Foto’s Leon Botha

Isuzu Suid-Afrika is 11 maande jonk. Dis reg, die maatskappy soos jy hom nou ken, is op 1 Januarie vanjaar gestig nadat General Motors uit Suid-Afrika padgegee het.

Ons is uiteraard lankal vertroud met Isuzu se produkte. Die eerste Isuzu-vragmotor het in 1964 hier verskyn en die KB-bakkie is in 1979 plaaslik bekend gestel. Die naam KB is aan Isuzu-bakkies gegee wat tussen 1972 en 2002 buite Japan verkoop is.

Dié naam is in 2002 wêreldwyd verander na D-Max, maar Suid-Afrika het aangeboer met KB tot die besluit vanjaar om dit op te dateer. Ter viering van die nuwe D-Max het ons met Isuzu SA saamgespan om ’n spesiale weergawe te skep, een waarmee ons stories kan insamel, 4x4-roetes kan verken en boswaens kan sleep.

Ons het ’n 4x4-bybehore-wenslys – gegrond op die voorkeure van Weg Ry & Sleep se lesers – aan Isuzu gestuur en hulle het dié bakgat ryding vir ons gebou.

AFDAK. Die kappie se dakrak is gesplete en die twee halwes kan uitgly en afslaan tot oor die kante van die kappie.

Wat het ons hier?

Die D-Max het nie bloot ’n naamsverandering ondergaan nie. Daar is splinternuwe modelle om van te kies, soos een sonder ’n laaibak (Chassis cab), een met ’n laaibak wat syklappe het (Dropside), en dan die gebruiklike enkelkajuit, kajuit-en-’n-half (Extended Cab) en dubbelkajuit. Die 3.0 LX-model het die grootste ontrimpeling ondergaan.

Hý kry ’n nuwe sierrooster, nuwe LED-ligte en ’n sleepstang standaard. Die belangrikste van alles is egter dat hy nou met ’n verbeterde 6 spoed- outomatiese ratkas en 6 spoed-handratkas spog.

Die 2 999 cc-viersilinder-turbodiesel word behou, maar hy voldoen nou aan Euro 4-teenbesoedelingswetgewing.

Isuzu het ook die kentekens rondgeskuif: die modelreeks word nou langs die voorste wielboog aangedui eerder as op die agterklap en die D Teq-kenteken is weggedoen.

Die 3.0 LX-model kry welkome elektroniese hulpmiddels soos sleepwaswaaibeheer en ’n slim funksie wat na die rempedaal luister en die versnellerpedaal ignoreer as jy in ’n blinde paniek per ongeluk albei pedale raaktrap.

Binnelangs is die verskille selfs nóg meer opvallend. Die gestoffeerde deurpanele voel sag soos spons wanneer jy daaraan raak, en die harde panele op die instrumentasiepanele is klavier-swart met chroomstrokies.

Drie instrumentepanele is beskikbaar en wissel tussen basies, tussenin en ruimte-eeus, afhangend van watter model jy kies. Die 3.0 LX se 8”-raakskerm is slim verby met Apple Carplay, Android Auto, satellietnavigasie plus USB-, HDMI- en Aux-sokke.

Jy kan selfs die luidsprekers se klank in die kajuit rondstuur sodat dit fokus op die agterste passasiers, almal of slegs die bestuurder.

Hoe ry hy?

Ons toetsvoertuig se vering en bande is vervang, en daarom ry hy nie soos ’n standaard-D-Max nie. Ons sal wel in ’n volgende uitgawe ons ry-indrukke van ’n gewone D-Max deel.

Die sesgang- outomatiese ratkas van ons D-Max wissel vroeër as in die KB, en teen hoër snelhede wens jy nie meer jy het ’n ekstra rat nie. Die enjin is steeds raserig, veral vroeg in die oggend, maar dit dra by tot die D-Max se karakter eerder as wat dit enigsins afbreuk doen.

Dít is die soort betroubaarheid wat ons wou hê om al daardie roetes aan te durf wat nog roep.

Beplan Isuzu SA om aan die kragoorlog tussen Mercedes-Benz, Volkswagen en Ford deel te neem? “Beslis nie,” verklaar Dominic Rimmer, Isuzu se hoof van tegniese dienste. “Ons bou bakkies wat betroubaar en langlewend is. Laat die ander maar voortgaan met die kragoorlog. Ons sal sien wie se bakkie kan reg oor Afrika werk op brandstof van swak gehalte.”

Dominic verwys hier na die 2000-model Isuzu 280 D-TEQ 4x4 van Fanie Olivier van KwaZulu-Natal, wat die Living Legend-kompetisie gewen het. Fanie se KB het oral oor Afrika en Europa gery en ’n halfmiljoen kilometer op die klok gesit. Fanie moes soms tuisgemaakte diesel (eintlik maar verrykte kookolie) in sy KB se tenk gooi toe hy nie ander brandstof in die hande kon kry nie.

Dít is die soort betroubaarheid wat ons wou hê om al daardie roetes aan te durf wat nog roep.

D-MAX (NÉE KB). Ons het Isuzu gevra om die treeplanke te los en eerder glystawe aan te bring, en toe kry ons die beste van albei.

Bybehore

Isuzu het 4x4 Megaworld genader en die volgende bybehore laat aanbring:

  • ’n ARB-bosbreker,
  • T-Max-12 500-wenas,
  • IPF Sport XS-kolligte,
  • Desert Armour-onderstelbeskerming,
  • Old Man Emo-vering,
  • ’n snorkel,
  • Desert Armour-glystawe
  • en ’n Front Runner-dakrat met ’n T-Max 48”-hoogligdomkrag.

Op die laaibak is ’n RSI-kappie met ’n RSI Smartrack-stelsel, sandplanke, LED-dakliggies, ’n Front Runner-laaistelsel, ARB-kompressor, Desert Products-dubbelbatterystelsel, ’n Engel-ys-vrieskas op ’n Desert Armour-glyraam, ’n piekniektafel, brandblusser, diefwering en ’n kombuis met eetgerei én ’n gasstoof.

Agterlangs is ’n Desert Armour-staalbuffer en onderlangs ’n 60 l-brandstoftenk wat die standaard-80 l-tenk aanvul (wat ons ’n teoretiese reikafstand van 1 200 km gee). Die D-Max is geskoei in General Grabber AT 255/60 R18-bande.

Wat meer kan ’n mens vra? Dalk ’n paar koues in daai yskas...

KOSTROKKIE. Die kombuis het ’n gasstoof, broodplank en al die messegoed wat jy nodig het – selfs ’n eierspaan.

Slotsom

Ons D-Max is nie volmaak nie. Hy bestuur soos ’n skip ter see, maar die vae stuuraksie is ’n goeie ding op tegniese terrein waar jy nie wil hê ’n stuurwiel moet terugskop nie.

Sy remme voel ook nie vlymskerp nie, juis omdat ons D-Max so swaar toegerus is met al die buitelewekatoeters. Hy kom wel vinniger tot stilstand as jy die pedaal dieper wegtrap.

Ons het ACVVSCER0J4008226 (sy VIN) se wording gevolg van die begin tot die aflewering. Ons kon selfs sy kleur kies, maar weke later kan ons wraggies nóg nie op sy bynaam besluit nie – dalk moet hy dit eers verdien. (My voorstel van “Samurai Schalk” het nie veel aftrek gekry onder my kollegas nie. – Red.)

Oor die volgende jaar gaan jy heelwat van hom te sien kry, want ons beplan om die wêreld met hom plat te ry. Sien jou op die pad – en in die kampterrein!

SPESIFIKASIES

Model 3.0 LX 4x4

Enjin 2 999 cc, viersilinder-turbodiesel

Krag 130 kW @ 3 600 r.p.m.

Wringkrag 380 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-outomaties

Brandstofverbruik 12,5 l/100 km (8,5 km/l)

Tenk 80 l + 60 l

Nader- en vertrekhoek 30,0° en 22,7°

Waaddiepte 600 mm

Grondvryhoogte 220 mm

Waarborg 5 jaar/120 000 km

Diensplan 5 jaar/90 000 km

Prys (standaard) R594 500