Illustrasie Dominic Wienand

Soms sien ’n mens iemand se kampplanne en jy weet sommer selfs MacGyver sou jaloers wees daarop. Wat dié planne so knap maak, is die feit dat alledaagse dinge gebruik word – dis eintlik só voor die hand liggend dat jy amper vies is vir jouself dat jy nie eerste daaraan gedink het nie. Hier is ‘n paar om te probeer.

1. Stop die wiel

As daar nie in jou woonwa se neuskas plek is vir die noodwiel nie, is die kans goed dat hy êrens los rondlê wanneer jy sleep. En daar is altyd nagevolge, soos daardie merk op die vloer wat wys hier het iets vir lank gelê of skuifmerke soos die wiel in die ry geskuif het. Jan Wentzel van die Paarl het ’n plan hiervoor gemaak.

“As jou noodwiel op ’n plek is waar dit moeilik is om hom by te kom, is hierdie dalk jou oplossing. Ek het myne in die Gypsey se A-raam voor die neuskas vasgemaak. Hy word deur ’n gegalvaniseerde raam in plek gehou, wat beteken hy gaan nie maklik roes nie – selfs al kamp jy gereeld langs die see. Die raam is met ’n skarnier aan die kant van die A-raam vas en die wiel word met ’n glyslot in plek gehou. Die bykomende voordeel is dat niemand in jou wa se neuskas kan krap as die wiel op die raam gesluit is nie.”

Weg Ry & Sleep sê

Vra jou vriend wat netjies kan sweis om jou te help. Dis eenvoudig, maar baie slim.



2. ’n Waterpasplan

Dis gevaarlik om sommer so met die blote oog te kyk of jou wa gelyk staan. As jy regtig seker wil wees en nie altyd jou groot waterpas wil saamry nie, lê die antwoord dalk in dié slim plan, sê Pieter Townsend van Klerksdorp.

“As jy nie ’n ou waterpas of twee het wat by die huis rondlê nie, kan jy vir jou twee gaan koop en dan net die plastiekbuisies uithaal wat wys of die oppervlak gelyk staan. Jy trek jou wa dan waterpas. (Doen dit dalk vóór jy jou nuwe waterpas uitmekaar haal. – Red.) Verwyder die proppie in die aluminiumgleuf langs die kant van die wa en glip die buisie hier in. Maak seker hy is waterpas. Plak hom met silikoon vas en sit die proppie terug. Nou is hy altyd daar en gereed om te help.”

Weg Ry & Sleep sê

’n Nuwe waterpas is nie goedkoop nie. Soek eers mooi vir ’n ou een voor jy ysterwarewinkel toe ry.



3. Elke ding op sy plek

Hy het onlangs vir hulle ’n Sprite Tourer SP gekoop, maar toe hy sien daar is nie ’n spesifieke plek om die tentpale te bêre nie, moes Harry Greef plan maak.

“Ek het ’n plaaslike naaldwerkster gevra om vir my ’n stuk tou te werk aan die sak wat jy by Jurgens Ci kry vir jou tentpale. Die tou gly dan in die gleuf aan die agterkant van die wa, en terwyl die tent aan die voorkant in sy sak hang, hang die pale aan die agterkant. Ek het twee ligter sakke gemaak waarin ek die tent se pale en die afdak se pale apart hou.”

Weg Ry & Sleep sê

Dis ’n maklike manier om jou tentpale netjies en op hulle plek te vervoer. 



4. ’n Doppie vir jou koppie

Min dinge is so irriterend soos insekte wat besluit hulle hou net so baie van jou staanplek as jy. Dit raak net te veel as die bye, muggies en motte hulle visier op jou drankie instel. Marieta van Rensburg van Durbanville was moeg vir dié delery.

“Pak vir jou ’n klompie plastiekdeksels, soos dié op koffieblikke, wanneer jy op jou volgende kampreis vertrek. Dis ’n goeie manier om mintens een deel van die ou Milo- of koffieblik weer te gebruik, terwyl hy ook keer dat die gogga by jou drankie uitkom. As jy hom oor koffie of tee sit, bly die drankie ook ’n bietjie langer warm.”

Weg Ry & Sleep sê

Wie van ons het nie van hierdie deksels by die huis nie? Dis boonop ’n knap manier om te herwin.



5. Maak toe die deur

Hy het ’n nuwe yskas ingesit, maar Corrie Singeling van Riviersonderend moes ’n plan maak met die deur wat deurgaans in die ry oopgemaak het.

“Ek het die bestaande gaatjie bo in die deur van die yskas benut en ’n U-vormige ystertjie gemaak wat aan die een kant presies in die gaatjie pas. Daarna het ek ’n steunstuk vasgeskroef aan die inleghout. Die ander punt van die U-vormige ystertjie pas in die steunstuk. Die yskas se deur is nou stewig vas.”

Weg Ry & Sleep sê

Veral eienaars van ouer woonwaens kan by dié plan baat vind.



6. Span hom styf

As ’n mens jou woonwatent aan die bokant met pale kan styfspan, hoekom kan jy dit nie aan die onderkant ook doen nie, wonder Johan Pretorius van Brakpan.

“Ek het ons woonwa se sytent opgeslaan om hom skoon te maak nadat ons gaan kamp het, maar ek moes my vrou, Karien, vra om die sywande met ’n paal weg te druk sodat ek ordentlik in die hoekies kon vee. Terwyl ek vee, sê Karien as sý die sytent ontwerp het, sou sy ook pale op die vloer gesit het om die hele besigheid van bo tot onder styf te span. Ons het ’n klompie ekstra pale in die motorhuis gehad en ek het besluit om die plan op die proef te stel. Dit werk baie goed.”

Weg Ry & Sleep sê

Dis ’n unieke idee wat baie goed werk as jy reeds die regte materiaal byderhand het