Is dit nodig dat ons Nissan se NP300 Hardbody met agterdog bejeën ná sy mislukte botstoets? Ja, dit is, maar dis darem ook nie nodig om die baba saam met die badwater uit te gooi nie.

Ons het ons argief nagegaan en die resensie gelees wat in uitgawe #3 van Weg Ry & Sleep se voorganger, Drive Out, verskyn het. Dit was van die 2002-model Nissan Hardbody, en die destydse redakteur, Geoff Dalglish, was nie net heel in sy noppies met die NP300 nie, maar veral gaande oor die “moderne veiligheidseienskappe”.

Geoff het duidelik geweet waarvan hy praat, want 17 jaar gelede was die NP300 een van die beter – en veiliger – bakkies in Suid-Afrika.

Gaan Nissan Suid-Afrika knak onder die swak NCAP-resultate of gaan die NP300 Hardbody, nes die krokodil en die witdoodshaai, van die dinosourusse se tyd tot anderdag-oormôre oorleef? Kom ons bekyk die Hardbody wéér ’n slag.

Binnelangs

HEF IN DIE HAND. Die ouskoolse hefbome vir die lugreëling vorm nogal ’n kontras met die moderne raakskerm bo dit. Ons dink die NP300 dra sy jare relatief goed, maar die mense by NCAP voel nie dieselfde nie.

Dis presies dieselfde instrumentepaneel wat Geoff destyds as “elegant” beskryf het, maar die komponentradio in die middelkonsole is nou vervang met ’n raakskerm wat soortgelyke programmatuur as die vorige Renault Duster gebruik.

Die dunnerige voorsitplekke is koddig verby. Die kort ruglenings kom skaars tot by jou blaaie en die kopstutte strek beswaarlik tot by jou nek.

Dis wel lekker om ’n viertrekkortkiere langs die rathefboom te sien, want dis nou maar eenmaal meer gerusstellend as ’n ritmodusknoppie wat beheer by die bestuurder wegvat. Die grys afwerking is die vergestalting van onopgesmuktheid.

Padlangs

Ondanks die “Hi-Rider” in sy modelnaam voel dié Nissan nie besonder hoog van die grond af nie. Die manne in moderne leefstylbakkies kyk af op jou in die verkeer en jy sit nie veel hoër as die sedanmotors rondom jou nie.

Die rathefboomaksie voel meganies eerder as glad en die 2,5 l-dieselenjin sorg nie juis vir vuurwerk wanneer jy die pedaal wegtrap nie. Nietemin kry jy deurentyd die gevoel jy sit in ’n eerlike, hardwerkende bakkie.

Om die Nissan Hardbody se veldryvermoë te toets het ons die Melkbos-4x4-roete buite Kaapstad getakel. Dis ’n kronkelpad tussen oeroue sandduine deur met hier en daar hoë grondhope en glibberige moddergate.

Die NP300 weeg só min (1,7 t) dat sand hom nie juis stuit nie, en as jy die banddruk tot op 1,2 bar verlaag, is die kans dat jy gaan vassit, betreklik laag.

Wanneer dit by asknopers en hoë grondhope kom, loop die NP300 soms sy rieme styf. Híér verlang ’n mens erg na die ewenaarslot wat Nissan Suid-Afrika om duistere redes verwyder het. ’n Beperkte glipewenaar is eenvoudig nie goed genoeg nie.

Die NP300 draai so wyd soos ’n ossewa en op die Melkbos-4x4-roete se kronkelpaadjies was die stuurwiel dikwels in ’n volle omwenteling vasgenael.

Slotsom

Ons het by ’n Nissan-handelaar aangeklop om uit te vind hoe klante oor die NP300 voel. Die verkoopspersoon beweer dat die NCAP-uitslag geen invloed op die Hardbody se verkope het nie.

Die tekort aan ’n ewenaarslot pla wel. Dié handelaar het blykbaar ’n lonende kontrak met ’n bekende siviele-ingenieursfirma verloor juis omdat die NP300 nie meer ’n ewenaarslot het nie.

Wat sou Geoff Dalglish vandag oor die Hardbody sê? Toe ons laas van Geoff gehoor het, het hy ’n paradigmaskuif in sy lewe gemaak. Hy’t viertrekvoertuie afgesweer en loop nou te voet om die wêreld ten bate van natuurbewaring.

’n Mens kan egter nie help om te wonder of die NP300 Hardbody dalk sy oomblik in die son gehad het nie. Dalk is dit tyd vir Nissan om die NP300 vaarwel te roep voor hy ’n verleentheid raak. Sy ouskoolse sjarme is in werklikheid bloot ongemaklik. Sommige mense sal selfs sê dit kan in sekere gevalle lewensgevaarlik wees.

Suid-Afrika se padsterftesyfer is een van die hoogstes ter wêreld. Is daar regtig plek vir voertuie wat veilgheidstoetse dop?

SPESIFIKASIES

Enjin 2 488 cc, diesel

Krag 98 kW @ 3 600 r.p.m.

Wringkrag 304 Nm @ 2 000 r.p.m.

Ratkas 5 spoed-handrat

Brandstofverbruik 8,8 l /100 km

Tenk 75 l

Grondvryhoogte 220 mm

Nader- en vertrekhoek 31° en 25°

Oorbrughoek 24°

Waaddiepte 890 mm

Tarragewig 1 767 kg

Vraggewig 750 kg

Maksimumsleepgewig 1 400 kg

Diensplan Opsioneel

Waarborg 6 jaar/150 000 km

NP300 Hardbody 2.5 TDI Hi-Rider 4X4-dubbelkajuit

PRYS R 370 900*

* Weg Ry & Sleep se toetsvoertuig was toegerus met Nissan-goedgekeurde 4x4-toebehore ter waarde van R25 000 (uitgesluit by die prys).


Wag so ’n bietjie...

Ons hoef nie na Europa se pype te dans nie, sê Kyle Kock. Daar is ’n behoefte aan rygoed soos die NP300 in ons mark. Goed, ons kon nie bloot die herrie oor die NP300 se swak botstoetsuitslag onder die mat invee nie, maar vóór almal op hol gaan met die “Softbody”-grappies, moet ons in gedagte hou dat dié bakkie twee dekades oud is.

Ek is bereid om kaalbas oor Nuweland te nael om te wed dat die eerste geslag Nissan Navara ook die NCAP-botstoets sal druip, ondanks die feit dat hy op sy tyd beskou is as die luuksste bakkie nóg met aansienlik meer katoeters as wat jy in ’n Hilux of Ranger van daardie era gekry het. Trouens, ek is seker ál die bakkies uit die eerste NP300 se era sal die toets dop.

Ek is bereid om kaalbas oor Nuweland te nael om te wed dat die eerste geslag Nissan Navara ook die NCAP-botstoets sal druip...

Dieselfde geld vir die meeste sportnutsvoertuie van ’n dekade gelede. Hoeveel van ons ry houtgerus in ou Land Rover Defenders rond, of selfs die eerste geslag Toyota Fortuner?

Dis nie ongehoord dat voertuigvervaardigers in Suid-Afrika aanhou om “ou” voertuie te verkoop nie. Die Citi Golf en Toyota Tazz is sprekende voorbeelde hiervan. Deesdae dra die Polo Vivo en Corolla Quest die fakkel vir stokou rygoed wat as nuut bemark word. Ons koop hierdie tipe rygoed, soos die NP300, juis omdat hulle so bekend is aan ons en omdat daar uitstekende naverkoopdiens bestaan – én jy kan onderdele onder elke tweede bos uitskop.

Suid-Afrikaners was nog altyd ’n konserwatiewe nasie, en dit word weerspieël in ons koopgewoontes. As ’n voertuigvervaardiger ’n reputasie kry vir duur elektriese herstelwerk ná tien jaar, of onderdele wat klokslag onklaar raak sodra die waarborg verval, dan koop ons nie maklik weer ’n voertuig by hom nie.

Die punt wat ek wil maak, is dat daar deesdae heelwat nuwer fabrikate uit die Verre-Ooste is waaruit jy kan kies. Hoewel hulle mededingende pryse het, vlieg hulle steeds onder die radar wat botstoetse betref. Wie weet hoe veilig hulle is? Is daar kortpad geneem ten opsigte van beskerming in ruil vir elektroniese katoeters en ’n vaartbelynde bakwerk?

Dis goed en gaaf om aan te voer dat verkope van die NP300 gestaak moet word omdat dit ’n gevaar vir passasiers inhou, maar wat as Nissan ’n paar veranderings kan maak sodat die NP300 ’n bietjie langer in die game kan bly? Kom ons hou ook in gedagte dat daar aansienlik meer tweedehandse motors van eienaars verwissel as die sowat 50 000 splinternuwe voertuie wat maandeliks in Suid-Afrika verkoop word.

Ouer voertuie hoef nie duur en streng teenbesoedelings- en padwaardigheidtoetse te slaag om op die pad te bly nie. Neem byvoorbeeld die antieke Toyota HiAce-minibussies, oorbelaaide Quantums en goedkoop Chinese voertuie wat steeds die meerderheid van ons land se arbeidsmag werk toe en terug neem.

Kaapstad het Johannesburg twee jaar gelede verbygesteek as die stad met die ergste verkeersprobleme in Suid-Afrika. Ons het oor die algemeen enorme probleme met ons openbare vervoerstelsel – en daarom is ons mark uniek. Die meeste van ons moet so goedkoop as moontlik op eie stoom oor die weg kom.

Daai botstoetse is eerbaar en lofwaardig, maar Suid-Afrika (eintlik die hele Afrika) het groter probleme om mee te worstel as Europese botstoetsuitslae.

Die meeste van ons moet so goedkoop as moontlik op eie stoom oor die weg kom.

Beteken dit dat die nuutste, veiligste voertuie irrelevant is? Dís nie wat ek sê nie. Ek is bly as jy een van hulle kan bekostig. Dis egter deesdae té maklik om namens iemand anders aanstoot te neem oor iets, en dan soos ’n ridder op ’n wit perd namens die arm man teen Nissan te baklei.

Ons moet die uitslag van álle vervaardigers onder oë kry voor ons vir Nissan uitkryt. Die NP300 se uitslag is ’n goeie beginpunt vir Nissan en ander vervaardigers om hulle sake in orde te kry, maar ons moet ook van ons perdjie afklim uit meegevoel vir die klein outjie wat nie die nuutste, beste en veiligste ryding kan bekostig nie.

Myns insiens is ons grootste probleem nie onveilige voertuie nie, maar eerder onveilige bestuurders. Wat het geword van bedagsaamheid, wetsgehoorsaamheid en doodgewone weldenkendheid op ons land se paaie? Wees eerder strenger op wetstoepassing ten opsigte van rybewyse, staan tyd af om jong mense beter te leer bestuur, en los die NP300 uit.

Voorkoming is immers beter as genesing