Daar is motorvervaardigers wat soos Usain Bolt op een of dalk twee dinge in die lewe fokus. Hy hardloop die 100 m, dalk die 200 m en so af en toe die aflos, maar sy doelwit is duidelik: Hy wil oor ’n kort afstand so vinnig as moontlik hardloop. Hy’s die Ferrari van die atletiekbaan.

En dan kry jy ’n ou soos Kevin Mayer, ’n Fransman wat ook in die Olimpiese Spele die 100 m gehardloop het en tans ’n wêreldkampioen is. Maar hoekom het jy nog nooit van hom gehoor nie? Dalk omdat hy ook aan gewigstoot, hoogspring, diskusgooi, paalspring, 1 500 m en nog ’n paar ander nommers moes deelneem om sy medalje te kry. Ja, hy’s ’n tienkampatleet wat baie dinge baie goed doen – die Nissan van die atletiekbaan.

Dié Japannese motorvervaardiger bou alles van vragmotors, 4x4-bakkies soos die Navara, gesinsvoertuie soos die Qashqai, supersportmotors soos die GTR en toenemend elektriese stadsmotortjies soos die Leaf.

En hy maak bielies soos die Patrol, die voorkeur-4x4-voertuig van die Verenigde Nasies se vredesmagte wêreldwyd. Suid-Afrikaners moes amper agt jaar wag voordat Nissan uiteindelik die nuwe Patrol hierheen gebring het. Ons is bly hy het.

Dis ’n reus van ’n motor en ’n veldryer van formaat wat sy direkte mededinger, die Toyota Land Cruiser 200, miltsteek gee. ’n Leerraamonderstel, dubbele mikvering op elke wiel, grondvryhoogte van 272 mm (42 mm meer as die Cruiser) en ’n 5,6 liter-V8-enjin beteken dat Afrika vir die eienaar van ’n Patrol braak lê.

Maak net seker jou petrolkaart(e) is op datum. Die Patrol is ’n duur bees en hy suip soos een. Die 140 l-petroltenk gaan vinnig leegloop, en hy’s só groot jy gaan nie net by die mall se klein parkeerplekke inglip nie.

Dis eerder waar die nuwe Micra, Nissan se kleinste stadsmotortjie, gedy. Van sy vaal voorganger is daar geen teken nie. Die nuwe Micra is ’n moderne, aggressief gestileerde motortjie met ’n turbo-aangejaagde driesilinder-enjin wat direk met die Volkswagen Polo en Ford Fiesta meeding.

Die kombinasie van ’n gladde ratkas, gewillige enjintjie, stewige stuurgevoel en goeie vering beteken die Micra is baie meer pret om te bestuur as wat ’n mens sou verwag. Die binneruim spog met die jongste tegnologie soos Apple CarPlay wat jou slimfoon se apps op ’n 7 duim-raakskerm dupliseer.

In dié segment is die Polo steeds ons gunsteling, maar die Micra is vir die eerste keer ’n waardige mededinger. En nes met Mayer in die tienkamp, hoef Nissan nie noodwendige elke nommer te wen om as ’n kampioen gekroon te word nie.

/
/