Foto’s Leon Botha

Jurgens Ci het ’n jaar of wat gelede nuwe asem geblaas in albei sy boswoonwaens, die Xplorer en Xcape. Die houtkasdeure is onder meer met toeritsseilflappe vervang en die buitedeurtjies het dubbelseëls gekry om water en stof buite te hou.

Die Xcape het die grootste gedaanteverwisseling ondergaan met drie hoofaspekte wat aandag gekry het: Die ys-vrieskas skuif van binne na buite; die opwipdak lig nou parallel met die vloer pleks van net aan die een kant; en die uitslaanbed slaan plat uit die romp, maar die punt van die bed trek uit om ’n reuselêplek te vorm.

Ons haak die Xcape en toets hom oor 3 000 km, van Kaapstad tot die klipperige agterpaaie van die Wildekus en terug.

Links en regs

Soos met die meeste boswoonwaens is die kombuis links, maar met die uitslaanbed wat uit die regterpaneel platslaan en nié oor die A-raam oopmaak nie.

Wanneer jy opslaan, moet jy die hoekstutte eers uitdraai, die bed platslaan en dán die opwipdak lig.

Net soos met die vorige model (en die Xplorer) gebruik Jurgens drie los hoekstutte.

Hulle bêreplek is bo die A-raam waar dit teen die romp vasskroef. Hierdie stutte lyk soos ’n domkrag met ’n slinger aan die bokant. Soos jy die slinger draai, lig ’n arm aan die kant van die hoekstut. Die stutte het elk ook ’n los voetjie, en dié bêre jy net onder die stutte.

Die stutte se arm pas elk in ’n vierkantige buis in die romp van die wa. Twee van hulle pas agter op die hoeke en die derde een voor, regoor die neuswiel. 

Bou die bed

’n Langwerpige tentsak hang in die lengte bo teen die regterpaneel met die bed wat onder dit uitslaan.

Die uitslaandak – wat opgevou in die tentsak is, slaan oop oor die bedgedeelte om die son en reën weg te keer van die kooi af. As jy die dak wil uitslaan, moet jy dit doen voor jy die bed gereed kry, anders kom jy nie by nie.

Die seildak het ’n aluminiumbalk op die punt en staan op verstelbare tentpale wat ’n mens met toue anker. Nóg twee pale – ook verstelbaar, swaai aan die kant van die balk uit en verleng tot teen die romp. Hierdie pale span die seil netjies en keer dat ’n dam op die dak vorm ná ’n reënbui.

Die bedblad is 83 cm breed en hang aan vier kabeltjies wanneer jy dit platslaan. Die kabeltjies is aan die binnekant van die romp vasgebout.

Bo-op die platgeslaande blad is ’n tweede blad – dié rus op twee glyraamspore en trek soos ’n laai 62 cm na jou toe uit om ’n bed ’n raps groter as ’n koninggrootte bed te maak. Vier verstelbare tentpale pas onder die bedbasis in om dit verder te stut.

Die soom van die tent wat oor die bed span, trek oor die rand daarvan en trek met ’n rek vas wat in die soom is.

Dis genoeg om die goggas uit te hou, maar daar is tog ’n smal gaping waar die twee blaaie las – ’n plek waar ’n lastige muskiet kan in. (Om die dak oor die bed verder te span klim jy in die wa).

Twee ewe groot kaste is regs van die uitslaanbed en bo mekaar. Dis gawe pakplek vir die grondseil, ’n skotteltjie of groot potte. Die battery staan in die onderste kas en neem omtrent die helfte van die ruimte op.

’n Handstort is agter ’n kleiner deksel bo die twee kaste en het ’n verlengstuk as jy die Xcape se los storttent saamry (die storttent kom standaard saam met die Xcape).

Lig die hoed

Die opwipdak knip buite bo-op elke hoek met ’n trekknip los. Vir ’n sesvoetmens kan die knippe net-net te hoog wees om by te kom. Voor jy jou skouer uit sy potjie trek soos jy strek, klim op die pypraam wat van die wiele af vorentoe tot by die A-raam strek.

Dis die wa se bosbreker en stewig genoeg om jou gewig te dra. Ongelukkig is daar nie een aan die agterkant nie. Jy sal dus ’n drietrapleertjie moet saamry om dié knippe by te kom.

Jurgens Ci gebruik al etlike jare H-dakstutte om die opwipdak van binne te sluit en ook bo te hou wanneer jy die dak lig. Hulle het dit weggedoen en gebruik nou ’n buitenste skêrmeganisme en vier gasstutte.

Die dak lig verspotmaklik as jy dit ’n druk gee van binne af, en slaan net so maklik plat – selfs vir een mens. Die Xcape se opwipdak lig ’n goeie 56 cm – hoër as die meeste waens s’n. 

Hier’s jou lêplek

Die bed se matras vou in drie en slaan uiteraard oor die bedblad uit.

Die blad se verste kant – die uittrekgedeelte – is smaller as die binneste deel (175 cm en 204 cm). ’n U-raam slaan op by die punt van die bed om die seil bo die bed te span.

Die ys-vrieskas skuif van binne na buite en die opwipdak lig nou parallel met die vloer pleks van net aan die een kant.

’n Verstelbare tentpaal pas op elk van die hoeke wat teen die romp van die wa vasdruk om die seil te span. Dié dak oor die bed is laag (55 cm) en ’n mens kan nie regop op die bed sit nie.

As jy dus maklik benoud raak in ’n beknopte ruimte, kan die lae dak dalk pla. As ’n reël klim ’n mens kop eerste in op dié soort bed, maar in hierdie geval is dit beter om met jou kop na die binnekant van die wa te slaap.

Vir ouer en groter mense kan dit ongerieflik wees, want jy moet op die bed klim en jou voete verbyswaai sodat jy jou lê kan kry.

Aan die kosmaakkant

Die kombuis is agter twee groot deure wat soos skuurdeure oopslaan. Die een blad maak oop na jou toe: die werkblad. Die boonste deur slaan op en maak ’n dakkie oor die onderste blad.

’n Los stutpaaltjie heel regs pas tussen die romp en die deurtjie in om dit oop te hou.

Die kombuislig is in die middel van die boonste deur vasgesit. Dis ’n LED-lig wat oor die werkblad skyn. Die blad is groot genoeg (136 x 50 cm) sodat twee mense kan kosmaak, en net soos met die bed stut ’n verstelbare tentpaal die blad op elke hoek.

Die tweeplaatgasstoof trek heel regs uit die romp oor die blad. Dis nie aan die gasbottel gekoppel nie, en jy moet een van die bottels wat op die A-raam staan, nader dra.

Die deur van die wa maak oop tot by die gasstoof en vorm ’n toevallige windskerm. Buiten dat die stoof omtrent ’n derde van die werkblad beslaan, is dit nogal lastig om elke keer die gasstoof te ontkoppel as jy byvoorbeeld die kombuisdeure vir pestilensies soos blouape moet toemaak.

Agter die stoof is plek ingeruim waar speserybotteltjies op hulle sy kan lê, en die rakke bo dit is ’n gawe plek vir vrugte, beskuit, die suikerpot en malvalekkers. Jy pak jou wynbottels in die boonste rak waar dit in sponsrubber met holtes pas.

Links van die gasstoof is ’n kraan waarvan die tuit tot oor die blad kan swaai – hier kan jy ’n los skotteltjie voltap. Vir die groter kruidenierswarehouers is daar plek in die drie groter rakke links agter die blad.

Die koppies-en-bordelaai trek in die middel hiervan uit. Bêre die oorskietkos op die boonste rakkie, want die agterkant is ’n seildeurtjie wat jy van binne kan wegrits as jy laatnag aan iets moet peusel.

Onder in dié kantse kas – langs die kraan – is ’n multiprop met plek vir drie proppe. Die ys-vrieskas is, soos in dié geval, ’n SnoMaster wat links van die blad uit die romp trek. Die vrieskas se deure slaan na links oop – uit die pad wanneer jy iets uithaal. Maar só sit die vrieskas se digitale paneel op die punt aan die romp se kant waar ’n mens dit nie kan lees nie.

Net soos die dakkie oor die bed het die kombuis ’n soortgelyke dak wat as stoepdak dien.

In die binnekamer

Die kant van die bed binne strek oor die volle lengte van die wa – van die stert tot teen die neus.

Op sy beurt is dié kant ’n praktiese 56 cm breë bankie. Dit het deurtjies onder die matras waar ’n mens items wat jy nie dadelik nodig het nie, kan wegpak – van ekstra blikkieskos en leesboeke tot die nooddriehoeke en wielmoersleutel.

Soos jy op die bedbankie sit, is die kaste met die grootste ruimte dié regs teen die muur by die A-raam.

Hierdie kaste is selfs diep genoeg vir ’n winterduvet of spaarkussings.

Die smuktafeltjie is links van dié kaste in die hoek met ’n klein muurspieël agter dit. As jy op die bed sit, moet jy effens vorentoe buk om jou gesig hierin te sien.

Hier is ’n 220 V-prop links van die blad (nog ’n prop is links van die bankie en een bo die matras by die koppenent.) Voor die bankie is ’n regop kas met ’n paar rakke – net die plek vir ekstra klere, handdoeke en linne.

Die agtermuur is jou klerekas. Dis een groot ingeboude kas met meer as genoeg pakplek vir twee mense se klere.

Ligte in die wa is skaars. Hier is net een in die middel van die opwipdak. As jy dus reeds ingekruip het, kan jy dit nie bykom nie. Die lig het ’n helder witligverstelling en skyn ook ’n beskeie blou kleur as jy nie in die bui is vir ’n spreilig nie.

Die kragboks se paneel sit by die trappie van die deur en bo dit is ’n rits seilsakkies vir kleiner items soos sonbrandroom en die vuurhoutjies.

Die tegniese goed

Lengte 4,67 m

Breedte 1,85 m

Hoogte 2,18 m

Nokhoogte binne-in 2 m

Nettogewig 1 174 kg

Dravermoë 226 kg

BVM 1 400 kg

Prys R313 900

PLUS

  • Die uitglybed is ’n nuwigheid.
  • Die opwipdak lig en sak maklik.
  • Meer as genoeg 220 V-kragpunte binne die wa.
  • Vir meer pakplek in die wa kan jy nie vra nie.
  • Die twee dakke oor die bed en kombuis slaan maklik op en af.

MINUS

  • Die tent oor die bed is nie oral insekdig nie.
  • Die dak is laag en jy kan nie regop op die bed sit nie.
  • Een lig in die wa is onvoldoende.
  • Dit lol om die gasbottel elke keer te ontkoppel wanneer jy die kombuis toemaak.
  • ’n Mens kan nie die ys-vrieskas se digitale skerm lees nie.

Weg Ry & Sleep sê Die nuwe Jurgens Safari Xcape is ’n groot verbetering op die vorige model, en al is die bed heelwat groter, kan dit te benoud wees vir party mense.

Weg Ry & Sleep het die Xcape by die vervaardigers geleen.

Handelaarsnetwerk

Hoofkantoor in GaRankuwa, 29 handelaars landwyd, (Namibië ingesluit)

Kontak  012 797 730o; info@jurgens-ci.co.za, campworld.co.za

Sedert ons die wa getoets het, het Jurgens Ci hier en daar een of twee veranderinge aangebring. Een daarvan is dat die stoepdak
nie meer ’n nok het nie – dit is nou ’n plat dak.