Ek het grootgeword in ’n tyd van 1 liter-brandewyn, 2 liter-Coke en 3 liter-Ford. Vier silinders was vir sissies. Ses silinders was okei, maar jy weet jy’ t dit gemaak as jy die sleutel draai en 8 silinders gorrel as jy die versneller kielie. Mense het Elvis Presley geglo toe hy gesê het “ambition is a dream with V8 engine”.

Die begeerlikste V8 van almal was ’n metaalgroen Ford Mustang GT350, soos die een wat Steve McQueen in die fliek Bullitt deur die strate van San Francisco gejaag het.

Maar hier in Suid-Afrika was die Mustang ons nooit beskore nie aangesien die Amerikaners die motor net met die stuur aan die linkerkant vervaardig het.

Die naaste wat ons in die jare tagtig aan die ikoniese motor kon kom, was toe Ford Suid-Afrika ’n Mustang V8-enjin onder die kap van 250 plaaslik vervaardige XR8’s ingeprop het sodat hy Groep 1-wedrenne kon wen. “There’s no replacement for displacement,” het die ouens langs die Kyalami-renbaan vir mekaar gegrinnik en hulle glase teen mekaar geklink terwyl Serge Damseaux die groot XR8 deur Barbecue Bend en Jukskei Sweep vleg.

Jy klim die hemele in op Lesotho se A1 onderweg na die Afriski-oord. Die Mahlaselapas is 3 222 m bo seespieël – jou asem raak op, maar nie die Mustang s'n nie.

Die wêreld het sedertdien verander. Daar blyk toe baie “replacements” vir “displacement” te wees. Enjins het danksy turbo’s kleiner geword, sportnutsvoertuie is nou die ryding wat die meeste begeer word, en min mense kyk deesdae motorsport. Selfs Kyalami lyk nie meer dieselfde nie.

Teen die tyd dat Ford uiteindelik besluit het hy gaan die sesde geslag Mustang met ’n stuur aan die regte(r) kant vervaardig en ons hom van 2016 af hier plaaslik kon koop, sou jy seker met reg vir hulle kon sê: “Ai ouens, julle is 30 jaar te laat”.

As daar net ’n spatsel petrol deur jou are bruis, gaan jy een wil ry. Dis immers ’n Mustang!

Watter regdenkende mens wil nou in Suid-Afrika gaan vakansie hou in ’n tweedeursportmotor wat petrol suip? Wel, um, ek wil, want... Bullitt, V8’s, Elvis, Kyalami en kyk net hoe lyk die kar!

As daar net ’n spatsel petrol deur jou are bruis, gaan jy een wil ry. Dis immers ’n Mustang!

Ek het die pad gevat van Johannesburg af na Lesotho, verby plekke soos Rosendal, Moolmanshoek en die Golden Gate Hoogland- nasionale park in die Oos-Vrystaat, om te kyk hoe ’n ouskoolse Amerikaanse spiertier hom handhaaf op die nuwe Chinese teer in die bergkoninkryk.

Hier’s drie dinge wat ek op die pad geleer het: As jy nog nie kans gehad het om die grens by Caledonspoort oor te steek en die A1 tot anderkant die Afriski-bergoord te ry nie, moet jy ’n plan maak – dis loshande een van die mooiste (en hoogste) paaie in die ganse Suider-Afrika; die Mustang is nie ’n sportmotor nie, maar eerder ’n langasemtoermotor wat teerpad verslind; en dit help om Wilson Pickett se “Mustang Sally” ’n bietjie met ZZ Top se “Sharp Dressed Man” af te wissel terwyl velde vol kosmos en sandsteenkranse verby jou flits.

Daar is baie dinge wat die Mustang nié is nie. Dis nie ’n gesinsmotor nie (hy het net twee deure). Dis nie goedkoop nie (R900 000 vir ’n V8-outomaties). Dis nie aan die spits van motortegnologie nie (’n 5 l-V8). En hy looi jou by die vulstasie (13,6 l/100 km). Maar dis een van die min motors op ons paaie wat jou van genot laat glimlag as jy in hom klim. Oral waar jy stilhou, staan mense nader om te kom gesels en binne-in te loer.

As die langpad jou partner roep en dis heelpad teerpad, is daar nie ’n lekkerder en gemakliker toermotor om die land mee te verken nie. Die kattebak is groot, die groot voorsitplekke gemaklik, die vering absorbeer moeiteloos knikke en knoppe in die pad, en daai lieflike tirannosourus van ’n enjin maak dit vir jou maklik om verkeer verby te steek en bergpasse uit te klim.

Die Mustang is ’n dinosaurus.

’n Begeerlike een. Lank mag hy leef.