomatiese modelle nie oor ’n 4x4-modus nie, maar hulle is steeds veeldoelig. Hulle kan tot 2 100 kg sleep (’n geremde sleepwa), die laaibak kan ’n ton se vrag dra en daar is baie ruimte vir diegene wat hope toerusting wil laai vir ’n kampnaweek.

Ons hou van die 250 X-Rider-model. Dit lyk mooi, die toerustingvlak in die binneruim is goed, die leersitplekke is gemaklik en die prys mededingend. Indien jy meer krag soek, is daar ’n 3 liter-LX-model met ’n sesspoed- outomatiese ratkas.

Die huidige D-Max is geen modepop nie, en juis daarom hou ons steeds van hom. Dis ’n fieterjasielose, veeldoelige bakkie wat jou nie ’n plaas se prys gaan kos nie, maar vir jou jare se moeitevrye diens sal gee.

Die syfers
Die syfers