foto’s Leon Botha

Nissan het sy Navara-reeks met vier 4x2-modelle uitgebrei, en al sewe in die reeks, waaronder die drie 4x4-modelle, het presies dieselfde 2,3 l-dieselenjin. Die sewe bakkies skop dus almal dieselfde krag uit (140 kW en 450 Nm), maar die ooreenkomste strek nog verder: Die brutovoertuigmassa (BVM) en brutokombinasiemassa (BKM) is ook dieselfde: onderskeidelik 2 910 kg en 5 910 kg.

Met dié syfers beteken dit al hierdie ouens mag ’n woonwa van tot 3 t sleep. Daar is nie sulke swaar woonwaens op ons paaie nie, maar Nissan gaan selfs verder en sê die Navara het die vermoë om ’n vrag van tot 3,5 t te sleep.

Daar is uiteraard ’n verskil tussen die vermoë van die Navara en wat jy volgens die wet kan haak. Ons wetgewing laat jou toe om dieselfde gewig as jou sleepvoertuig se tarragewig te haak; dus word jy in die Navara 4x2-modelle beperk tot 1 805 kg.

Bul van ’n stang

’n Mens verwag ’n stewige sleepstang aan ’n bakkie, en die een op die toetsvoertuig stel nie teleur nie. Trouens, omdat bakkies hoofsaaklik ’n leerraamonderstel het, is die hegplek van só ’n aard dat jy ’n ordentlike stuk staal aan die onderstel kan vasbout.

Die Navara se Oris-stang is gesertifiseer vir 2 910 kg, maar dit is veel swaarder as die wettige perk. Dieselfde geld vir die toegelate neusgewig op die stang. Vir die stang se vertikale beperking mag die wa se neusgewig nie 150 kg oorskry nie, maar die owerhede beperk jou tot 100 kg.

’n Mens kan sê die 100 kg-perk van ons Padverkeerswet is onvanpas vir die soort sleepvoertuie en woonwaens waarmee Suid-Afrikaners sleep. Ons wetgewing stem ooreen met die Europese model, terwyl plaaslike toestande waarskynlik beter vergelyk met ’n land soos Australië s’n.

Vir dieselfde Navara-modelle wat Australië toe gaan, laat Nissan byvoorbeeld ’n neusgewig van minder as 10% van die totale gewig van die sleepding toe. As ’n mens kyk na die Jurgens Xplorer Xcell wat ons vir die toets gebruik het, is sy maksimum toegelate gewig volgens Jurgens 1 650 kg.

In Australië het jy vir dié neusgewig dus grasie tot net minder as 165 kg (10% van 1 650 kg). As ’n mens dus na die syfers van Nissan en die stang kyk, beteken dit net een ding: Die Navara én die stang is so sterk soos ’n os.

Dié model het ook, soos die 4x4, ’n lig by die harnassok. Hierdie lig skakel aan wanneer ’n mens die Navara met die afstandbeheer oop- of toesluit. Die lig skyn vir sowat ’n minuut grond se kant toe en kom baie handig te pas as jy in die stikdonker die wa moet haak.

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand...

Trukameras is vandag van groot hulp, veral vir slepers, en die meeste vervaardigers het hulle eie weergawe van dié stukkie tegnologie. Omdat navigasiestelsels omtrent standaard is in nuwe voertuie, word die skerm daarvoor ook vir die trukamera gebruik.

Die 4x2-model se trubeeld verskyn egter in die spieëltjie. Wanneer jy dus die Navara in trurat sit, verskyn die beeld links in die truspieël, net-net groter as ’n vuurhoutjieboksie.

Die beeld het indekslyne waarmee jy kan korrel soos jy die stuur draai, maar Nissan het ook die nuutste tegnologie ingebou: Onder elke syspieël is ’n kameralens ingebou, én daar’s een in die sierrooster en natuurlik een in die agterklap. Met dié vier lense kry jy ’n goeie geheelbeeld van wat om die bakkie aangaan.

Die Navara se rekenaar weet egter nie wanneer jy ’n woonwa haak nie. Die trusensors sit dadelik ’n keel op wanneer jy terugstoot.

Jy kan ook die kamerabeeld aktiveer sonder om die Navara in trurat te sit. Op die onderste rand van die truspieël is ’n “Camera”- knoppie in die middel. As jy dié knoppie een keer druk, kry jy ’n gekombineerde beeld. Links gee ’n beeld reg rondom van bo af, en die regterbeeld wys wat voor die sierrooster aangaan. As jy die knoppie weer druk, vervang ’n beeld na die grond by die linkervoorwiel die bo-aansig.

Die Navara se rekenaar weet egter nie wanneer jy ’n woonwa haak nie. Die trusensors sit dadelik ’n keel op wanneer jy terugstoot en reken jy gaan teen die gehaakte woonwa vasstoot.

Gelukkig is daar ’n knoppie voor die rathefboom waarmee jy die alarm kan stilmaak. Sodra jy egter weer aan die gang kom – of selfs die kar af- en aanskakel – moet jy wéér die knoppie druk.

Die sleepding

Fabrikaat Jurgens Safari Model Xplorer Xcell

Jaarmodel 2013

BVM 1 650 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets 1 220 kg (geweeg gehaak aan die Navara).

Weg Ry & Sleep het die Jurgens Xcell by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by  021 982 4670 as jy die Xcell van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Die toets

Afstand 95,6 km

Topspoed 98,4 km/h (GPS)

Gemiddelde spoed 43,5 km/h (snelweë, agterpaaie en ’n amperse pas teen Jonkershoek uit ingesluit).

Rytyd 2 uur en 13 minute.

Weer 18 ºC, sonnig en ’n suidoostewind van 16 km/h in die blaaie.

Wat sê die boekie?

  • Brandstof Diesel
  • Enjin 2,298 l
  • Silinders 4 inlyn
  • Krag 140 kW @ 3 750 r.p.m.
  • Wringkrag 450 Nm @ 1 500-2 500 r.p.m.
  • Ratkas 7 spoed-outomaties
  • Aandrywing Agterwiele
  • Tarra 1 805 kg
  • BVM 2 910 kg
  • BKM 5 910 kg
  • Waaddiepte Nie beskikbaar nie.
  • Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 3 500 kg
  • Afmetings 5 255 mm (l); 1 850 mm (b); 1 865 mm (h)
  • Asafstand 3 150 mm
  • Spoorwydte 1 570 mm (voor en agter)
  • Grondvryhoogte 229 mm
  • Brandstoftenk 80 l
  • Prys (nuut) Vanaf R551 900 (met leersitplekke)
  • Prys (tweedehands) Ons het op autotrader.co.za ’n 2018-model met 6 000 km op die klok gesien vir R509 900.

Vinnige feite

Die sleephaak Die stang is nie standaard nie. Die toetsvoertuig het ’n verwyderbare Oris-stang met ’n ingeboude sakplaat waar jy die bol op twee hoogtes kan vasbout. Die stang kos R4 860 ekstra (arbeid uitgesluit).

Vering Krulvere voor en agter. Die stert het ’n goeie 4 cm gesak met ’n gewig van 140 kg daarop. Dit is baie vir ’n bakkie, maar as ’n mens in ag neem die bakkie het kronkelvere pleks van bladvere soos die meeste ander bakkies, maak dit sin.

Wat sê die skaal? 2 240 kg met ’n vol tenk brandstof, die bestuurder in die kar asook die neusgewig van die Xcell op die stang.

Binneruimte As jy ses voet is, is daar op die agtersitplek 3 vingers oop bo jou kop en 4 voor jou knieë. Spoed Die odometer en die GPS-spoed verskil 5 km/h – wanneer die bakkie 100 km/h wys, sê die GPS jy ry 95 km/h.

Brandstofverbruik Die 13,1 l/100 km (7,63 km/l) is niks om oor te kla nie, en vergelyk goed met die 4x4-toets se 13,44 l/ 100 km (die 4x4 is swaarder, maar die woonwa dieselfde).

Afwerking Donker en stewig, maar die paneel lyk tog plastiekerig. Net soos die 4x4-model maak die middelste agterruit met die druk van ’n knoppie oop. Dié is regs van die bestuurder se knie.

Ekstras Jy kan uit ’n lys van meer as 60 items kies – dinge soos ’n allooibufferstaaf (R6 803), dakrak met relings (R4 471), ’n Beekman Executive- kappie (R17 467) en glystawe met treeplanke (R11 530) van Ironman 4x4.

Die ander 4x2-modelle SE (handrat) R457 900 SE (outo) R471 900 LE (handrat) R519 900 (+ R13 000 vir leersitplekke)

Weg Ry en Sleep sê
As jy R13 000 wil spaar, kan jy die model sonder leersitplekke kies. Hy kos R538 900

Pieter Crous is al ’n ou hand wanneer dit by sleep kom. Dis wat hy dink...

Ek hou van die hoë modderskermboë met die enjinkap wat effens vlakker is. ’n Mens skatafstand makliker as jy naby aan iets moet verbyry of parkeer.

Dit is stil in die kajuit, selfs met die enjin wat effens raserig is. Ek wou nog kla oor die koeldrankhouerplek, maar sien hier is ’n rakkie aan elke kant digby die deur wat uit die voorpaneel trek. Selfs smaller blikkies pas hierin – hiervoor kry Nissan ’n groot regmerkie.

Ongelukkig is die pakplek in die deur ’n bietjie smal. Dis asof die armleuning in die deur in die pad is tussen die smal pakplek en die sitplek.

Die rathefboom is nogal lank, en met die meganiese handremhefboom langs dit is dit asof die Navara nie heeltemal by van die ander vervaardigers bly nie. Maar vir ’n bakkie met ’n outomatiese ratkas is die Navara superwakker, en selfs teen ’n vinniger spoed (80 km/h) reageer hy onmiddellik wanneer jy die pedaal wegtrap.

Ek moet sê die klein skerm van die trukamera in die truspieël werk nie vir my nie. Die beeld is net té klein. Teenoor die vorige geslag – en veral die 2,5 l-model wat my beïndruk het omdat dit ’n luukse bakkie was – neig die nuwe geslag vir my meer na die NP300 Hardbody.

Die nuwe Navara se voorkoms val ook nie heeltemal in my smaak nie. Daar is egter niks verkeerd met sy sleepvermoënie. Hy ry lekker en het genoeg krag wanneer jy ’n woonwa haak.

Sleeptoets
Sleeptoets