My oë kon die herkenbare profiel van dié ou Slipstream-opvouwa nie miskyk toe ek laas by Gouritsmond gekamp het nie. Die eienaar is die 24-jarige Julian van Rensburg van George.

Sy ouers het die 1982-model Slipstream Mk. 3 ’n jaar gelede vir R16 000 gekoop by sy oorspronklike eienaar. Die prys het die tent én stoeptent ingesluit.

Die wa was veronderstel om ’n projek vir Julian én sy broer, Juan, te wees, maar laasgenoemde het nie veel belang gestel nie en Julian het besluit om op sy eie deur te druk.

Sy hande staan duidelik vir niks verkeerd nie – as stokperdjie herbou hy klassieke motors. Hy was dus nét die man om die Slipstream onder hande te neem en die ou wa nuwe lewe te gee.

Die Slipstream se harde panele is weer geverf en Julian het ook die verf van die namarkse wiele verwyder en hulle oorgeverf. Die binneruim bestaan uit ’n dubbel- en enkelbed en ’n hangkas wat slim inmekaarvou wanneer jy die Slipstream se dak laat sak.

Verder is daar drie bykomende kaste met pakplek.

Die oorspronklike mat is met ’n gelamineerde vloer vervang, en die kaste is afgeskuur en met ’n nuwe laag verf bederf. Die jong man sê hy is van plan om nog baie moeite aan die Slipstream se buitekant te doen om hom tot sy eertydse glorie te herstel.

Hy en sy gesin het ’n maand lank by Gouritsmond gekamp en in dié tyd het die tent op plekke gelek. Dit gaan dus eerste aandag kry. Julian sê hy geniet die buitelewe en wil graag meer kampplekke in die Tuinroete besoek.

Laat ons weet
Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na  rysleep@weg.co.za.