Dis nogal intimiderend om die eerste keer agter die stuur van die Q8 in te gly. Nie net lyk dit van binne én buite na ’n ultra-luukse ruimteskip nie, maar daar is nie ’n kontrole of skakelaar in sig nie. Jy beheer álles – van die lugverkoeling tot die radio – deur die aanraakskerms te tik.

Of jy verhef jou stem. Sê vir die Q8: “Ek’s honger. Ek’s lus vir ’n pynappel-en-hampizza” en die motor sal binne sekondes ’n lys van restaurante voorstel en die satelliet-navigasiestelsel sal jou die roete na jou gunsteling- Italiaanse eetplek wys.

Dalk verwag jy niks minder van ’n motor wat R1 388 000 kos nie. Maar die mense wat in die mark is vir ’n ewe duur BMW X6, Mercedes-Benz GLE of Porsche Cayenne gaan met gretige oë na die Q8 kyk.

Die nuwe Audi is nou verwant aan die Q7, maar hy’t sitplek vir vyf pleks van sewe mense en hy’s ’n raps korter, laer, breër en mooier as sy bonkige boetie. Nie net lyk die Q8 vinniger en ratser as enige ander Q-Audi nie; hy ís inderdaad ’n spoedvraat.

Audi se witjasse het die beproefde agtspoed- outomatiese ratkas en 3 l-V6-turbo-petrolenjin wat in baie van sy sportiewe S-modelle gebruik word, vir die 55 TFSI Q8 aangewend. Jy kan van 0 tot 100 km/h versnel binne net 5,9 sekondes en sy topspoed word darem tot 250 km/h beperk.

Audi het in Julie ook ’n ietwat duurder (R1 439 000) dieselweergawe plaaslik bekend gestel. Nog kragtiger, vinniger (en duurder) S- en RS- modelle sal mettertyd hulle opwagting maak.

Die Duitse maatskappy het sy naam gemaak met quattro- permanente vierwielaandrywing wat sy sportmotors beter vastrap gee – en die stelsel word ook in al die Q8-weergawes gebruik. Dit, en die feit dat sy pens 220 mm hoog bo die pad staan, help wanneer jy die grondpad tref.

Deur die jare heen was Audi in ’n klas van sy eie wat die luuksheid en afwerking van sy binneruim betref, en met die Q8 oortref hy homself. Jy voel sommer bederf as jy in die motor ry, so asof ’n glimlaggende lugwaardin enige oomblik in eerste klas jou gaan welkom heet met ’n kristalglas vol sjampanje en kaviaar op ’n beskuitjie.

Stemmingsligte, luukse leer- en chroomafwerkings, ’n panaromiese glasdak en die fieterjasielose groot digitale raakskerms dra alles by tot ’n vyfster-ervaring.

Anders as in die verlede, word die meeste van dié “ekstras” ingesluit in die koopprys. Ja, jy kan ekstra betaal vir groter 22-duim- “bling” wiele en opsionele lugvering, maar dis nie nodig nie.

Daar is min fout met die standaardmotor, en tot die nuwe BMW X6, Merc GLE en Porsche Cayenne Coupe hulle opwagting maak, is die Audi Q8 die heerser van die heelal.

Die syfers
Die syfers