In Fred se geval het hy besef hy het die verkeerde datum verskaf toe hy sy ryhuis vir 2018 se AfrikaBurn-fees bespreek het. Gelukkig het hy vier maande voor die tyd besef hy’t ’n fout gemaak. Hy het nog tyd gehad om ’n ander voertuig te kry vir einde April 2018.

Hy kon egter nie ’n gepaste een opspoor vir daardie tyd nie – en uiteindelik het hy besluit om een te koop en só seker te maak hy loop nie die fees in die Tankwa-Karoo mis nie.

 Dit kan ’n mens se planne lelik deurmekaar krap as jy jou reis haarfyn beplan het, maar dan uitvind jy het iets kleins misgekyk – iets wat die potensiaal het om die hele ervaring in die wiele te ry.

In Fred se geval het hy besef hy het die verkeerde datum verskaf toe hy sy ryhuis vir 2018 jaar se AfrikaBurn- fees bespreek het. Gelukkig het hy vier maande voor die tyd besef hy’t ’n fout gemaak. Hy het nog tyd gehad om ’n ander voertuig te kry vir einde April 2018. Hy kon egter nie ’n gepaste een opspoor vir daardie tyd nie – en uiteindelik het hy besluit om een te koop en só seker te maak hy loop nie die fees in die Tankwa-Karoo mis nie.

Fred het van die begin af geweet die Forward Control gaan geheel en al oorgebou moet word. Hy het ’n driedimensionele model op sy rekenaar gebou en die afmetings in die fynste detail vasgestel. Dit het die bouproses aansienlik vergemaklik.

Presies wat ek wil hê

Ek hou regtig nie daarvan om in ’n tent te slaap nie, en ek het gedink om vir my ’n lorrie te koop en my eie kampryhuis te bou. Ek sou hom ook agterna kon gebruik, want ek en my kinders is gaande oor die buitelewe, en veral wildtuine.

Ek het besluit om ’n ou weermaglorrie te soek, want hulle is gewoonlik onvernietigbaar. Ek het op die internet gesoek en in KwaZulu-Natal ’n 1974-model Land Rover Forward Control opgespoor. Ek het hom onmiddellik gekoop. Gelukkig het die kinders ook gedink die Landie is cool.

Ek het besluit om ’n ou weermaglorrie te soek, want hulle is gewoonlik onvernietigbaar.

Min het hulle geweet wat ek vir die volgende klompie maande beplan… Die vorige eienaar het klaar begin om die voertuig te verander in iets meer as ’n ryhuis, maar ek was van plan om die hele ding oor te bou.

Ek het hom heeltemal uitmekaargehaal, al die pad tot by die onderstel. Daarna het ek hom gemeet en rekenaarsagteware gebruik om ’n driedimensionele skets van die raam te teken. Ek wou elke moontlike stukkie ruimte ten volle benut.

Ek en die kinders het toe gesels oor wat elkeen van ons in die kamplorrie wou hê. Ons wou hê die finale produk moet soos ’n klein huis wees en ons moet binne 10 minute nadat ons gestop het, kan ontspan.

Ons het op dié lys met “moethê”-items ooreengekom:

1 ’n Krag- en waterstelsel waarmee ons selfvoorsienend kan wees.

2 ’n Koningingrootte bed vir my en ’n daktent vir die kinders.

3 ’n Volledig toegeruste kombuis.

4 ’n Volledig toegeruste badkamer.

5 ’n Wenas, want Ben het een in ’n videospeletjie gebruik en gedink die kamplorrie het ook een nodig.

Met ons doelstellings mooi agtermekaar was dit tyd om met ’n uitleg vorendag te kom waarin alles sou pas. Ek het besef die deur moet na die middel van die Forward Control se profiel skuif om vir alles plek te maak.

Dit was belangrik om die toerusting op skaal te teken in die 3D-model, want selfs ’n paar millimeter kon daartoe lei dat iets soos ons vrieskas nie inpas nie.

Met die meeste van die werk aan die buitekant (soos die panele en die verfwerk) afgehandel, het Fred sy aandag na die binneruim van die kamplorrie verskuif. Hy was obsessief oor die benutting van elke moontlike stukkie ruimte. Op die plekke waar hy nie ’n stukkie toerusting kon sit nie, het hy pakplek gemaak. Alles moes op die regte plek wees. En dit is dit.

Slim oplossings

Soos die ontwerpproses gevorder het, het ek al hoe meer toerusting begin byvoeg.

Ek het ’n effense obsessie begin ontwikkel om géén beskikbare ruimte te mors nie, ongeag hoe klein dit is. Die sitkamer in die agterkant is ontwerp om die bed te word deur die tafelblad te laat sak.

Ek het gereken ons sal in dié deel van die lorrie óf sit óf lê, en daarom kon ons die ruimte onder die sitplekke beter benut. Die oplossing was ’n glyraam met vier ammunisiekiste onder die sitplekke.

Ek moes ook kreatief raak met die deurkosyn, wat hol is aan die binnekant. Ek het besluit dit is nét die plek vir ons buitestort. Dit mag dalk oorbodig klink, maar ons wou ook graag ’n skottelgoedwasmasjien hê, net omdat daardie spesifieke huishoudelike taak my siel versondig.

Ons het ’n kleintjie opgespoor wat net 10 l water gebruik. Elke stukkie ruimte wat nie vir toerusting gebruik is nie, word vir pakplek ingespan.

Tyd vir moue oprol

Met die 3D-model wat klaar was, het ons begin met verstellings aan die bakwerk en binneruim.

Ek sal nooit die uitdrukking op my kinders se gesigte vergeet toe hulle sien ek het die dak heeltemal afgesny nie. Ek het die dak met 300 mm gelig, en omdat ek oorwegend aluminium sou gebruik, het ek gereken ek hoef nie bekommerd te wees dat die finale produk dalk topswaar gaan wees nie.

Selfs die kasrame is van aluminium en ek het hulle aan die struktuur vasgesweis sodat die besigheid stewig bly.

Die volgende stap was om die lorrie te isoleer. Ek het skuimpolistireen (expanded polystyrene), Sisalation en 5 mm-houtstrokies gebruik – en ondanks die lorrie se donkergrys buitekant is hy baie goed geïsoleer.

Die lugreëling sukkel nie om die binneruim koel te hou nie. Met my selfopgelegte spertyd wat nader kruip, het my vriend Charl Burger gehelp met die verfwerk en ander takies.

Ek het die kinders ook nader gehark om handjie by te sit. My dogter het gesê ons moet die regte spons vir die banke en bed kry, en ons het saam daarvoor gaan soek. Ek het elke sitplekkussing vooraf ontwerp en geweet hoe groot dit moes wees, selfs voor die raamwerk gebou was.

Hoewel ek net ’n bietjie tegniese kennis het, was die hele ontwerp- en bouproses relatief maklik. Ek moes egter ’n ander vriend, Charl Maritz, se hulp inroep vir die meganiese opgradering en diens van die enjin.

Ons het vir die Landie nuwe skyfremme, ’n opgegradeerde remversterker, nuwe dryfas en lugvering agter gegee. Met al dié items was Andre Mouton van die Leimer’s-onderdelewinkel baie hulpvaardig.

Die laaste afronding

Ons het uiteindelik heelwat geriefsitems in die binneruim ingekry, waaronder die 9 000 BTU-lugreëling, skottelgoedwasser, ysmasjien, mikrogolfoond, yskas en stoof.

Ons het ook ’n buitekombuis wat bestaan uit ’n tweeplaatgasstoof met ’n kraan. Die badkamer het ’n toilet, stort, wasbak en geiser – en die 180l- tenk sorg vir die water.

Buitelangs is ’n Ostrich Wing-stoeptent (2,7 m), ’n 12 000 pond-T-Max-wenas, opgegradeerde kopligte en vier LED-kolligte op die dak.

Die ontwerp van die kragstelsel was een van die moeilikste dinge om baas te raak. Die internet wemel van allerhande bemarkingsbrokkies oor sonpanele, omskakelaars en batterye, en dit was moeilik om deur al die dinge te sif om by die inligting uit te kom wat ek nodig gehad het.

Uiteindelik het ons besluit op twee 285 W-sonpanele, ses 102 Ah-batterye, ladingsbeheerder, ’n impulsbatterylaaier en 3 000 W-24 V-omskakelaar.

Ons kan die Landie dus by kampplekke met kragpunte inprop, maar ons is nie daarvan afhanklik nie. Ek het menige nag deurgewerk om die projek klaar te kry, en die eerste keer dat die Forward Control my werkswinkel verlaat het, was die dag voor ons na AfrikaBurn sou vertrek.

Dit was om sy uitlaatstelsel te laat aanbring en hom vir sy padwaardigheidstoets te neem.

Daar’s hy nou! Die eindproduk met al sy luukshede is amper onherkenbaar as jy dit vergelyk met die ou Forward Control wat Fred op die internet opgespoor het. Dit is soveel te meer indrukwekkend as jy in ag neem dat hy die hele projek in net minder as vier maande afgehandel het.

Die reis Tankwa toe het verbasend goed verloop as jy in ag neem ons kon die kamplorrie nie toets voor ons vertrek nie. Ons het egter nagelaat om die nuwe brandstoftenk skoon te maak voor ons hom geïnstalleer het, en daarom moes ek die brandstoffilter omtrent tien keer vervang terwyl ons op reis was.

Maar buiten dit het die lorrie sonder moeilikeid geloop, en sedertdien het ons verskeie kampreise na wildtuine onderneem.

My kinders is in die wolke met ons huis-op-wiele. Die kamplorrie het op die oomblik ’n 4,1 l-Chevrolet-enjin wat deur ’n 180 l-brandstoftenk gevoer word. Ek is egter besig om vir hom ’n Lexus-V8-enjin met ’n outomatiese ratkas in te sit. 

Ek kan nie wag om nie meer met die ratte te sukkel wanneer ons in los sand ry nie.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #11 (Junie 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Word deel van die Weg-wêreldTeken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook