Foto's Leon Botha

Die Kaapse wabouer Eko Veld Gear het dadelik die aandag getrek toe hy in 2015 tot die boswoonwamark toetree met sy Armadillo.

Met dié wa het die pa-en-seun-span Fanie en Riaan Botha met ’n hele paar vindingryke idees vorendag gekom.

Die dubbelbed, wat platslaan oor die A-raam, vou byvoorbeeld in die toe-posisie oor die rand van die opwipdak en keer dat dit per ongeluk lig terwyl ’n mens sleep.

Verder gebruik Fanie-hulle aluminium as basismateriaal vir die romp, wat beteken roes sal nooit vatplek kry nie. En dan kom hulle waens soos baie ander boswoonwaens in ’n bruin skakering, maar hulle gebruik ’n metaalverf, wat sorg vir ’n treffender voorkoms.

Nou het Fanie-hulle voortgebou op die Armadillo se sukses en ’n tweede model, die Armadillo Shack, die lig laat sien. Met die eerste oogopslag lyk die Shack soos ’n kloon van die Armadillo, maar hy is aansienlik anders én hy spog met ’n hele klomp nuwighede.

Sy romp is net so groot, maar sy uitslaanbed skuif na binne en die deur aan die agterkant is na die kant toe geskuif.

Dit maak die Shack kompakter en nét die boswoonwa vir paartjies wat die Afrikabos wil invaar. 

Op in ’n kits

Omdat die Armadillo Shack nie ’n uitvoubed het nie, is die wa so te sê slaapgereed wanneer jy hom in die kampplek afhaak. Laat sak net die hoekstutte, lig die dak en prop die elektriese koord by die naaste kragpunt in. Binne vyf minute kan jy op jou kampstoel agteroor sit en die tyd weg van die huis af geniet.

Op elke agterhoek is ’n Burquip-hoekstut, die afswaaisoort wat in een beweging uitvou. ’n Mens trek net aan die blou handvatsel waar die stut teen die romp vasgesit is en draai die bout by die handvatsel met ’n slinger om die voetjie die laaste entjie uit te stoot.

’n Los hoekstut pas ook op die A-raam digby die neuswiel as jy die Shack selfs stewiger wil laat staan.

Anders as met die Armadillo waar die opwipdak soos dié van ’n konvensionele woonwa lig, word die Shack s’n net aan die voorkant gelig. Twee knippe, van die soort met ’n ingeboude veiligheidsknippie, sit op die hoeke van die romp. Jy moet dit eers losknip voor jy inklim om die dak te lig (die deur is links voor). Die dak lig maklik en só hoog dat dit heeltemal uit die pad is wanneer jy in die deur staan.

Aan die voorkant van die dak se seilgedeelte is ’n groot venster met ’n seilafdakkie wat daaroor span. Twee veerbelaaide staallatte word neffens die dakknippies ingedruk om die seildakkie te span om die son en reën uit te hou.

Aan die koskant

Soos gebruiklik by boswoonwaens is al die kombuiskaste in die linkerpaneel ingebou. Maar in die geval van die Shack is dit sonder ’n kas met ’n ys-vrieskas wat uit die wa trek. Dié staan binne die wa links teen die neusgedeelte van die romp. Dis dus effens weg van die kombuis af, maar gerieflik as jy iets kouds nodig kry nadat jy ingekruip het.

Die kombuis is regs van die deur en het twee kaste. Die blad van die naaste een – bo die wiel – slaan plat om ’n werkblad te word. Die blad (103 x 62 cm) is van vlekvrye staal en het nie rande nie; dus vee jy maklik krummels op.

In die romp agter die blad is verskeie groottes oop rakkies wat met mat uitgevoer is. Hier is oorgenoeg pakplek – van plek vir al die eetgerei tot houers vir die kruideniersware. Die een rak regs onder is selfs diep genoeg sodat ’n paar bottels wyn regop staan. ’n Dubbele driepuntsok (220 V) is heel links in die kas en byderhand vir ’n ketel of broodrooster.

Die kasdeur heel regs slaan nie plat nie, maar maak na die kant toe oop. Agter die deur is nog ’n paar rakkies wat met mat uitgevoer is.

Die lig bo teen die romp van die Shack is van die LED-soort en werk nie soos gewoonlik met ’n skuifskakelaartjie wat deel daarvan is nie; dié een het ’n raaksensitiewe knoppie én jy kan hom teen verskillende sterktes laat skyn.

Die wenner is die stoof wat aan die binnekant van die deur vasgesit is. Die deur swaai haaks met die romp en die stoofblad slaan dan plat na jou toe.

Die gasstoof is regs op die blad vasgesit. Hierdie is een van die mees praktiese planne as dit kom by ’n boswoonwa en die plek waar die gasstoof gemonteer word.

Heelwat vervaardigers sit die stoof op die werkblad vas, maar dan verloor ’n mens van die waardevolle kosmaakplek. Met die stoof weggeskuif het jy nie net meer plek nie; die deur agter die stoof dien terselfdertyd as ’n windskerm.

’n Deel van die blad links van die stoof is oop sodat jy jou kosmaakgoed daar kan neersit. ’n Los paaltjie druk onder die stoofblad in en stut die blad teen die romp om dit stewig te hou terwyl jy die braaisous roer.

Die stoof is nie aan die gasbottel gekoppel nie en jy moet een van die gasbottels (op ’n rak aan die agterkant van die wa) nader dra.

As jy nóg pakplek in die kombuis soek, sluit Fanie-hulle ’n los aluminiumopvoutafel in. Dié se bêreplek is in ’n rakkie agter die neuskas waar hy op sy sy inpas. Die tafel is taamlik smal (120 x 47 cm), maar ’n gawe plek om die borde uit te pak vir opskep.

Vir die skottelgoedwasbakke haak ’n los staalraam links van die deur in – lekker uit die pad van die kombuis. 

Die agterstewe

Neffens die twee gasbottelhouers regs agter maak ’n ekstrasmal deur links bo oop waaruit die storthokkie slaan. Dis soortgelyk aan die een wat Fanie-hulle op die oorspronklike model gebruik.

Die noodwiel is ook agter en op ’n raam onder die romp vasgesit; dis netjies tussen die twee hoekstutte waar jy dit maklik kan bykom.

Die Shack se jerrykan pas in sy houer net onder die gasbottels en staan nie regop soos ’n mens gewoond is nie, maar op sy sy.

Om die hoek, voor in die regterpaneel agter die neuskas, is die inlyn-gasgeiser in die kasdeur vasgesit. Dra die tweede gasbottel tot hier en jy is gereed om onder warm stortwater in te spring.

Voor in die koor

Die neuskas is bloot ’n vierkantige boks van aluminiumriffelplaat met ’n deurtjie aan weerskante.

Die kas het nie rakke binne nie; dis een oop ruimte met plek vir dinge soos ’n grondseil of die los hoekstut, die wasbakraam en dié se los waterpyp en skottels.

Die bokant van die neuskas is ook ’n oop rak waarop ’n sakkie of drie braaihout kan pas.

Verder is dit ’n gemaklike staanplek as jy die knippe aan die bokant van die opwipdak wil bykom.

’n Beskermseil span om die neuskas sodat opskietklippies nie die wa se voorkant verrinneweer nie.

Dit bestaan uit twee dele wat in die middel van die kas met ’n strook klitsrits gelas word.

Slaapkamersake

Die bed strek van die deur se regterkosyn tot teen die agterkant van die wa. Dis 216 x 147 cm groot – net groter as ’n standaard-koningingrootte bed – en lê tot teenaan die linker- en regterpaneel. Regs teen die bed en by die koppenent is smal kassies vir klere, en hier is twee byderwetse bedliggies bo jou kop wanneer jy lê. Hierdie LED-liggies het nie skakelaars soos wat ’n mens gewoond is nie, maar werk met ’n afstandbeheerde skakelaar – in die ongeveer 120 woonwatoetse wat ons al die afgelope dekade gedoen het, is hierdie ’n eerste. Nie net kan jy by die deur staan en die liggies aanskakel nie, maar die afstandbeheer kan selfs die liggies se skynsterkte verstel. Nóú is jy die kat se snor.

Nog ’n deur slaan links van die bed na buite op. Dis die “venster” en dieselfde wat Fanie-hulle op die oorspronklike Armadillo gebruik. Dit het nie ’n deursigtige paneel soos glas of Perspex nie, maar net ’n gaasnet. En dit kan wegrits as jy nóg nader aan die natuur wil slaap.

Die middelste deel van die bed slaan op om ’n klein tafel te vorm – en ’n mens kan weerskante van die blad sit. Dis 78 x 49 cm en ’n uitweg as ’n mens nie omgee om jou bed prys te gee as jy nie buite kan sit en eet nie. ’n Afdak span wel oor die kombuisgedeelte as jy die elemente wil keer.

’n Regop kas met vier rakke in die wa staan direk links van die deur. Een seildeur rits voor die kaste toe – hier is onder meer plek vir ’n mikrogolfoond op een van die rakke. In die onderste kas is ’n dubbele 220 V-sok.

Die ys-vrieskas staan langs die kas in die middel van die vloer teenaan die neusgedeelte van die Shack, en die kragboks is teen die regterpaneel vasgesit. Dit sluit al die stroombrekers, batterylaaier en nog ’n 220 V- dubbelsok in. ’n Kleiner kas is regs van die kragboks, en op kniehoogte langs die kas is ’n paar 12 V-sokke. Hier is ook ’n USB-sok.

Die tegniese goed

Lengte 4,86 m

Breedte 1,8 m

Hoogte 2,06 m

Nokhoogte binne-in 2,4 m

Neusgewig 42 kg (standaard, voor ’n mens laai)

Netto gewig 1 060 kg (sluit alle standaardtoerusting in)

Dravermoë 740 kg BVM 1 800 kg

Prys Vanaf R235 000

Plus  

  • Die stoof staan op sy eie blad en skep ruimte in die kombuis.  
  • Die stoof is goed beskut teen wind.  
  • Die noodwiel is uit die pad, maar steeds maklik om by te kom.  
  • Die afstandbeheerde koppenentliggies is ’n luukse.  
  • Die venster met sy gaasbinnekant is uniek en ’n wenner.

Minus  

  • Die ys-vrieskas is effens ver van die kombuis af, maar wel gerieflik vir binne.  
  • Die beskermseil om die neuskas is in die pad van die kasdeure as jy iets vinnig daarbinne nodig kry. 
  • Hou die ligte neusgewig in gedagte wanneer jy pak – pak die swaar goed voor.

Weg Ry & Sleep sê Die afleweringstyd vir ’n Armadillo Shack is 6-8 weke. Weg Ry & Sleep het die Armadillo Shack by die vervaardiger geleen.