Die stasiewa is dood. Die sedanmotor is op ’n drip. Selfs die luikrugmotor begin hoes en proes. Maar die sportnutsmotor bloos van gesondheid. Want in vandag se wêreld soek ons ’n bietjie grondvryhoogte om slaggate en grondpaaie te navigeer sonder om gemak in te boet, ruimte om kinders en bergfietse in te prop, en ’n hoë sitposisie agter die stuur sodat jy die taxibestuurder wat dreig om jou van die pad af te ry in die oë kan kyk.

Daar is deesdae ’n magdom sportnutsvoertuie om van te kies, van piepklein en basies tot vrekgroot en hiperluuks. Twintig jaar gelede was daar net een BMW-sportnutsvoertuig – die X5. Vandag tel jy van X1 af al die pad tot X7. Audi het ’n Q2, Q3, Q5 en ’n Q7. Mercedes-Benz het ses sportnutsmodelle wat wissel van ’n klein GLA wat begin by R500 000 tot ’n massiewe G-Wagen AMG wat by die R2,5 miljoen gaan draai.

En Hyundai het die Creta, Kona, Tucson en Santa Fe, ’n reeks sportnutsvoertuie gemik op Jan Alleman as jy in ag neem die grootste Hyundai (die sewesitplek-Santa Fe) kos net ’n paar rand meer as die GLA – die goedkoopste (en ’n klein) sportnutsmotor van Mercedes.

HYUNDAI CRETA
HYUNDAI CRETA

Die Hyundai-kwartet bied uitstekende waarde vir geld, en veral die Creta het aan die onderpunt van die mark groot byval gevind onder Suid-Afrikaners sedert dit in 2017 bekend gestel is. Dis ’n eenvoudige gesinsmotor wat R350 000 kos vir die 1,6 l-handratpetrolmodel, en die prys sluit luukses soos leersitplekke en agterste parkeersensors in.

Die Creta is in 2018 verder opgekikker en dis g’n wonder Hyundai verkoop maandeliks gereeld 500 of meer van dié motors nie.

Die Kona is laat in 2018 bekend gestel, en hoewel dit amper net so groot soos die Creta is, is dit ’n modeperd van ’n ander kleur.

Waar die Creta gemik is op middelklasgesinne wat ’n motor as ’n gebruikersitem beskou (in dieselfde liga as ’n yskas of ’n wasmasjien), is die eksentriekgestileerde Kona gemik op enkellopendes of paartjies wat nie omgee as mense vir hulle kyk nie.

Die Kona is effe kleiner as die Creta, maar sy lys van toebehore is langer, sy enjin is turbo-aangejaag en sy rit meer sportief – en dus kos hy sowat R30 000 meer as sy boetie.

HYUNDAI KONA
HYUNDAI KONA

As jy die Hyundai-sportnutsleer ’n trappie verder klim, kom jy by die staatmaker-Tucson uit. Die Tucson is al lank met ons, ondanks die feit dat die reeks in 2010 herdoop is tot die iX35, maar sowat drie jaar gelede sy naam teruggekry het. Die Tucson is ’n middelslag-sportnutsvoertuig – groter, kragtiger en met luukser afwerkings as die Creta en Kona.

Sy prys begin by R414 000 vir die 2 l-handratpetrolmodel. Die reeks Tucsons is in 2018 buite- en binnelangs kosmeties opgekikker, met die 4x4-model wat heeltemal weggeval het.

HYUNDAI TUCSON
HYUNDAI TUCSON

Die voorsanger van die kwartet is die Santa Fe, met ’n nuwe model wat einde 2018 bekend gestel is. Dis die vierde geslag van die groot sportnutsvoertuig wat die eerste keer in 2001 in Suid-Afrika verkoop is. Teen R599 900 vir ’n luukse 2,2 l-turbodiesel met ’n outomatiese ratkas en sewe sitplekke is daar min ander voertuie wat in dieselfde nis soveel waarde vir geld bied.

HYUNDAI SANTA
HYUNDAI SANTA

Al Hyundai se sportnutsvoertuie is genoem na gewilde vakansieplekke, so asof die Koreane vir hulleself ’n plekkie in die son wil losskrop.

Dit lyk asof hulle dit regkry.