foto’s Cyril Klopper

Grondslagfase

Die Suid-Afrikaanse aluminiumsmedery Hulamin lewer 3 mm-aluminiumplaat op palette by Rhinoman se fabriek in Rosslyn af.

Rhinoman se bemarkingspan ontvang ’n bestelling by ’n klant of sy agente, en plate word dan deur ’n laser in panele gesny en deur ’n hidrouliese stempel-en-sny-plaatmasjien gebuig tot die verlangde vorms.

Die gevormde aluminiumpanele en vierkantbuise word daarna in ’n krat gepak saam met ’n besendingsbrief wat aandui wie die klant is, watter soort kappie met die panele gebou moet word, en watter kleur bakverf die klant wil hê.

Die krat vol onderdele word nou van die snywerkwinkel na die nabygeleë vervaardigingsaanleg geneem. 

Neem vorm aan

Die monteerstel (of kit) vir elke kappie word uit die kratte gehaal en op rakke gepak.

Elke monteerstel word aan ’n metaalwerker toegesê wat die kappie aanmekaarsweis.

Die besendingsbrief volg elke kappie deur die vervaardigingsproses. Daar is drie weergawes van Rhinoman se aluminiumkappies: Die RhinoCab, Rhino- Lite en Rhino Superlite.

Al drie word gemaak om op alle bakkies te pas wat sedert 2013 bekend gestel is. Elke kappie word dan gesandspuit en deur ’n inspekteur ondersoek. Die inspekteur stuur enige kappie wat nie aan standaarde voldoen nie, terug na ’n metaalwerker.

Watter kleur, Meneer?

Ongeveer 700 ongeverfde kappies vir gewilde voertuie – genoeg vir ’n maand – word in voorraad gehou.

Eers wanneer ’n groot bestelling ontvang word, word hulle geverf en na die klant gestuur. Kappies wat op bestelling gemaak word en deur ’n inspekteur goedgekeur is, gaan egter reguit na die spuitverfkamer. Rhinoman gee sy kappies ’n poeierverflaag, gewoonlik wit, terwyl die deure grys of swart is.

Jy kan hulle egter vra om enige van dié kleure te kombineer. As jy wil hê die kappie moet dieselfde kleur wees as jou bakkie, kan dit óók gedoen word, maar dan word die kappie na ’n buitekontrakteur gestuur waar dit volgens jou bakkie se bakverf-kleurkode met emaljeverf bedek word. Laastens word die skarniere en deure dan vasgebout en die kappies vir waterdigtheid getoets.

Alles klaar, Kamisar?

Die geverfde kappies word nou in borrelplastiek toegedraai en in rakke gebêre totdat hulle verskeep word. Gewoonlik word hulle binne drie dae nadat hulle geverf is, in ’n krat geplaas.

Die kappies word nie net in Afrika verkoop nie, maar ook na Europa en Australië uitgevoer. Sowat 25 aluminiumkappies en net soveel gegalvaniseerdestaalkappies verlaat daagliks die aanleg.

Elke kappie het ’n waarborg van 2 jaar