Foto’s Helenus Kruger

Die afgelope jare het die boswa- en woonwamark met rasse skrede gegroei, en dit kan nogal heelwat van jou tyd in beslag neem as jy begin navors watter model by jou en jou gesin se behoeftes pas.

As jy modelle met mekaar begin vergelyk, is dit gou duidelik hulle is oorwegend soortgelyk. In die geval van boswaens het almal van hulle ’n groot, toe romp met af- of oopswaaideure; iewers op die wa is ’n kombuis; en bo-op die romp lê die daktent.

Eintlik lyk die meeste van hulle maar dieselfde én hulle dien dieselfde doel: Jy gaan kamp daarmee, en wanneer jy weer by die huis is, wag die wa geduldig onder die afdak tot die volgende kampnaweek.

Tog is daar is min, indien enige, waens op die mark waarmee jy kan kamp, vullis wegry én jou studentekind se trek na die kommune kafdraf.

Tog is daar is min, indien enige, waens op die mark waarmee jy kan kamp, vullis wegry én jou studentekind se trek na die kommune kafdraf. Battista Errera, die eienaar van Next Adventure Lifestyle Campers, het hier ’n gaping in die mark gesien en met die AU 1-sleepwa vorendag gekom.

In sy basiese vorm is die AU 1 slegs ’n bak op ’n onderstel, met wiele en ’n noodwiel. Van hier af kan jy hom opbou met opsionele toerusting na gelang van jou behoeftes en beursie, sonder om die veeldoelligheid prys te gee.

Jy kan onder meer ’n tent, neuskas, watertenks en kombuiseenheid bysit.

Jy gaan ook die koppe laat draai wanneer jy hom haak, want die AU 1 lyk soos geen ander wa op die mark nie. 

Slaan die tent op

Die sleepwa is met ’n standaarddaktent toegerus wat op ’n staalraamwerk gemonteer is.

Dié raam is so groot soos die laaibak en staan op vier hidrouliese hysers. Die hysers werk met 12 V-krag en jy kan die tent tot op ’n hoogte van 190 cm oplig.

Jy kan dit ook op enige hoogte tussen die laagste (140 cm) en hoogste verstelling stop.

Voor jy begin opslaan, maak seker die tent is op sy laagste verstelling, anders gaan jy moeilik bykom by alles wat losgemaak moet word. Om die seil af te haal wat bo-oor die tent is, moet jy aan die agterkant van die wa begin.

Die seil word in plek gehou deur ’n tou wat aan die rand van die seil vasgewerk is en onder die bedbasis invou. Lig die flappie aan die sykant van die tent en maak die sperrat los sodat die tou skiet gee. Loop nou rondom die wa, van hoek tot hoek, en lig die seil onder die bedbasis uit todat jy dit heeltemal van die tent kan afhaal.

Om die tent oop te vou moet jy eers aan die linkerkant van die wa die leertjie losknip wat bo-op die tent lê. Twee U-vormige knippe met vere hou die leer op die bedbasis in plek. Trek die knippe weg van die leer en swaai dit na jou toe.

Om die leer by te kom moet jy op die wielboog van die wa staan en oor die Easy Awn-afdak – wat in sy houer opgerol is – strek. Stap nou weer na die regterkant van die wa en swaai die leer na jou toe.

Aan dié kant is die leer met skarniere aan die bedbasis vas. Die leer het twee dele wat oor mekaar skuif om dit langer of korter te maak. Dieselfde soort knippe wat die leer op die bedbasis aan die ander kant in plek hou, keer dat die een deel wegskuif van die ander.

Daar is drie gate aan die kant van die leer waar die knippe kan indruk om dit op verskillende hoogtes te sluit.

Om die tent oop te vou moet jy die leer na jou toe trek sodat die een helfte van die bedbasis kan oopvou, ook na jou toe. Die leer swaai nou af en rus op die grond.

Span die seiltjie oor die tent styf met die agt veerbelaaide staallatte. Druk eenvoudig die reguit kant van die lat in die pypie wat aan die basis van die tent vas is, en buig dit totdat die ander kant deur die ogies van die flappe haak.

As jy sukkel met hoogtevrees en jy wil nie te ver teen die leer uitklim nie, kan jy die tent op sy laagste verstelling hou. As jy egter gemaklik by die wa se pakplek wil uitkom, sal jy die tent moet oplig tot op die maksimumverstelling. Nou kan jy die leer verstel tot op ’n hoogte en hoek wat vir jou gemaklik is om op of af te klim.

Die tent is 230 (l) x 134 cm (b) groot, en ’n sponsmatras (6 cm dik) lê die vloer vol. Hier is ’n venster aan elke sykant en ’n deur aan die leer se kant. Die agterkant van die tent kan ook heeltemal oopmaak, maar jy kan nie hier in- en uitklim nie. Die deure en vensters het gaas om die goggas buite te hou.

As jy sukkel met hoogtevrees en jy wil nie te ver teen die leer uitklim nie, kan jy die tent op sy laagste verstelling hou.

Die raamwerk van die laaibak (240 x 136 x 50 cm), asook die onderstel, is uit staalhoekyster gebou en met poeierlaagverf behandel. Die sykante en agterflap is van veselglas en in ’n kamoefleermotief afgewerk. Dit maak ’n mens sommer lus om die bos in te vaar.

Die bak is groot genoeg vir tot 24 ammunisiekiste. As jy nie soveel kiste wil inpak nie, kan jy maklik drie fietse langs mekaar inpas, óf ’n quadfiets of selfs ’n kleinerige veldfiets. Die hoogte wat die tent van die vloer af oplig, is 90 cm.

Jy kan dit alles vasmaak aan die agt ogies (vier aan elke kant) wat op die vloer vasgebout is. Jy gaan wel die tentplatform hoër moet lig om onder in te pas. Die tent gaan dan bo jou voertuig se dak uitstaan en windweerstand bied wanneer jy ry.

Binne die bak, aan die voorkant, is ’n veselglaskas van 125 x 34 x 50 cm. Soos met die neuskas is die kas binne in twee verdeel. Dis ’n gawe plek vir kampgoed soos die gasstofie, grondseile en afdakseiltjie. Aan die agterkant regs, binne die bak, is ’n brandblusser.

Die agterflap is so breed soos die hele wa en rus op twee U-vormige houysters wat aan die onderstel vasgesweis is. Bo word dit in plek gehou deur houysters aan weerskante van die flap. Die flap swaai heeltemal af tot waar dit op die grond rus en jy het maklik toegang tot die bak.

Die agterflap kan ook verwyder word. Jy lig dit eenvoudig op van die houysters af. Daar is twee eksta ysters weerskante langs dié waarop die flap rus. Hier haak jy die opritvlak aan waarmee jy jou quadfiets tot op die bak kan opstoot.

In die middel, onder die flap, is ’n plat plaat met gate teen die onderstel vasgebout – net die plek vir ’n fietsrak. Jy kan ook ’n haak aansit en tot 500 kg daarmee sleep. Langs die tent, aan die agterkant van die wa, is nog pakplek (75 x 156 cm) op die tentplatform.

Die laaibak word met ’n seiltjie toegemaak – dit werk amper soos dié wat jy op bakkies kry.

Langjan se A-raam

Die Adventure se A-raam is net kort van 2 m. Die neuskas sit heel agter op die raam, teenaan die bakwerk van die wa.

Voor die neuskas is ’n 5 kg-gasbottel in ’n sluitbare houer. Die A-raam het van die gasbottel af tot voor by die koppelstuk ’n staalplaat bo-op. Dié ekstra pakplek is nommerpas om ’n sakkie hout of twee op vas te maak. (Hou net die neusgewig in gedagte voor jy te veel hout hier bêre. – Red.)

Voor die gasbottel is ’n waterpas wat jou help om die wa gelyk te kry. Die stewige neuswiel vergemaklik rondstoot op gras, en voor by die koppelstuk is ’n Brad Harrison-prop met bedrading waarmee jy die battery kan laai terwyl jy ry.

Die wa is ongerem, maar jy kan een bestel met ’n opsionele geremde as vir tot 2 t. 

Die bak is groot genoeg vir tot 24 ammunisiekiste. As jy nie soveel kiste wil inpak nie, kan jy maklik drie fietse langs mekaar inpas...

Jy kan maar pak

Die groot neuskas (130 x 50 x 59 cm) is van veselglas en is binne in twee verdeel. Die deksel word met twee sluitbare knippe in plek gehou.

Wees maar versigtig vir ’n stamp teen die ken as jy dit oopmaak; die twee gasstutte wat dit oplig, is onder taamlik hoë druk en die deksel spring teen ’n spoed oop.

Die neuskas kan van die A-raam afgehaal word, maar jy gaan eers die yskas moet uithaal en die kragboks se bedrading ontkoppel. Die kragstasie is in die kleiner linkerkantse kassie van die neuskas.

Hier is ’n diepsiklusbattery in ’n National Luna-kragboks, ’n slimbatterylaaier, ’n sonpaneel se laaibeheer en ’n Brad Harrison-prop om jou sonpaneel in te prop. Die 220 V-kragboksie langs die battery het drie kragpunte: een vir die yskas, een vir die batterylaaier en een wat oop is. Die klein swart kragboks huisves drie stroombrekers (oplig van tent, ligte en kragproppe, en twee USB-sokke – 5 V 1 A en 5 V 2.1 A).

Op die toetsmodel was die kragkoppelpunt links aan die buitekant van die neuskas. Die spasie tussen dit en die voorste hoekstut is te smal sodat die koppelstuk se deksel heeltemal kan oopmaak – dis nogal ’n gesukkel om die prop in te kry.

In die regterkantse kas is ’n 55 l-ys-vrieskas. Hier is netjies gemeet en geen spasie gemors nie: die National Luna pas net-net in, maar daar is genoeg spasie aan die kante om die handvatsels beet te kry as jy hom wil uitlig. Regs aan die buitekant van die neuskas is nog ’n waterdigte 220 V- huishoudelike sok en ’n Hellaprop.

Die lisensiehouer en luginlaat vir die yskas sit ook hier. ’n Seilafdakkie span bo-oor die A-raam. Ongelukkig help die seiltjie nie veel om reënwater van die neuskas af weg te keer nie.

Waar sal ons water vandaan kom?

Die wa het aan die regterkant, voor die as, twee 20 l-watertenks wat sy aan sy teen die kant van die bakwerk vas is.

Die tenks is nie aan mekaar gekoppel nie. Elke tenk het sy eie kraantjie en jy kan die een tenk afhaal. Die inlaatproppe is aan die agterkant van die tenk, net voor die wielboog.

Agter die as is ’n jerrykan in ’n sluitbare houer en die vlekvryestaaltafel word in die middel onder die tentplatform gebêre.

Kampkombuis

Die kombuis is voor die as. Die kombuiskassie is van aluminium en in twee verdeel. Die linkerkassie het ’n afswaaideur wat aan twee kettinkies hang.

Dié oppervlak is 73 cm bo die grond en dit is ongerieflik om kos daarop gaar te maak. Sit eerder jou kookgereedskap en speserye daarop neer en sny groente op die tafel.

Binne die kas, net bo die onderkant, is ’n smal rakkie wat aan kettinkies hang en kan opvou indien jy iets langer soos ’n bottel daar wil staanmaak. Bo die rakkie is ’n speseryrak met plek vir nege ronde speserybotteltjies.

Die regop kassie regs het ’n swaaideur wat na regs oopmaak. Daar is een rak in die kas en jy kan ’n kleinerige pot of twee óf jou kruideniersware hier bêre. Die tweebrandergasstoof wat binne-in die kas van die bak gebêre word, pas mooi bo-op die kombuiskassie.

Jy gaan die gasbottel voor by die A-raam moet gaan haal en langs die wa neersit wanneer jy dit aan die stofie wil koppel. Bo die kombuis, aan die onderkant van die tentplatform, is ’n LED-liggie wat jy wit, rooi of geel kan laat skyn.

Aan die kant van die wa, sowat die hele lengte van die sykant, is die Easy Awn-afdak wat jy uit ’n aluminiumhuls trek. Die plasing van die afdak is ’n bietjie weg van die tent af sodat die deel bo die kombuis oop is, maar alles nat word wanneer dit reën.

Ingeval van nood

Die Adventure se noodwiel is aan die linkersykant van die wa, reg agter die as. Die wa het 215 x 15”-bande en die noodwiel is volgrootte.

Die tegniese goed

Lengte (A-raam ingesluit) 3,75 m

Breedte 1,83 m

Hoogte (daktent ingesluit) 1,820 m

Tarragewig (basiese wa) 380 kg

Dravermoë 370 kg

BVM 750 kg

Neusgewig 78 kg

Prys R101 000 soos getoets. Basiese wa R35 000. Opsionele T-toptent: R22 914.

Plus: Die ontwerp is uniek en baie veeldoelig.   

Die laaibak het baie pakspasie: avontuurlustiges kan al hulle speelgoed saamry.   

Die daktent wat op- en afgelig kan word, is ’n goeie idee en maak die in- en uitpak van die laaibak maklik.   Met die lang A-raam is skerp draai nie ’n probleem nie.

Minus Jy kan nie kook of iets uit die yskas haal wanneer dit reën nie; die gaping tussen die tent en seiltjie hou nie die water buite nie.

Die daktent sonder die opsionele sytent is beknop, en aantrek en beweeg binne-in die tent is ongemaklik, veral as julle twee is. Wanneer dit reën, word die matras nat as iemand die deur oopmaak.   

Die voorste seiltjie se bergsakkie is aan die seiltjie vasgewerk en versper die LED-liggie wat op die yskas moet skyn. Weg Ry & Sleep sê Bestee ’n paar rand ekstra en koop die T-toptent.