Suzuki se legendariese klein veldryer is al 50 jaar met ons en het in dié tyd kultusstatus onder sy aanhangers verwerf.

Die jongste vierdegeslagmodel blyk ewe gewild te wees as sy voorgangers.

Met die Jimny se veldryvermoë kan jy nie fout vind nie. Die karretjie kan so te sê enige plek ry en daar is talle voorbeelde waar hy groter 4x4-voertuie sleg op hulle neus laat kyk het.

Dit is geen verrassing nie as jy in ag neem watter bekwame laestrekratte, goeie grondvryhoogte en uitstekende nader- en vertrekhoek hy het. Die Jimny is egter nie in Amerika beskikbaar nie, maar dié model wat onlangs by die Las Vegas-konferensiesentrum ten toon gestel is, het beslis ’n paar koppe laat draai, en dit wil lyk of hy ’n groep nuwe aanhangers bygekry het.

Die enigste probleem met die Jimny – en selfs die mees geharde ondersteuners sal hiermee saamstem – is dat hy ’n bietjie oemf kort onder die enjinkap. En dít is presies die probleem waaraan die Japannese maatskappy Car Style iets gedoen het toe hy dié Jimny by die handelskou van Sema (oftewel die Speciality Equipment Market Association) op die vloer getrek het.

Hoewel die amptelike syfers nog nie bekend is nie, word beweer sy krag van 75 kW kan tot drie keer verdubbel word. Dit maak sin as jy na die grootte van die Greddy-turboaanjaer op die K15B-enjin kyk. Die wringkrag van 130 Nm het na bewering ook verdubbel.

Ons het al met heelwat mense gesels wat meer krag in die Jimny sal waardeer, en daar is selfs voorgestel dat dieselfde enjin wat in die Suzuki Swift Sport-luikrug gebruik word, ewe tuis sal wees in die Jimny.

Jimny
Jimny
Jimny

En dit wil voorkom of die groot turbo wat by Sema uitgestal is, dié punt beaam. Buiten die enjin het Car Style die Jimny ook met nuwe en groter buffers opgedollie. Die enigste probleem met die agterbuffer is dat die uitlaatpyp nou in die middel sit en daar dus geen plek is vir jou nommerplaat nie.

Car Style het die ontrimpeling met ’n stel Volk Rays TE37-wielvellings en groot Toyo-bande afgerond.

Suzuki het met die Jimny ongetwyfeld ’n puik ryding gebou, maar dalk wys hierdie projek van Car Style presies waartoe die kar in staat is.

Laat ons weet
Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na  rysleep@weg.co.za